BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag, 26 Augustus 2013

BLOMMELAND BLITSBESOEK

- vinnig, vrugbaar en verrykend.



Soms moet mens maar sommer net oë toeknyp en iets mals aanvang, soos in ‘n mini avontuurtjie. Ek het tans langverlof en het besluit om gou vir my oudste dogter Marisja die blomme in Namakwaland te gaan wys. Ekself het dit tot dusver ook nog maar net op prentjies gesien. As kinders het ons ‘n hele paar keer op die N7 na ons familie in die Kaap provinsie gegaan, maar dit het gedurende Desembermaande gebeur en dan is Namakwaland ‘n dorre bakoond waar mens liewers so min tyd as moontlik wil mors op pad see toe.

Ek en Marisja het in ‘n klein igloe tentjie gekamp en redelik Spartaans oor die weg gekom. As ons vooraf rêrig besef het hoe koud en nat dit hierdie tyd van die jaar in die blommestreke kan word, sou ons seker twee keer gedink het. Maar goed dit was op die ou end net drie aande in Suid-Afrika soos ons met ‘n byna blitzkrieg die pragtige blomme wêreld “verower” het. Of is dit dalk nou ons wat verower is? Inderdaad is hierdie kleurespel van verskeidenheid hartsverowerend en maar net weereens ‘n bevestiging van wat ons in Romeine 1 vertel word. God se onsigbare eienskappe soos sy ewigdurende krag en Godwees is duidelik sigbaar in sy skeppingswerke! (Romeine 1:18ev) Dit het natuurlik die implikasie dat geen mens eendag ‘n verskoning sal kan hê hoekom hy nie God as God gedank en aanbid het nie! Die dwase sondeverduisterde mens het egter geen begrip van wat die skeppingswerk (soos die blomme) vir ons wil vertel nie, en aanbid gevolglik die skepsels in plaas van die Skepper. Dit wek uiteraard God se toorn en het verskriklike gevolge...

Nie net verkondig die blomme God se heerlikheid nie, maar ons was ook bevoorreg om in die medemenslikheid van ander iets van Sy sorg en liefde te ervaar. By Kamieskroon het ons kennis gemaak met Peet en Elsa Kruger (oud Namibiërs) wat vir ons werklik goed was en mens ook van waardevolle raad bedien betreffende die beste plekke om blomme te kan sien. As jy in daardie omgewing kom, kan jy gerus hulle koffiewinkeltjie, KUIERVREUGDE gaan opsoek. Dit het ‘n heerlike Afrikaanse en Christelike atmosfeer!

‘n Ander “engel” wat die Here oor ons pad gestuur het (of was ons dalk die gaste wat eintlik engele was? – net ‘n grappie), was Joey Warrington van die WAPAD GASTEHUIS van Nieuwoudtville. Ons het nie enigsins vooraf plek bespreek nie en moes toe uitvind dat alle kampeerplekke beset was. Joey het toe goedgunstiglik toegestem dat ons ons tentjie by haar gastehuis kon opslaan (kosteloos). Dit was ‘n wonderlike uitkoms in hierdie yskoue Nieuwoudtville van die Bokkeveld, want hierdie “bolplant hoofstad” van die wêreld, sou net sowel ook as toevlugsoord vir ysbere beskryf kon word! Joey se vriendelikheid (en warm stort) het ons gered. Nieuwoudtville, saam met Joey se opregte gasvryheid was beslis een van die grootste verrassings op die “trippie”, want die hoogteligging van hierdie streek, maak dat dit radikaal verskil van die dorre aard van die naburige Vanrhynsdorp en Knersvlakte. Byna ‘n weggesteekte Alice se wonderwêreld!

Dit was alles baie vinnig (ons het selfs ook ‘n draai in die Sederberg en die weskus gemaak), maar tog vrugbaar en die moeite werd!

In God se skepping!
















Peet doenig in KUIERVREUGDE








By Lambertsbaai










Langs die Sishen-Saldanha spoorlynpad












Doringbaai










WAPAD GUESTHOUSE
     .... in mis gehul











Waterval, 7 km van Nieuwoudtville








 My ou "Lente blommetjie" (Marisja Lente) tussen die blomme



  
 Helder geel Katsterte

Terug oor die Oranje in ons land! (naby Noordoewer)

Vrydag, 09 Augustus 2013

KRAG OF ONSIN?

die kruisvraag wat alle mense in twee groepe verdeel.
In 1 Korintiërs 1:18 maak die apostel Paulus ‘n formidabele uitspraak. Dit het aardskuddende gevolge, ewigheidskonsekwensies!  “Die boodskap van die kruis van Christus is wel onsin vir dié wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God.” Dis baie duidelik uit hierdie teks: Daar bestaan wesentlik net twee groepe mense. Nét twee groepe. Geen middelgroep nie. Dié wat verlore gaan en dié wat gered word. Die wat verlore is, is  slawe van sonde en satan. Die wat gered is, is mense wat verlos is van sonde, satan, oordeel en hel. Verlorenes sal vir ewige weg wees van die aangesig van God, uitgewerp in die buitenste duisternis. Die gereddes sal vir ewig by God wees en die warmte van sy liefde voel en die glans van sy majesteit aanskou.
Baie interessant, die verskil tussen die twee groepe word hier gedefinieer in in terme van hulle uiteenlopende houdings ten opsigte van die kruisboodskap. Anders gesê: jou houding teenoor die kruisboodskap bepaal of jy ‘n verlorene of ‘n gereddene is.  Die vraag wat elkeen van ons moet antwoord is : “Wat maak ek met die krusboodskap?”
Net kortliks, wat is die kruisboodskap? So baie mense kan aframmel :”Jesus het vir ons sondes aan die kruis gesterf” maar hulle het nie die vaagste benul wat dit beteken nie. Dit maak hulle daarom ook nie juis opgewonde nie, dit bring ook nie vir hulle vrede nie. Dit maak geen praktiese verskil in hulle lewens nie.
Die kruisboodskap is die evangelie. Dis die goeie nuus. Dit was Paulus se ekslusiewe boodskap. Dis waarop hy gefokus het. (1 Korintiërs 2:2) Die kruisboodskap gaan daaroor dat Jesus die regverdige straf van God oor sondaars op Homself geneem het.  Anders gesê, Jesus het die boete vir my sonde in my plek klaar betaal.  Sy opstanding uit die dood was natuurlik die klinklare bewys dat God hierdie boetebetaling aanvaar het. As ek waarlik in Jesus glo, dan beteken dit dat God my nie meer straf nie, maar my vryspreek en niks meer teen my hou nie. Hierdie waarheid kry ons al in die Ou Testament in die bekende Jesaja 53. Let op na vers 5,6 : “Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom. Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die HERE het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.” Ja, sy straf wat Hy ondergaan het, bevry my en  bring gewetensrus en vrede!  In die Nuwe Testament hoor ons hierdie duidelike boodskap op baie plekke soos byvoorbeeld in 2 Korintiërs 5:21 wat sê : “Christus was sonder sonde, maar God het Hom in ons plek as sondaar behandel sodat ons, deur ons eenheid met Christus, deur God vrygespreek kan wees.”
Hierdie boodskap is onsin, snert, “nonsense” vir die mense wat verlore gaan. Hoekom dink hulle so?

 ~ Sommige verwerp die kruisboodskap met toenemende aggressie outyds en barbaars.“Waarom vertel die kerk aan ons so ‘n bloederige storie? Was dit nou regtig nodig dat God Sy Seun moes laat sterf? Waarom nie ‘n algemene amnestie, ‘n kwytskelding van sonde en daarmee afgehandel nie? Kon die almagtige God geen ander manier vind om sondaars te begenadig nie?” Postmoderne mense vind die kruis afstootlik; dis volgens hulle primitiewe barbaarse denke om jou Seun te laat doodmartel.  Hierdie reaksie is natuurlik glad nie so  nuut nie. Reeds in Paulus se tyd was daar mense wat hierdie boodskap afstootlik en onsinnig gevind het. “Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ‘n aanstoot en vir die ander is dit onsin” (1:23)
~ Dan is daar diegene wat ‘n soort van respek en bewondering vir Jesus het as goeie mens  en bekwame wysheidsleraar, maar hulle sien Hom los van die kruis.  In praktyk vereer hulle ’n Jesus sonder ’n kruis. Dis hulle wat sê:  “Ja, vertel vir my van die Jesus wat siekes gesond gemaak het, wat liefde aan kinders en bedelaars bewys het, wat vir ons leer om ons vyande lief te hê, wat ons sal inspireer om huise vir die armes te bou en na Vigspasiënte om te sien.” Hierdie aanhangers van die (kliek Social Gospel) sien Christenskap net as ‘n goeie morele lewe van naasteliefde. Hulle beweer ook :  “Die kruisboodskap het niks met Jesus self te maak nie. Dit kom ook nie van Hom af nie, dis daardie rabbynse jood, Paulus wat hierdie teologie van bloed en offers in die kerk ingedra het.”  Dit getuig natuurlik van uiterste onkunde om sulke bewerings te maak. In die evangelies is dit duidelik dat Jesus se kruisdood voorop in sy gedagtes was. Hy verwys gedurig daarna en spel self die betekenis daarvan uit in Markus 10:45 waar Hy verklaar : “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense."
~Daar is egter nog ‘n manier van minagting van die kruis. Seker die algemeenste. Dis diegene wat intellektueel sal saamstem met die waarheid en belangrikheid van kruis en tog is daar  min bewondering en dankbaarheid. Hulle harte bly onaangeraak, hulle lewens bly onveranderd. Of  hulle hoor van Jan van Riebeeck en of  hulle hoor van die Seun van God wat Sy lewe gegee het, dit het ewe min praktiese effek. Hulle sal  saamstem dat beide gebeure histories waar is. Maar dis bloot ‘n tegniese saak, hulle  sal sonder om geraak te wees sê: “Ja, ek weet Jesus het aan die kruis vir ons sondes gesterf. Maar wat daarvan?” Daar is ’n groot groep van hierdie mense in die kerk. Jesus se kruisdood het vir hulle min praktiese betekenis – ander dinge soos geld en plesier is baie belangriker.

~Nog ’n laaste baie subtiele manier om die genoegsaamheid van die kruis te ontken moet genoem word. Dit kom dikwels voor by mense wat vroom is, selfs ook by mense wat al ’n duidelike opregte keuse vir Jesus gemaak het. Dikwels degradeer hulle ook maar op ’n manier die kruis. Hoe so? Dit gebeur as ek probeer om die werk van die kruis deur my eie morele prestasies te wil aanvul. Die kruis is wonderlik, dit maak my selfs bewoë, maar die kruis is nie genoeg om vir my gemoedsrus te gee dat my sondes volledig  uitgekanselleer is nie. Ek voel gedurig ek moet ook ‘n bydrae maak, ek moet myself eers voor God bewys voordat Hy my sal aanvaar. Sommige van hierdie mense is geneig om na binne gekeer te wees  en in selfworstelings vas te val: Is my geloof genoeg, is my bekering eg, het ek nou regtig al my sondes bely? (hulle bely gedurig maar vind nooit rus nie, kort-kort maak hulle nuwe oorgawes as die prediking net emosioneel genoeg is)*. As dit die geval is, het jy nodig om weg  kyk van jouself, te kyk na die kruis en te glo dit was genoeg.  Die ou Halleluja lied wat sê “deur te sien op die kruis, is daar lewe en heil” is so waar. Beskou jy al die kruis as jou enigste bate of wil jy jou ewige toekoms met beleggings van menslike verdienste  help verseker? (Ander misken weer die genoegsaamheid van die kruis deur dit te probeer aanvul met die sabbat en koswette. Dis hoogmode in sekere "Tora/Torah kringe. Kliek op WORTELS VAN VERWARRING)

maar...
Mense wat gered word beleef die kruisboodskap as die krag van God. Hoe so? Hulle aanvaar dat Jesus se offer aan die kruis volledig genoegsaam was vir die betaling van al hulle sondeskuld. Dit bring bevryding van hulle gewete, vrede in hulle gemoed. God gaan my nie meer straf nie, want Jesus het my straf gevat. Ek hoef dus nie meer dood en oordeel te vrees nie. Dit eindig egter nie daar nie. Dankbaarheid vir Jesus wat sy lewe gegee het, is ook vir die wat glo ‘n kragtige aansporing om in heiligheid te leef. Om hulle in dankbare toewyding aan God oor te gee. Om so te leef dat dit God bly maak.  2 Korintiërs 5:15 stel dit so helder en kragtig : “En Hy het vir almal gesterwe, sodat dié wat lewe, nie meer vir hulleself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en uit die dood opgewek is.”  In Galasiërs 6:14 praat Paulus van die verskil wat die kruisboodskap in sy eie lewe gemaak het : “Maar wat my betref, mag God verhoed dat ek ooit oor iets anders roem as oor die kruis van ons Here Jesus Christus, want deur die kruis is die wêreld vir my dood en ek vir die wêreld.” (Terloops, hy sê dit juis in die konteks van mense wat weer aspekte van die Joodse Tora soos die besnydenis en Sabbat aan Christene wou opdring)
Mense wat die kruisboodskap werklik aanvaar en glo, leef nie meer vir hulleself en wêreld nie, maar vir hulle Verlosser! Hulle het ‘n nuwe ambisie, ‘n nuwe koers, ‘n nuwe lojaliteit... en dis sigbaar in hulle lewens.
Wat sê jy van die kruis : Krag of onsin?

*As jy baie hiermee worstel, kliek gerus op WURGGREEP VAN VERTWYFELING

Donderdag, 08 Augustus 2013

JAPAN PIONIER VOLTOOI SY ROEPING




Oom Neil Verwey van die Japansending is na ‘n baie lang loopbaan in diens van sy Verlosser op 5 Augustus 2013 oorlede. Hy was ten spyte van sy siekte nog tot op die laaste besig om van Hom te getuig.

Hy het aan karre gewerk op Kuruman, maar God het ander planne gehad...

Ek het grootgeword met die gereelde nuusbriefie van die Japansending wat in ons huis rondgelê het en gelees is. Op hierdie manier was oom Neil Verwey wat die Here in Japan gedien het baie goed aan ons bekend, al het ekself hom nooit persoonlik ontmoet nie. Die boekie “DIE STEM VAN VREUGDE” beskryf op treffende wyse hoe God hierdie Kalahari seun en werktuigkundige op Kuruman, gered en geroep het om in die verre Japan in ‘n baie moeilike vreemde taal Sy Naam te verkondig. Pionierswerk met betrekking tot hospitaalevangelisasie, koerant en radiobediening is deur Neil en sy Britse eggenoot Peggy aangevoor. Dis ‘n aangrypende verhaal van opoffering en geloofsmoed, maar bo alles van God se genadige voorsiening en getroue leiding. Neil Verwey was ‘n man wat ‘n fyn pad van luister na die Here bewandel het. Die volgende staaltjie uit die “DIE STEM VAN VREUGDE” spreek vanself:

Eendag kom daar ‘n man wat Neil nog nooit gesien het nie, na die deur van die hoofkwartier en vra of hy Neil se fiets kan gebruik.

“Ja, seker, jy kan maar my fiets gebruik,” was Neil se antwoord.

Die man was klaarblyklik onbewus van die feit dat Neil uit beginsel die slegste fiets in die Sending besit het. Neil kon nie sien waarom hy ‘n nuwe fiets sou besit terwyl al die ander werkers ou fietse moes gebruik nie, dus het hy vir homself ‘n tweedehandse fiets vir ‘n paar rand aangeskaf. Hy het die man na die skuur geneem en die fiets uitgebring. Die man het weggery en nooit weer teruggekom nie.

‘n Paar weke later kom Neil hom op straat teë en vra: “Wat het van my fiets geword?”

“O”, sê die man, “ek het geld nodig gehad en besluit om die fiets te verpand.”

Neil het gevoel sy gesig word warm van woede, en hy wou die man slegsê omdat hy anderman se goed so behandel. Hy het byna uitgeroep : “Hoe op aarde kan jy my fiets verpand?” Maar in plaas daarvan fluister hy hierbinne : “Here, wat sou U graag in hierdie geval wou doen?”

En dit was asof die Here sê : “Gee hom die geld wat jy by jou het.” WAT? Moes Neil nog boonop geld ook gee vir die man wat sy fiets gesteel het? Maar omdat hy teen hierdie tyd al geleer het om die Here sonder teëpraat te gehoorsaam, het hy die kêrel al die geld gegee wat hy by hom gehad het.

Maar ‘n paar dae later het Neil van Sato San verneem dat die man daardie dag oppad was om te gaan selfmoord pleeg omdat hy geen geld gehad het om vir sy vrou en kinders kos te koop nie! As gevolg van Neil se geskenk is die man se lewe gered. Neil het gegril by die gedagte wat sou gebeur het as hy die man sleggesê het in plaas van na die Here te luister.

Mag Neil Verwey se lewe van gehoorsaamheid en diens ons almal weer aanspoor om ons roeping getrou uit te leef, waar ookal die Here ons geplaas het. Sterkte en troos aan die familie, dierbares en almal wat lief was vir hierdie begenadigde dienskneg van die Here!