BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 26 Julie 2013

TUTU EN DIE HOMOFOBIESE HEMEL

- wil hy aan God voorskryf oor reg en verkeerd?




Dit klink of Desmond Tutu hom bo God wil stel, as mens lees dat NUUS24 berig :

Die Suid-Afrikaanse vredesikoon dr. Desmond Tutu het Vrydag gesê hy sal eerder hel toe gaan as om 'n homofobiese God te aanbid.

"Ek weier om na 'n homofobiese hemel te gaan. Nee, ek gaan nie jammer sê nie, ek bedoel ek sal eerder na 'n ander plek gaan," het die emeritus-aartsbiskop by die bekendstelling van 'n gay-gelykheidsheidsveldtog van die Verenigde Nasies in Kaapstad gesê.

"Ek sal nie 'n God aanbid wat homofobies is nie en dit is hoe sterk ek hieroor voel," het hy gesê.

Die doel van die "Free and Equal"-veldtog is om bewusmaking te skep oor geweld en diskriminasie teen homoseksuele mense.

Tutu het ook die stryd teen homofobiese vooroordeel vergelyk met die stryd teen apartheid.

"Ek is netso passievol oor dié veldtog soos ek oor apartheid was. Vir my is dit op dieselfde vlak," het die 81-jarige Tutu gesê.

Die VN se top-amptenaar oor menseregte, Navi Pillay, het gesê gay-verhoudings is onwettig in meer as 'n derde van die lande regoor die wêreld en strafbaar met die dood in vyf lande.

Wat probeer Tutu sê?

Dis nie presies duidelik wat Tutu met ‘n “homofobiese God” en “homofobiese vooroordeel” bedoel nie. As hy daarmee wil sê dat sekere mense ‘n “god” geskep het, wat dit sou goedkeur dat ons homoseksuele mense haat en verag, is ek dit natuurlik honderd persent met hom eens. Jesus het ons duidelik geleer om almal, ook ons vyande lief te hê, en as Christen moet ek selfs my afgodsdienaarbure (Moslems, Hindoes of voorvadergeesaanbidders...) lief hê en op so ‘n manier teenoor hulle optree dat hulle oortuig kan raak van die waarheid van die evangelie. Dit lyk dus vir my vanselfsprekend dat God se kinders ook aan alle gebrokenes, geskeides, losbandiges en ja, ook aan homoseksuele mense liefde moet bewys, sonder om hulle sonde goed te keur of goed te praat! Hierin is Jesus se houding teen sondaars vir ons die volmaakte voorbeeld. Hy het geen kompromie met sonde gemaak nie, maar kon met egte bewoënheid alle sondaars konfronteer en die water van die lewe vir hulle aanbied. (Dink Samaritaanse vrou, Saggeus...)

As Tutu egter bedoel dat God “homofobies” deur Bybelgetroue Christene verstaan word, as ons vanuit die Skrif leer dat homoseksualiteit indruis teen God se bedoeling met die mens en ‘n uitvloeisel is van die mens se weiering om God as God te eer en te dank (Romeine 1:18ev), dan moet die bejaarde kerkman beslis vriendelik gewaarsku word dat hy met vuur speel. (Wie is ‘n mens om aan God voor te skryf?) Ongelukkig vermoed ek dat dit juis is wat hy bedoel, want hy neem deel aan ‘n aksie van die VN wat nou nie juis bekend is vir eerbiedige onderwerping aan God en sy Woord nie. So gesien is die voormalige aartsbiskop se uitlatings om die minste te sê, uiters arrogant en (vir homself), ewigheidsgevaarlik! God se Woord is baie duidelik. Sy bedoeling vir die mens ten opsigte van die uitlewing van sy Godgeskape seksualiteit, is ‘n lewenslange huweliksverbintenis tussen een man en een vrou! Alles wat hiervan afwyk in 'n sondegeskende wêreld...egskeiding, saamwonery, losbandigheid, prostitusie... en alle vorme van homoseksuele gedrag is teen sy wil en daarom sonde! Gelukkig is daar vergifnis en bevryding ook vir almal wat hulle hieraan skuldig gemaak het... 

Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie. 
En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God. (1 Korintiërs 6:9-11)

Met hierdie gewasde kinders van God moet ons ‘n pad in liefde saamloop (die pad van heiligmaking), ongeag wat hulle stryd en versoekings nog mag wees... Dis natuurlik iets heel anders as om homoseksuele gedrag te probeer regverdig...

Tutu klink nie of hy in die openbaar wil standpunt inneem vir God se Woord nie, maar eerder of hy op die Wa klim van die gevaarlike gay agenda aktiviste... kliek op GAY AGENDA.  Inderdaad lyk dit of Tutu hom bo die Woord (en dus bo God, want die Bybel is God se Woord)) wil stel omdat hy na wat berig word ook sou gesê het : "Net omdat iets in die Bybel staan, is dit nie noodwendig waar nie. "  (Die Burger)

Vir meer oor hierdie kwessie : Is als in die Bybel waar en normatief, want waarom eet ons kreef al verbied die Woord dit mos? Kliek op AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES

Donderdag, 25 Julie 2013

AS GOD OOR MY JUIG!

- het ek darem seker ook rede om te glimlag en Hom met toewyding te dank.


Ons is gewoond daaraan dat God praat. Reeds by die Skepping het Hy dit gedoen...telkens in die Woord hoor ons : “En die woord van die Here het gekom tot...” God praat egter nie net nie; Hy juig ook! 

Dit staan onmiskenbaar in Sefanja 3:17. “Die Here jou God is by jou, Hy, die krygsman wat red. Hy is vol vreugde oor jou, Hy is stil-tevrede in sy liefde. Hy jubel en juig oor jou.” Nou is die vraag natuurlik : “Sluit dit my in?” (hieroor moet ons groot duidelikheid kry) Kom blaai saam met my deur die profeet Sefanja.

Wat kan God so opgewonde maak dat Hy tot jubeling oorgaan? Die glans van sy eie majesteit, die heerlikheid van sy skepping, die gehoorsame engeleskaar? Wel, miskien ook, maar hier in Sefanja juig God oor sy volk. Dit klink amper ’n bietjie snaaks. Om die waarheid te sê, dit lyk eintlik heeltemal uit plek uit en vreemd as ons in ag neem hoe kwaad het hierdie volk God gemaak, hoeveel teleurstelling en droefheid het hulle goddelose optrede veroorsaak. Ja, dit laat geen twyfel nie, Juda se sonde het God diep gegrief en veroorsaak dat Hy sy toorn op sy volk uitgiet. Die profeet Sefanja praat baie duidelik hieroor. Hoor bietjie: “Ek gaan my hand uitsteek teen Juda en teen al die inwoners van Jerusalem, Ek gaan uit hierdie plek uitroei wat daar nog van Baäl oor is: die naam van die afgodspriesters, van alle priesters: dié wat op die dakke die hemelliggame aanbid, dié wat die Here aanbid en aan Hom trou sweer maar terselfdertyd ook aan Milkom, dié wat die rug vir die Here draai, na sy wil nie vra nie en Hom nie raadpleeg nie.” (1:4-6.) God het dit veral teen dubbelhartigheid! God se toorn raak nie net sy volk nie, maar gaan ook die nasies tref. “Daarom, wag vir My in vrees, sê die Here, wag vir die dag wanneer Ek opstaan en my buit kom vat. Ek het besluit om nasies bymekaar te maak, koninkryke saam te roep en op hulle my gramskap uit te stort, die volle gloed van my toorn: die hele aarde sal verteer word in die vuur van my woede." (3:8) 

’n Donker prentjie van oordeel oor Juda en die nasies! Maar God laat dit nie daar nie - Hy is toegewyd aan en verbind tot sy volk Israel. Sy verbond vergeet Hy nooit nie. En via sy verbond met Abraham is Hy ook toegewy om die nasies van die wêreld te seën. Die donker oordeelsuitsprake in die eerste dele van Sefanja vorm ’n duidelik kontrasterende agtergrond met die heerlike wending wat in 3:9 kom. “Ek sal die volke verander, hulle lippe rein maak, sodat hulle almal My sal aanroep en soos een man My sal dien.” Te midde van die oordeel doen God ’n genadewerk, Hy verander mense sodat hulle Hom sal dien. Hierdie begenadigdes is die ootmoediges/nederiges - destyds en ook vandag. Die wat hulle onder God se hand verneder. Die wat die oproep in 2:1-3 ernstig opneem. “Ruk julle reg, onbeskaamde nasie, voordat die besluit voltrek word, voordat die dag kom en julle soos kaf word voor die gloed van die toorn van die Here, voordat die dag van die toorn van die Here oor julle kom.Vra na die wil van die Here, alle nederiges in die land, almal wat doen wat die Here wil. Streef na geregtigheid, na nederigheid! Miskien bly julle die straf gespaar op die dag van die toorn van die Here.” Dis duidelik wat besig is om te gebeur deur die verkondiging van die evangelie. Die heerlike evangelie boodskap smelt mense se harte en lei tot bekering en geloof. Die gesuiwerde volk van God is inderdaad die wat in nederigheid en ootmoed op die Here vertrou en ook lewensverandering toon... “Dié wat van Israel oorgebly het, sal nie onreg doen nie en nie lieg nie; daar sal uit hulle mond nie valsheid kom nie. Hulle sal ‘n kudde wees wat wei en gaan lê en rus sonder dat iemand hulle skrikmaak.” (3:13) In hierdie proses word die nasies van die wêreld  ook begenadig sodat hulle God met rein lippe kan dien. (3:9) Dis hierdie skare mense wat ’n nuwe lied tot lof van die Lam sal sing. (Openbaring 5:9,10) Sefanja se profesieë gee nie spesifieke tydsaanduidings van die oordeel van God en die redding van die nasies nie. Moontlik dek sy profesieë ’n hele tydperk van oordeel en katastrofes, maar ook van God se genadewerk. Redding en oordeel vind gelyktydig plaas. Dis opmerklik hoe hierdie twee sake saamloop in die heilsgeskiedenis. God verdelg die goddelose mensdom deur die sondvloed en terselfdertyd word Noag en sy familie gered. Net so, terwyl die oordele van God vir Egipte tref in die vorm van die plae, word sy volk verlos. Dis in ’n sekere sin ook waar van hierdie bedeling van evangelieverkondiging waarin ons nou is - vir sommige is dit ’n doodsreuk -  met ander woorde, oordeel, vir die wat glo is dit ’n lewensgeur – vreugdevolle redding! Met die koms van Christus sal oordeel en verlossing ook saamgaan... Terwyl sommige sal hoor : “Gaan weg van my julle vervloektes”, sal ander vreugdevol uitgenooi word : “Kom  julle geseëndes..!”

God red heidene om Hom te loof, maar Hy suiwer ook sy eie volk. (3:13) Vanuit die Nuwe Testament weet ons baie duidelik dat die heidennasies en die oorblyfsel van Israel uiteindellik een volk vorm - ’n gesuiwerde ware Israel, die Israel van God. (Galasiërs 6:16)* Die middelmuur van skeiding is afgebreek deur Jesus Christus. (Efesiërs 2:11-16) Let op : “tot een liggaam verenig” Alle gelowiges uit die heidennasies is nou deel van God se een volk Israel! 

Dit bring mens by ’n wonderlike gevolgtrekking : 

As God juig oor sy volk in vers 17 dan sluit dit ons in wat vandag deel is van die kerk van Jesus Christus! Ja, God juig oor jou!

Kind van God, God juig oor jou, Hy is opgewonde en bly oor jou. Hy is tevrede met jou. Hy is gevul met liefde vir jou... Ja, want in Jesus het Hy jou heeltemal vergewe, en volledig aangeneem as sy eie kind. Die engele juig oor elke sondaar wat hom bekeer, dit is ’n baie bekende feit - maar hier leer ons: God juig ook! Kom luister weer hoe God oor jou voel, glo dit, want dis sy Woord. God sing, juig oor jou! Ja, jy! 

Dalk klink dit vir jou vergesog - God is tog volmaak en algenoegsaam in Homself, kan Hy regtig so opgewonde en bly raak oor mense dat Hy juig oor hulle? Wel, dis wat hier staan. Ook op ander plekke word dit bevestig dat God positief emosioneel betrokke is by die welsyn sy volk. (Sien Jeremia 32:41 - God geniet dit om goed te doen aan Sy volk; Jesaja 65:19 - God sal jubel oor Jerusalem!)

Jy dink dis wonderlik, maar miskien is daar tog nog vrae wat pla. Kom ons bekyk hulle:

~ Miskien is jy nog steeds skepties. Jy wonder : “Ja, in beginsel is dit seker moontlik dat God oor sy mense juig, maar hoe kan God bly wees oor my, wat van al my skuld en sondes en mislukkings? Ek verdien net straf en oordeel..."
Wel, wil jy nie glo wat God in vers 15 sê nie? “Die Here het ’n einde gemaak aan jou straf” Ons weet Jesus het ’n vervloekte geword in ons plek sodat ons geseën kan wees! Hy het sy verlosdes se straf volledig gedra, daar is niks oor om te straf nie! Moet ons nie maar God se Woord glo nie?

~ “Ja, maar hoe kan God oor my bly wees, ek voel asof Hy so ver is?” Sê wie? God is nie vêr van jou nie. In vers 15 lees ons : “Die Koning van Israel, die Here, is by jou; jy hoef geen ramp meer te vrees nie.” Ook vers 17a! “by jou” Dit laat mens dink aan Jesus wat sê : “Ek is met julle.......” Moet ons Hom nie glo nie? HY is by ons!

~ “Ja, maar hoe kan ek dit glo dat God oor my bly is, ek beleef soveel hartseer, swaarkry, teenstand van vyande...” Hoor God se beloftes in vers 18. “Ek maak dié bymekaar wat treur, ver van die feestelikheid af, dié wat uit jou uit kom en ter wille van jou die smaad gedra het.” Is dit nie die waarheid wat Paulus ook bevestig as hy sê : “Niks kan ons skei van die liefde van God wat daar in Christus Jesus is nie...” Het jy al die vergifnis in Jesus aanvaar? Weet dan : God juig oor ons, Hy het ons skuld weggeneem en berei ’n nuwe toekoms vir ons. Dis waar ongeag ons huidige omstandighede. Dit gee vir ons rede om ook te juig. Trouens dis eintlik ’n opdrag. “Sing, Sion! Juig, Israel! Wees met alles wat jy is, vrolik en bly, Jerusalem!” (3 :14)

Nog ‘n paar praktiese gevolgtrekkings :

God, met respek gesê is nie ’n koue gevoellose rekenaar nie. Ja, God is selfgenoegsaam in Homself, Hy het ons nie nodig om iets in sy persoon aan te vul nie, maar dit beteken nie dat Hy onbetrokke is by mense nie. Ons verlossing is nie vir Hom bloot ’n koue kliniese saak nie. Ons redding is nie maar ’n meganiese afloop van sy besluite nie. Die verlossing van elke mens is ’n persoonlike genadedaad en liefdeshandeling van God Drie-enig en dit maak Hom bly! Hy is ’n persoonlike God wat in ’n verhouding staan met sy volk. Op verskillende maniere vind hierdie heerlike waarheid uitdrukking : God is ons Vader, ons is deel van die huisgesin van God, ons is die bruid van Jesus…

God laat ons ook nie half teësinnig in sy Koninkryk toe nie. Dis nie kwessie van: “Ja toe, kom maar in, ek het julle oorgesien” nie. Hy juig oor ons! Ons bring vreugde in sy hart. Uit die gelykenis van die Verlore seun kan ons iets agterkom oor hoe God voel oor sondaars wat huis toe kom : ons kry ’n ring, die vetgemaakte kalf word geslag en daar word partytjie gehou! Dit alles is natuurlik moontlik omdat Jesus die volle prys betaal het. Ja, God kan juig want daar bly nie sonde oor wat nog gestraf moet word ten opsigte van Sy kinders nie. Daarom kan Paulus so triomfantelik wees in Romeine 8:31ev. Daar is ’n tipe van ’n valse nederigheid wat te veel fokus op my eie sonde en te min bly is oor die volle vergifnis en dus die volle aanvaarding en versoening wat Jesus bewerk het. Ons moet pasop vir ’n geringskatting van Jesus se werk aan die kruis of dink dat Jesus ast’ware toelating tot die koninkryk uit God gepers het. Onthou, God self het die versoening bewerk deur Jesus Christus! Dis Sy, die Vader se inisiatief!

Ons gevoelens en emosies moet nie afhanklik wees van ons omstandighede nie, maar van hierdie waarhede wat ons verneem uit Sefanja se mond : God se vergifnis wat Hy skenk, God se teenwoordigheid, God se reddende heldekrag, God se beloftes van ’n nuwe toekoms. Hoor weer ‘n slag hoe voel God oor sy mense wat Hy verlos. Wees verseker, die God wat oor jou juig en bly is gaan jou nie in die steek laat nie.

Gaan jy glo en bly wees?

* “En mag daar vrede en barmhartigheid wees oor almal wat sal wandel volgens hierdie reël, en oor die Israel van God!”

Maandag, 22 Julie 2013

KOMMANDO VIER BYBELVERTALING

tagtig jaar se vreugde in Afrikaans.

Die Kosie Alberts Voortrekkerkommando van Tsumeb het Vrydagaand 19 Julie die tagtigjarige bestaan van die Bybel in Afrikaans gevier met ‘n fakkelloop en klein plegtigheid.

Tydens die geleentheid is Psalm 119:54 uitgebeeld wat sê : “U voorskrifte is vir my ‘n lied in my lewe hier op aarde.”

Ons weet almal dat Psalm 119 die langste Psalm is en dit is dikwels ‘n bron van humor soos byvoorbeeld in Herman Charles Bosman se bekende, “Bekkersdal Marathon.” Psalm 119 is egter ‘n besondere psalm wat die wonders van God se Woord beskryf...en mens sommer lus behoort te maak om self in die skatte van die Bybel te delf!

Verskeie sinonieme word in die psalm gebruik om aspekte van God se Woord uit te lig soos beloftes, bepalings, wet, verordeninge, gebooie ens. In die uitgebeelde teks word die vreugde aspek van God se  voorskrifte beklemtoon. Dis soos ‘n lied!

God se Woord maak ons bly en laat ons sing!

‘n Mens kan sommer onmiddellik aan twee redes dink (daar is natuurlik baie meer) :

1. God se Woord bring vir ons die verlossingsboodskap, die evangelie! Dis die Goeie Nuus hoe God ons verlossing bewerk het deur die kruisiging, begrafnis en opstanding van ons Here Jesus Christus. (1 Korintiërs 15:1-4) Dis waarlik ‘n vreugdevolle boodskap, want deur sy kruisiging het Hy volledig die straf vir eens en altyd in ons plek gedra, sy begrafnis wys dat Hy werklik dood was – die voorgeskrewe boete vir die sonde is gebring. Sy liggaamlik historiese opstanding is die onomstootlike bewys dat God die boete as genoegsaam aanvaar het. God is tevrede dat geregtigheid geskied het en gee dus aan elkeen wat persoonlik in sy Seun glo, volkome kwytskelding. Volledige vryspraak!

2. God se Woord lei ons nie net tot verlossing nie, maar wys ons ook hoe om as verlosdes waarlik tot Sy eer te leef. Sy voorskrifte in sy Woord is daarom die lig vir ons pad en die lamp vir ons voet. Sy bepalings is billik en regverdig – God is nie ‘n nors pretbederwer nie!  Nee, die opdragte in sy Woord beskerm sy eer en is tot ons beswil! Die hartseer en ellende in hierdie wêreld, ja ook in ons huwelike en gesinne is juis die gevolg van verontagsaming van God se wette. Daarenteen bring gehoorsaamheid aan sy Woord, vreugde! Dit smaak soos heuning vir die kind van God. (Psalm 119:103)

Ons as Afrikaanssprekendes het op ‘n geleentheid soos hierdie dubbeld rede om bly te wees. Hierdie kosbare Woord van God is beskikbaar in ons eie dierbare moedertaal! (En terloops om die rykdom van die Woord te kan ontgin is taalvaardigheid nodig. Doen dus moeite om jou eie taal se betekenis en fyn nuanses onder die knie te kry. Dit is so wonderlik om te lees dat God ontsagwekkend groot en heerlik is! Dis ‘n begrip wat by my verbygaan as my woordeskat beperk is tot “awesome”)


Benut en geniet jou Afrikaanse Bybel!


Charis hou die fakkel omhoog!

Donderdag, 18 Julie 2013

VEROORDEEL TOT WURMKOS

- wanneer die vleiery verstil en Goddelike wraak ‘n werklikheid word.


Die openlike mensverering wat losgebars het sedert Mandela in die hospitaal opgeneem is, het die (dalk verskoonbare) grense van misplaaste heldeverering en belaglike bewondering oorskry. Ten minste by sommige Mandelavereerders loop dit die gevaar om te ontaard in lastering. (nie alle mense wat bewondering vir Mandela se rol in die geskiedenis koester maak hulle natuurlik aan sulke uiterstes skuldig nie, maar ek dink dat Christene van alle rasse en politieke oortuigings nou behoort op te staan en duidelik die mensverheerliking van die afgelope tyd moet veroordeel) Die onderstaande foto wat op die BBC se nuusblad verskyn het, laat alle illusies wat daar nog sou kon bestaan oor die neiging tot afgodery van die hedendaagse mens verdwyn.


(die afgryslike lastering spreek vanself!)

Dis natuurlik niks nuuts nie. Die mens wat die Skepper nie dank, ken en vereer nie, verval al te maklik in skepselverering. Dit wek die toorn van God en laat Hom die mens oorgee aan sy selfvernietigende bose gesindheid. (Romeine 1:18ev)

Die gebeure in Handelinge 12:20-24 gee vir ons ‘n verhelderende perspektief op die waansinnige dwaasheid van die buitensporige beheptheid met Mandela : 

"Die mense van Tirus en Sidon het hulle die woede van Herodes op die hals gehaal. Daarom het hulle saam ‘n afvaardiging na hom toe gestuur. Nadat hulle vir Blastus, die koning se kamerheer, op hulle hand gekry het, het hulle vrede gevra, omdat hulle land van die koning s’n afhanklik was vir lewensmiddele.
Op die vasgestelde dag het Herodes sy ampsklere aangetrek, op sy troon gaan sit en hulle toegespreek.
Die mense het toe geskreeu: "Dit is ‘n god wat praat, nie ‘n mens nie!"
Op daardie selfde oomblik het ‘n engel van die Here hom getref, omdat hy nie die eer aan God gegee het nie. Herodes is deur wurms verteer, en het gesterwe.

Maar die woord van God het verder versprei en veld gewen."

Bostaande stuk uit die Skrif herinner my kortliks dat:

~ die maak van menslike afgode niks nuuts is nie, maar van altyd af eie aan die verdorwe mens. Alle mense is hiertoe geneig, maar diegene wat gunste by ander soek val die maklikste in hierdie sentimentele en valse verering. Die vleiers van Tirus en Sidon was beslis nie bekend vir lojaliteit teenoor Herodes nie, maar ter wille van voedsel was hulle bereid om die regte heuning-om-die mond-smeer-liedjies te sing. 

~ om ‘n bepaalde persoon of selfs mense in die algemeen te vergoddelik gebeur makliker as wat mens dalk sou kon dink. Die afgelope tyd het ek besef dat die beskrywing in Openbaring van die dier (Antichris) wat deur mense aanbid sal word, glad nie snaaks en vergesog is nie. Ek sal nie verbaas wees, dat as Mandela wel weer uit die hospitaal sou kom, daar inderdaad mense sal wees wat hom aanbid nie. (sou hy sterf sal hy seker in elk geval ‘n belangrike rol as spesiale voorvadergees in baie mense se lewens speel) Die punt is net dat as die regte persoon na vore kom sal die goddelose massas soos vlieë agter die misreuk van sy sjarme, “verdraagsaamheid” en wonderwerke aanswerm. Die wêreld vol beskaafde en gekultiveerde mense sal die Antichris met oorgawe aanbid sonder om ‘n oomblik te twyfel. (Christene wat nie wil saamgaan met hierdie mensverering nie sal as dwarstrekkers en onverdraagsames uitgekryt word.)

~ God deel sy eer met niemand nie en sy wraak op die huidige (en soortgelyke) mensverering wat aan die orde van die dag is sal nie uitbly nie. Die feit van Goddelike toorn en vergelding is nie ‘n bangmaakstorie wat deur pretbederwers uitgedink is nie, maar onmiskenbar deel van God se selfopenbaring in Sy Woord. (Sien meer, kliek op GOD SKRIK NIE.)

~ die verblydende perspektief wat deur Lukas die skrywer uitgelig word is dat die Woord van God onstuitbaar voortgaan en die Koninkryk van God beslis sal aanbreek. In die eerste gedeelte van Handelinge 12 word ons uitvoerig vertel hoe die einste Herodes tevergeefs Petrus uit die weg probeer ruim en so die verspreiding van die Woord probeer kortwiek het. God verlos Petrus wonderbaarlik van die swaard, maar die hooghartige Herodes word wurmkos! Oor die gewaarborgde oorwinning van die Woord mag alle kinders van God bly wees. Laat die wêreld maar hulle lofprysinge sing, ons verbly ons oor die onstuitbare vooruitgang en verspreiding van die evangelieboodskap tot op die dag wanneer ons Koning in heerlikheid verskyn!

Die Christen hoef regtig nie Mandela dag te vier nie, ons vier elke week die Sondag ter herinnering aan ons Verlosser se opstanding en oorwinning oor die dood. Die kind van God hoef nie 67 minute van goeie dade uit te dink en te doen nie. Ons weet mos ons is uit genade gered, sodat ons ons hele lewe kan wy aan die goeie dade waarvoor God ons bestem het. (Efesiërs 2:8-10)

Ja, die mens se hart is gemaak vir, en ons het ‘n behoefte aan aanbidding (worship). Dis ons as kinders van God se heerlike voorreg om Hom wat waarlik mens, maar ook waarlik God is nou reeds te aanbid en te bewonder, maar ook uit te sien na daardie heerlike dag, die hemelse erediens (wat ewig sal aanhou):

"Toe het ek voor die troon wat omring was deur die vier lewende wesens, tussen die troon en die ouderlinge, ‘n Lam sien staan, die Een wat geslag was. Hy het sewe horings en sewe oë gehad. Die sewe oë is die sewe Geeste van God, wat oor die hele aarde uitgestuur is.
Hy het toe gegaan en die boek ontvang uit die regterhand van Hom wat op die troon sit.
Net toe die Lam die boek neem, het die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor Hom gekniel. Elkeen van hulle het ‘n siter gehad en ‘n goue bak vol wierook, die gebede van die gelowiges.
Toe sing hulle ‘n nuwe lied: "U is waardig om die boek te neem en die seëls daarvan oop te maak omdat U geslag is en met u bloed mense vir God losgekoop het uit elke stam en taal en volk en nasie.
U het hulle ‘n koninkryk en priesters vir ons God gemaak en hulle sal oor die aarde regeer."
Toe het ek rondom die troon en die lewende wesens en die ouderlinge ‘n groot menigte engele gesien. Daar was duisende der duisende, ja, miljoene der miljoene. Ek het hulle hard hoor uitroep: "Die Lam wat geslag was, is waardig om die mag en rykdom, die wysheid en sterkte, die eer, heerlikheid en lof te ontvang."
Die hele skepping, alles in die hemel en op die aarde en onder die aarde en op die see, ja, alles wat daar is, het ek hoor sê: "Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof en die eer, die heerlikheid en die krag, tot in alle ewigheid."
Die vier lewende wesens het gesê: "Amen!" En die ouderlinge het gekniel en God aanbid." (Openbaring 5:6-14)

Kniel jy saam?

Naskrif 1 : Dis duidelik, God werk deur Woord en Wurms. Hy gebruik genadeverkondiging en oordeel om sy koninkryksdoelwitte te bereik. Nou staan die Woord, die evangelie voorop en dis 'n geleentheid wat ons nie moet versmaai nie, maar eendag sal Hy defnitief ook geëer word deur die ongehoorsames weg te werp in die plek waar die wurms nooit sal sterf nie....

Naskrif 2

Ook die spotprentkunstenaar Zapiro word meegevoer deur die Mandela kultus... Nee, vriend, dis nie Mandela wat die bron van goeie werke is nie, maar Jesus Christus alleen...


Maandag, 15 Julie 2013

VALS VERBONDSVERTROUE

- voer jou na die vuur!

Johannes die Doper was vreesloos en vurig! Geen people’s pleaser nie, maar ‘n ware onverskrokke profeet, wat mens onwillekeurig herinner aan die dapper Elia van ouds! Inderdaad was daar baie ooreenkomste tussen hierdie twee wat voorkoms én boodskap betref. Duidelik en suiwer het Johannes die waarheid aan sy tydgenote bekend gemaak net soos Elia eeue vantevore. Of hulle daarvan gehou het of nie. Aan alle soorte mense, selfs ook aan koning Herodus, toe hy hom aangespreek het omdat dié, Herodias sy broer se vrou gevat het. Dit het Johannes in die tronk laat beland en uiteindelik het sy kop op ‘n skinkbord geëindig!

Johannes het aan almal die waarheid gebring. Ons hoor in Lukas 3:7-9 hoe hy die mat van valse verbondsvertroue onder die godsdienstige Jode se voete uitruk! 

7) Die mense het in groot getalle uitgegaan om deur Johannes gedoop te word. Hy het vir hulle gesê: "Julle slange, wie het julle wysgemaak dat julle die dreigende toorn kan ontvlug?
8) Dra liewer vrugte wat bewys dat julle bekeer is. En moenie by julleself sê: ‘Ons het Abraham as voorvader’ nie, want dit sê ek vir julle: God kan uit hierdie klippe kinders vir Abraham verwek.
9) Die byl lê al klaar teen die wortel van die bome. Elke boom wat nie goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi."

Drie belangrike waarhede word in hierdie uitspraak onderstreep:

- Pasop vir ‘n valse vertroue. Hierdie Jode het gedink hulle saak met God is outomaties reg, want hulle was mos die nageslag van Abraham. Hulle was met ander woorde verbondskinders. Johannes sê : “Nee, nee, julle maak ‘n groot fout! Julle flous julleself!” Dit moet ons baie mooi verstaan : die regte afkoms, regte opvoeding of selfs regte Bybelse geluide is geen waarborg van redding nie. Ja, dis ‘n groot voorreg om groot te word met die verbondsbeloftes, maar ons moet reageer op die verbondseise, anders help dit niks. Die eis van die verbond is : bekeer jou! Enige kontrak (verbond) het voordele, maar ook eise en voorwaardes. As jy ‘n gesogte kontrak kry – sê nou maar om ‘n groot kompleks te bou is dit ‘n groot voorreg met baie voordele. Maar nou moet jy ook die kontrak se voorwaardes nakom, anders kry jy niks! Afstamming van Abraham (deelwees van die verbondsgemeenskap) is ‘n groot voorreg, maar nie ‘n verskoning of ‘n wegkruipplek nie. Dit stel die mens onder ‘n verpligting : BEKERING! Reeds in die Ou Testament was dit die dringende boodskap van die profete : “Vra na die wil van die Here terwyl Hy nog te vinde is, roep Hom aan terwyl Hy nog naby is. Die goddelose moet sy verkeerde pad laat staan, die slegte mens sy slegte planne. Hy moet hom tot die Here bekeer, dan sal Hy hom genadig wees; hy moet hom tot ons God bekeer, Hy vergewe altyd weer.” (Jesaja 55:6,7) Sonder ware bekering is alle verbondsvertroue ‘n misplaaste illusie.

- Egte bekering het duidelik sigbare gevolge. Natuurlik, ons word nie gered deur selfverbeterings nie, maar deur geloof. Geloof in die Here Jesus. Maar onthou, geloof en bekering gaan saam. Bekering is ‘n “change of mind” (metanoia). My denke verander, ek besef wat ek doen is verkeerd, ek het berou, en daarom verander my doen en late. Bekering is prakties en duidelik sigbaar. Kyk na die voorbeelde in vers 10-14. Dit raak sensitiewe sake soos die houding teenoor geld en besittings! Ja, bekering maak ‘n verskil in jou eie konteks en omstandighede. Dit raak veral juis jou wortelsonde, daardie een ding of gesindheid wat so ‘n groot invloed in jou lewe het en ‘n skeidsmuur tussen jou en God vorm! Bekering is dringend noodsaaklik. Hoekom? Daar wag ‘n oordeel. (9) Hierdie dringende waarskuwing moet ons selfondersoek laat doen : is daar duidelike vrugte, bewyse dat ek ‘n bekeerde mens is? Bekeerde mense is duidelik herkenbaar – hulle leef nuwe lewens volgens God se Woord. Hulle kan wel val, maar kan nie meer soos voorheen gelukkig voortploeter in die vullis nie.

- God kan uit klippe ware kinders van Abraham maak. Wat sou Johannes bedoel met hierdie vreemde uitspraak? Dit vertel ons : As dit gaan oor kindskap van God is menslike afstamming of bevoorregting nie die deurslag nie, maar Goddelike ingryping. Dit laat mens terugdink aan die profesie van Esegiël, waar God beloof om die volk se klipharte uit te haal en harte van vleis te gee. Hierdie uitspraak van Johannes moes vir die godsdienstige mense van sy tyd ‘n vreeslike skok gewees het. Hulle was so trots op hulle afkoms en historiese verbintenis met die aartsvader Abraham en nou sê die kameelhaarprofeet, God kan sommer van hierdie klippe kinders van Abraham maak. Weet dit : God kan deur ‘n wonderwerk enige mens verander om sy kind te word. (Jood of nie-Jood, godsdienstig of nie-godsdienstig) Dit bring ons by die waarheid van die wedergeboorte, ‘n wonderwerk van God in die lewe van die sondaar. ‘n Herskeppingswonder! As Jesus in Johannes 3 met Nikodemus praat oor die wedergeboorte dan sluit Hy aan by Johannes die Doper se prediking. Sonder hierdie wonderwerk kan niemand deel hê aan die ewige koninkryk van God nie! Ons is volkome van God afhanklik. Ons elkeen het ‘n nood en behoefte aan God! Om kind van God te wees is nie sommer iets outomaties nie, dis nie vanselfsprekend nie, al word ek in ‘n goeie godsdienstige huis groot.

Om ‘n kind van God te wees, het ek ‘n genadewonderwerk in my lewe nodig en hierdie wonderwerk word sigbaar in ‘n hartgrondige bekering wat my lewenskoers verander!

Die waarheid van God wat instaat is om kinders uit klippe te maak, moet ‘n tweeledige effek op ons hê:

Dit bring ons by nederige afhanklikheid. Ons almal het mos maar klipharte en as God nie ‘n versagtings en herlewingswonder in ons binneste doen nie, sal ons vir ewig buite sy koninkryk bly.

Aan die anderkant wek hierdie stelling van Johannes ‘n heerlike hoop by ons : Geen klip is vir God te hard nie, niks is vir ons almagtige God onmoontlik nie. Hy kan aan die grooste sondaar bekering en vernuwing skenk.

Die God wat wonders doen, doen dit nog steeds! Die grootste wonderwerk is die wedergeboorte. As Hy dit reeds in jou gedoen het, dank Hom en gaan dra nog meer oorvloedige vrug! As jy onseker is, moenie rus nie, totdat jy rus gevind het in Jesus nie. Hy is nou die Redder wat ons met sy Heilige Gees doop en nuutmaak. Hy nooi jou uit! (Jesaja 1:18; Matteus 11:28) Maar maak gou, binnekort kom Hy as Regter om skeiding te maak tussen bekeerdes en onbekeerdes. “Hy het sy skop in sy hand, en Hy sal sy dorsvloer deur en deur skoonmaak. Die koring sal Hy in sy skuur bymekaarbring, maar die kaf sal Hy met onblusbare vuur verbrand." (Lukas 3:17) 

Is jy deel van die koring of dalk van die kaf?

Vrydag, 12 Julie 2013

HET JY REGTIG VREDE MET GOD?

- Wat is geloof of Christenskap werd as dit nie behels dat ek vrede met God beleef nie?

Onsekerheid en onvrede beteken dat ons in hierdie lewe nie God regtig kan “verheerlik en geniet” nie! Dit kniehalter ons getuienis. Dit wek ook angs oor die dood en die lewe hierna.



Jy sê jy glo, maar tog is jy vasgevang in onsekerheid. Jy bedoel dit ernstig met God, maar is vol twyfel oor jou ewigheidsbestemming. Is jy dalk onseker oor jou verhouding met God, omdat :


1. Jy wonder of jy op die regte manier glo?

2. Jy voel dat jou bekering dalk nie eg genoeg was of jou berou oor jou sondes nie sterk genoeg nie?

3. Jy twyfel of jou motiewe hoekom jy Jesus aangeneem het opreg was? (ek het my bekeer uit vrees vir die hel)

4. Jy bang is vir die leer van die uitverkiesing? (sê nou maar ek is nie uitverkies nie?)

5. Jy min tekens van die werk van die Heilige Gees in jouself bespeur?

6. Jy dikwels glad nie soos 'n Christen voel nie?

As hierdie en soortgelyke vrae oor geloof, bekering en verlossing jou pla, kan jy gerus kyk na Horatius Bonar se kosbare boekie, “God’s Way of Peace”

Kliek op VREDE MET GOD om dit in Afrikaans te lees.

Horatius Bonar (19 Desember, 1808 – 31 Mei, 1889) was ‘n predikant (en digter) van die Kerk van Skotland en het na die “Disruption” van 1843 by die Vrye Kerk (Free Church) aangesluit. Hy was iemand met diep onsig in die genoegsame werk van Christus ter wille van sondaars. Van die aanhalings uit sy werk is die volgende ‘n duidelike bewys hiervan:

In religion faith does not spring out of feeling, but feeling out of faith. The less we feel the more we should trust. We cannot feel right till we have believed.

Upon a life I did not live, upon a death I did not die; anothers life, anothers death, I stake my whole eternity.

No man can quench his thirst with sand, or with water from the Dead Sea; so no man can find rest from his own character, however good, or from his own acts, however religious.


Horatius Bonar (Wikipedia)

Saterdag, 06 Julie 2013

VAN DOOPVONT NA VERDOEMENIS

- daar is ‘n pad wat reg lyk maar in die verderf eindig.

Dis baie belangrik om die regte pad te kies. Dis net die regte pad wat na die regte plek lei. Die verkeerde pad bring mens by die verkeerde bestemming en dit kan groot moeilikheid veroorsaak.

Dis waar oor die algemeen, maar veral wat ons ewige bestemming betref, is dit nog meer waar en meer belangrik. Daar is net twee plekke waar mens die ewigheid gaan deur bring – ‘n ewige heerlikheid of ‘n ewige hel.  Vir altyd met God of vir altyd weg van sy aangesig. Ewige vreugde  of ewige smart. Beide is finale bestemmings – daar is geen omdraaikans nie. Daarom is dit so belangrik om reg te kies, om seker te maak.

Dis nie altyd so eenvoudig nie, want Spreuke 14:12 waarsku ons dat daar ‘n pad is wat vir die mens reg lyk, maar die einde daarvan is die DOOD.

“Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.”  (OAV)
“Daar is ‘n lewenswyse wat vir ‘n mens reg kan lyk, maar die uiteinde daarvan is die dood.” (NAV)

Daar is baie paaie wat vir die mens reg lyk of reg voel, maar dit lei nie na die lewe nie... Kom ons bekyk ‘n paar paaie wat vir mense reg lyk, maar wat by ewige smart eindig:

1. DIE PAD VAN SONDE. 

Dis ‘n baie lekker en maklike pad. Afdraend! Sonde is nie moeilik om te doen nie, dit kom sommer vanself. Dis die natuurlike weg, want ons word op hierdie verkeerde koers gebore. Jy hoef dus nie iets besonders boos aan te vang om op hierdie glypad na elllende te beland nie, gaan net normaalweg aan. Weet egter : Die gevolg van sonde en ongehoorsaamheid aan God is die dood, die ewige dood. (Romene 6:23)

2. DIE PAD VAN SELFGERUSTHEID. 


Dis ‘n pad wat reg voel. Dis ‘n roete sonder bekommernis. So baie mense troos hulle daaraan : ek voel goed, ek voel soos ‘n Christen, ek voel wat ek doen is reg... maar helaas, dis ‘n valse sekerheid, dis gebou op die sand van selfbedrog.  Hoekom? Jeremia 17:9 gee die antwoord. “die hart van die mens is bedrieglik bo alle dinge” Dis ‘n groot risiko om staat te maak op ons gevoelens of gemoedstemmings. Jy kan mos onbewus op ‘n verkeerde trein wees, sonder enige bekommernis, maar dit verander niks aan die feit dat jy by ‘n verkeerde bestemming gaan aankom nie. Dit gebeur mos dat ‘n student baie goed kan voel oor ‘n eksamen wat afgelê is, maar dan is die uitslag ‘n aaklige verrassing!

3. DIE PAD VAN DIE MEERDERHEID. 


Dis die verwarde logika wat redeneer : Ek dink ek is op die regte pad, want ek maak maar net soos almal maak. Ek is nie juis beter of slegter as die gemiddelde mens nie. Almal vloek maar, almal steel maar so ‘n bietjie, almal knyp maar die kat in die donker... Dis uiters gevaarlik om so te redeneer. Jesus het juis geleer dat die pad van die meerderheid die pad na die verderf is. Die meeste mense is op die verkeerde pad! Die pad na die lewe is smal en daar is min wat daarop loop! (Matteus 7:14,15) Die verkeerde pad is die maklike pad en daarom is die meeste mense daarop, die regte pad is maar moeilik en daar is min wat dit volg!

4. DIE PAD VAN VOORSPOED. 


Hulle wat hierop wandel troos hulleself : Kyk hoe goed gaan dit met my besigheid of boerdery. Kyk hoe help die Here my in my akademie of sport! Dit wys seker die Here is aan my kant en ek is op die regte pad! Dis ‘n baie gevaarlike redenasie. Natuurlik kan God goed wees vir sy kinders soos Hy wil, maar voorspoed en welvaart beteken nie noodwendig dat ek God se kind is nie. Dink maar aan die gelykenis van die ryk man en Lasarus. (Lukas 16) Lasarus was vrek arm, vreeslik honger en vrot van die siekte! Die ryk man het in vraatsige weelde geleef,  maar toe beide sterf, blyk dit dat hy en nie die ryk man altyd die geseënde was! (Terloops, mens wonder wat sê die Prosperity Gospel ouens oor hierdie gedeelte? Volgens hulle denkwyse lyk die ryk man na 'n handboekvoorbeeld van 'n geseënde en arme Lasarus 'n ernstige kandidaat om geklassifiseer te word as iemand wat onder 'n sogenaamde "Bloedlynvloek" gebuk gaan!) 

5. DIE PAD VAN GODSDIENSTIGE RITUELE EN ORDENTLIKHEID. 



Jy sal vra : “Maar hoe nou? Om kerklik en godsdienstig te wees is seker die regte ding?” Vriend, wees gewaarsku daar is wel ‘n pad van die doopvont na die verdoemenis! Vanuit die koel doopwater tot binne in die hittige hel! (die hoeveelheid water opsigself maak nie saak nie) Daar is baie mense wat gedoop is (klein of groot), wat kerklidmate word, wat in die kerk trou en uiteindellik uit die kerk begrawe word, maar vir ewig verlore sal wees.  Al hulle godsdienstige stappe was eintlik maar net nog ‘n stap nader na die oordeel. Hoekom? Hierdie is mos als mooi dinge? Ja, hulle het deur die regte rituele gegaan, maar Jesus was nooit in hulle lewe nie. Hulle was goeie mense, maar nie geredde mense nie. Hulle was dalk verbondsmense, maar nog nie verloste mense nie. Paulus was ook eers so. Hy het op sy godsdiens en afkoms staatgemaak, maar hy het nog nie vir Jesus geken nie. Hy vertel daarvan in Filippense 3:3ev. Gelukkig het hy toe later op ‘n punt gekom waar hy nie meer op hierdie dinge geroem het nie, maar op Jesus Christus alleen. Kerklidmaatskap en betrokkenheid, selfs ernstige betrokkenheid is geen vrypas tot verlossing nie. Die gelykenis van die vyf verstandige en vyf dwase meisies, die briewe aan die sewe gemeentes in Openbaring en talle ander Skrifgedeeltes, maak dit baie duidelik dat deelwees van die sigbare kerk nie noodwendig redding behels nie!

Nou watter pad is dan die regte pad? 

Gelukkig sê die Bybel dit vir ons baie duidelik in Johannes 14:6 waar Jesus verklaar :

"Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die Vader toe behalwe deur My nie.”

Almal wat Jesus aangeneem het en op Hom vertrou is op die regte pad. Hulle is kinders van God. (Johannes 1:12,13) Jesus het deur sy kruisdood en opstanding als gedoen wat ons nodig het om  vrede met God te hê. Wie Hom het , het die lewe! (1 Johannes 5:12,13)

Draai weg van jou sonde en volg Jesus. Moenie op jou gevoelens staatmaak nie, maar op Jesus se volmaakte offer aan die kruis. Moenie jou aan die meerderheid steur nie, maar bly by Jesus, al staan jy alleen. Moenie veiligheid  in rykdom of besittings vind nie, maar wees tevrede wat Jesus vir jou gee. Moenie op jou godsdienstigheid of goeie maniere vertrou nie, maar neem Jesus aan, eers dan maak bid en Bybellees, kerk en sakramente sin!


 BEHOORT JY AL AAN JESUS?

Vrydag, 05 Julie 2013

DIE BELOFTE BY DIE DAM

- ‘n groen Land Rover en ‘n lang bediening.

[Ek is besig om ‘n boek te skryf oor die lewe van my Pa, Johan de Koning wat laasjaar oorlede is. Vir meer daaroor, kliek op ONS BEGRAWE PA. Ek beoog om so van tyd tot tyd aangepaste uittreksels daaruit op hierdie webjoernaal te plaas.]

Na sy nuutmaking deur die Gees (kliek op WAARLIK VRY)  en studies op Kalkbaai was Johan de Koning nou ‘n jong sendeling in diens van die Dorothea Sendinggenootskap. Op ‘n keer was hy bevoorreg om saam met Mnr. Hans von Staden, die sending se stigter en leier op toer te gaan na die Oos Kaap. So na aan sy ouerhuis en na ‘n geruime tyd reeds in die werk is hy vergun om vir ‘n week verlof te neem. Dit was heerlik om tuis te wees, en te kon getuig van God se seëninge. In Pretoria het daar egter nog ‘n heerliker verrassing vir hom gewag.



By sy terugkoms in Pretoria vra tannie Rosa Kuhn, een van die senior werksters vir hom: “Hoe dink jy my boetie, waar gaan ons heen?” “Rhodesië toe” was sy haastige antwoord. (Op daardie tydstip het die behoefte om na Rhodesië uit te reik prioriteit geniet.) “Nee, nie Rhodesië toe nie, maar Suidwes toe,” sê sy. Johan het ‘n uitroep van opgewondenheid gegee. Dit was te goed om waar te wees...



Die rede vir hierdie groot blydskap was ‘n belofte wat Johan kort vantevore gemaak het. Dit het so gekom. Na ‘n lang reeks dienste, het een van die ouer werkers in die sending, Marie Young eendag ‘n voorstel aan hom gemaak. “Hoekom neem jy nie Vilho saam met jou na die huis (van die De Wijns) by die Hartebeespoortdam nie, dan gaan rus jy ‘n paar dae en is jy ook nie so alleen nie.” Dit was soos dit later sou blyk ten diepste nie haar plan nie, maar so het Johan geglo, die Here se agenda. 

Evangelis Vilho Shijandja, ‘n Kwanyama afkomstig uit die destydse Suidwes-Afrika, en Johan het toe al ‘n veldtog of twee in Suid-Afrika saam gewerk en oor dinge in “sy land” gesels. Die dinge waarvan Vilho gepraat het was vreemd vir Johan, van die slegte behandeling van kontrakwerkers wat swaar gekry het op sommige plase tot Vilho se eie ondervindings met leeus. By die dam het hulle heerlik ontspan, berg geklim en dikwels saam gebid, ook natuurlik vir Suidwes en Vilho. Na ‘n tyd van gebed en Bybelstudie neem Johan, Vilho se Bybel en sê: “Ek gaan hierdie versie in jou taal lees en ek beloof jou ek sal dit nie weer vergeet nie... Weet jy waarom ek dit doen? Net om daardeur vir jou te sê, binne twee jaar sal ek in jou land gaan dienste hou.” Die vers was Johannes 1:12. Vilho was bly oor sy entoesiasme al was Ndonga, nie eintlik sy taal nie. (op daardie stadium was daar nog nie ‘n volledige Bybel in Kwanyama nie en het die meeste Kwanyamasprekendes ‘n Ndonga Bybel gebruik.)

Niemand sover sy kennis gestrek het, het van sy woorde aan Vilho geweet nie, en hier word dit binne ‘n paar ‘n kort tyd nou ‘n werklikheid. Dit was ‘n heuglike vreugde. Twee maande na sy belofte by die dam was Johan, Vilho en ander spanlede op weg na Suidwes.

 Dit was die begin van ‘n ingrypende koersverandering in sy loopbaan en lewenslange verbintenis met Suidwes-Afrika wat later Namibië sou word.

In Junie 1961 is Johan dus die eerste keer na Suidwes. Hulle het met ‘n Taunus bussie deur die Kalahari gereis. In Windhoek het hulle in die berugte Ou Lokasie sowel as in die nuwe woonbuurt Katutura gewerk. Dit was ‘n tyd van wonderlike ondervindings en merkwaardige bekerings. In Desember 1961 en Januarie 1962 was Johan vir die tweede keer in Suidwes. Daar is weer dienste in Windhoek gehou en die Aminuis reservaat is ook in Januarie besoek. Die rooi Kalaharisand van Aminuis was te veel vir die Taunus. Toe Johan op ‘n keer wou ratte wissel was daar geen koppelaar nie. So in tweede rat ry hy toe tot by die van der Westhuizens waar hy tuis was. Die man het darem geduld gehad en meer kennis van voertuie as hy. Die een na die ander stuk rubber is versny om die nodige koppelaaronderdeeltjie te maak. Maar elke keer sodra die koppelaar getrap word spuit die vloeistof uit. Met die laaste probeerslag het die Here egter hulle gebede verhoor...

Die Taunus het sy deeltjie gedoen, maar was duidelik nie geskik vir die toestande in Suidwes veral vir daardie jare nie. Dis dan nou waar die besondere verhaal van die groen Land Rover in die prentjie kom...

Johan was nou reeds in Suidwes gewees, maar streng gesproke was die belofte aan Vilho om in sy land te preek nog nie vervul nie, want sy land was eintlik Ovamboland in die verre noorde. Johan het gevolglik ‘n brief aan pastoor Hukka, die hoof van die Finse Sending in Ovamboland gepos om toestemming te vra om in dié gebied te gaan werk. Die antwoord het gekom: “As jy net evangelisasie werk wil kom doen is julle baie welkom om in Julie volgende jaar (1962) te kom.”

Hierdie goeie nuus het uitbundige vreugde gewek. “Ek gaan Ovamboland toe!” Johan se gasheer en ou skoolmaat, die apteker Pierre Retief by wie hy in Windhoek tuis was, het op sy tipiese dröe manier gereageer: “En waarmee dink jy sal jy Ovamboland toe gaan, seker nie met die Taunus-bussie nie. Vir Ovamboland het ‘n mens ‘n Land Rover nodig.” “Wel, God stuur my, en as Hy my stuur sal Hy ook die Land Rover stuur.” Met die woorde net so “profeties” uit sy mond as sy belofte aan Vilho by die dam, stap hy toe na sy kamer en gaan op sy knieë. Hier bid hy ‘n ernstige smeekgebed tot God vir ‘n Land Rover. “Here, U stuur my na Ovamboland, stuur nou asseblief ook vir my ‘n Land Rover.” Al het hy geen idee gehad hoe die Land Rover kon kom nie, was daar ook geen twyfel dat God sou voorsien nie. 

Johan is per trein terug na Pretoria. Sy vriend Danie Blom, ‘n oud medestudent van die Bible Institute te Kalkbaai  het vir ‘n tyd sy werk kom oorneem in Suidwes. Eers na hulle troue in Februarie 1962 sou hy en Ria terug gaan na hulle groot taak in die Dorsland...

Met sy aankoms by die sendingstasie te Roslynn by Pretoria, vind hy een van die werkers besig om ‘n kappie te bou vir ‘n Chev bakkie. Hy hoor toe die onderlangse fluisterstemme wat sê: “Die bakkie is joune vir Suidwes.” Hy was baie lief vir Chevrolet bakkies, terloops, hy het groot geword met Chev voertuie. Daardie dae was jy mos of ‘n Fordman of ‘n Chevman en Johan was laasgenoemde. Maar dit was nie ‘n Land Rover nie en hy het gebid vir ‘n Land Rover...

Na hulle troue in Heidelberg, Kaap was hy en Ria met ‘n span werkers op die plase te Odendaalsrus. Die tyd vir Danie om terug te keer uit Suidwes het aangebreek. Hy stuur toe ‘n telegram en vra of hy met die Taunus (waarmee hy in Suidwes gewerk het) moes kom of met die trein. Johan was toe verplig om die sendinghoofkantoor te skakel. Die gesprek het as volg verloop: “Tannie, Danie het getelegrafeer om uit te vind of hy met my voertuig moet kom. Ek het op Dorothea verneem dat ek die Chev bakkie gaan kry, wat moet ek vir Danie laat weet?” “Sê maar vir Danie hy moet met die bussie kom. Jy moet na hoofkantoor kom as julle klaar is, ek het iets baie beter vir jou as die bakkie.” Johan druk toe vinnig die spreekbuis toe en sê vir Ria: “Dit is ‘n Land Rover”

Op die hoofkantoor, Eulogia aangekom, vra tant Lettie von Staden : “Raai wat het ek vir jou?” “‘n Jeep”, antwoord Johan. “Nee nie ‘n Jeep nie, ‘n Land Rover.” “Ekskuus tannie, maar dit is wat ek bedoel,” borrel dit uit van blydskap. “Maar tannie, ek moet eers vertel hoe ek die Land Rover gekry het. Tannie, ek het een gebed gebid.” En hy vertel haar die verhaal van daardie dag by Pierre.

“Ja” sê sy, “maar ek sal jou ook vertel hoe ons die Land Rover gekry het. Ons het besef die Taunus is te swak vir Suidwes se paaie en ons het ook gebid vir ‘n Land Rover. ‘n Vrou het in haar boedel in Amerika ‘n bedrag geld bemaak en dit was £1334. Toe ons die prys vir ‘n Land Rover gaan uitvind was dit die presiese bedrag. Ons het geweet dit is vir jou Land Rover. Nou kan jy dit gaan haal by Sydney Clow Motors.”

Johan se hart het in aanbidding oorgeloop het. Hulle het ook net daar in gebed dankie gesê. Daardie eerste aand is hy en tant Lettie na ‘n diens van dr. Eric Hutchinson met die Land Rover. Wonderlik genoeg, die boodskap het juis gegaan oor geloof in God. 

Die verhaal van daardie wonderlike groen Land Rover sou seker ‘n boek kon wees.

Pastoor Angula van Ovamboland het eens opgemerk : “Die Land Rover is wonderlik, ‘n mens hoor hom nie loop as hy aankom nie, en jy sien ook nooit dat hy petrol inneem nie.” Johan se antwoord was : “Die Land Rover loop mos nie met petrol nie, maar op geloof.” 

Die Land Rover het wel van brandstof gebruik gemaak, maar was in baie opsigte ‘n geloofskar. Menige man, vrou en kind het in die Land Rover, Jesus Christus as Verlosser leer ken. 

Toe die Land Rover lankal nie meer daar was nie, het Johan steeds na baie jare mense wat die Here gevind het by plekke waarheen die Land Rover hulle gedra het.

So het hulle te Duineveld ’n reeks dienste gehou. Dit was ’n mooi geleentheid waar Ria en toe nog twee kinders saam kon gaan. Veral is bedags by die skoolkinders ook dienste gehou. Dertien jaar later hou Johan by Kalkrand stil om iets by die winkel te gaan kry. Hy het sy bekende wit helmet opgehad. By die deur van die winkel groet ’n jong meisie. “Ekskuus, meneer, maar u sal my nie ken nie, maar is u nie meneer de Koning nie?” “Ja,” sê hy. “Meneer, 13 jaar gelede was ek in standerd 2 toe meneer op Duineveld met die groen Land Rover dienste gehou het, in daardie diens het ek tot bekering gekom. Ek was maar 9 jaar, en weet u ek is steeds op die Here se pad. Oor twee weke gaan trou ek, en die man met wie ek gaan trou het ook onder meneer se diens tot bekering gekom”.

Wat ‘n vreugde om so ‘n getuienis te kon hoor. Toe hy vir sy vriend, Ds. George Hugo van hierdie voorval vertel was sy opmerking: “Dit is die seën wat ’n mens beleef na ’n lang bediening …”


Die groen Land Rover met sy TP registrasienommer in diens van die evangelie iewers in die Noorde.

Donderdag, 04 Julie 2013

HELP DIT OM TE BID?

- Ja, selfs ’n diktator kan nie keer dat God sy kinders help nie!

In die media is daar soms ‘n debat aan die gang of gebed enigsens ‘n verskil maak. Die argumente wat rondgestrooi word, ontbloot  natuurlik  net die mens se totale onkunde oor gebed.  Die algemene vertrekpunt is dat gebed ‘n metode is om die lewe hier op aarde geriefliker vir onsself te maak. ‘n Towerstaffie wat  probleme soos armoede, siekte en misdaad van ons voorstoep af moet weghou. Waar hierdie probleme na gebed nie verdwyn nie, gryp godloënaars (en veral die nuwe arrogante Afrikaanse ateïste) dit gretig aan as bewyse dat God nie bestaan of nie gebede kan verhoor nie. Wat ‘n dwase mistasting!  Die hele konteks en aard van gebed soos dit veral in die Onse Vader na vore kom word gerieflikheidshalwe verswyg. Gebed is nie ‘n greep op God om Hom in ons diens te stel nie, maar is juis  die manier hoe ek myself tot sy diens beskikbaar stel, in die groot doelwitte van die eer van sy Naam, die koms van sy Koninkryk en die doen van sy Wil! En ja, wie hiermee besig is, kan inderdaad vir sy Hemelse Vader vra om te voorsien wat ons op hierdie pad nodig mag kry. Ons is mense met fisiese nood en ons mag dus bid vir ons daaglikse behoeftes, ons is steeds onvolmaak en het vergifnis nodig en mag daarvoor bid, ons is in ons oppadwees na God se doelwitte teikens van die Satan en mag daarom bid dat God ons van die bose sal bewaar! (Kliek op U-draai in die Binnekamer)

Ek het onlangs weer ‘n aangrypende voorbeeld van gebedsverhoring raakgelees in Jan Pit se boek, “PARAAT VIR DIE EINDSTRYD”. Dis ‘n dramatiese antwoord op gebed  wat hy en die bekende Broer Andrew van GEOPENDE DEURE destyds in Uganda onder die gruwelbewind van die diktator Idi Amin beleef het. Dis maar net ‘n bevestiging, dat God gebed verhoor, soos Hy wil, maar dit gebeur in die konteks van ons bevordering van sy eer en die beywering vir sy Koninkryk en die doen van sy wil!

Hier is Jan Pit se verhaal:

In 1976 het Broer Andrew en ek die eerste maal Uganda besoek. Ons was daar op uitnodiging van die Anglikaanse kerk om te sien wat ons vir die Christene in daardie land kon doen. Die nood was groot, en na baie gesprekke met die kerkleiers, het ons besluit om 
50 000 Bybels na Uganda te stuur.

Dit was ‘n gevaarlike reis, maar ons het geweet dat daar baie gebedsgroepe was wat saam met ons in die stryd was. Die vrug op hulle voorbidding was ‘n geweldige oorwinning. Die dag voor ons terugreis, het ons na die reisburo in Kampala gegaan om ons vlug te bevestig. Hoewel ons geldige vliegtuigkaartjies gehad het, blyk dit skielik dat ons name op die waglys staan. Ons sê toe dat ons ons terugreis reeds in Kenia bespreek het en dat hulle dit via die rekenaar kon nagaan.

Die dame glimlag net en sê dat daar nie rekenaars in Uganda is nie. Ons name was heeltemal onder aan die waglys, met 16 name voor ons s’n. Die probleem was dat ons visums die volgende dag sou verstryk het. As ons dus nie plek op die vliegtuig kry nie, sou ons die volgende dag onwettig in Uganda wees. Vriende het vir ons gesê dat dit waarskynlik ‘n plan van Idi Amin was om vir ons in die moeilikheid te bring en dat ons daarom op die waglys geplaas is.

Ons kon hoog of laag spring, niks het gehelp nie. “Nou, as hoogspring nie help nie, laat ons dan maar na die Hoogste bid”, het Broer Andrew gesê. Ons het teruggegaan na ons hotelkamer en daar neergekniel voor die Here.

Ons het geweet dat dit ‘n geestelike stryd was. Idi Amin wou ons nie laat gaan nie. Ons gedagtes het uitgegaan na ons gebedsvriende. “Here, lê dit op hulle harte om vir ons te bid,” het ons vir die Here gevra. Ons het gepleit op God se belofte dat Hy in al ons behoeftes heerlik sal voorsien.

Was ons nie dan sy ambassadeurs nie? Dan moet ons tog ‘n ambassadeursbehandeling verwag!

Die vliegtug sou die middag om vyfuur vertrek. Ons besluit om vroeg na die vliegveld op Entebbe te gaan om te kyk of daar nog iets vir ons gedoen kan word. Toe ons daar kom, was daar niemand te sien nie, behalwe twee passasiers wat ook al opgedaag het. Hulle het by die toonbank gestaan waar ons later ons bagasie moes inweeg.

Na ‘n halfuur het nog meer passasiers gekom en agter ons kom staan. Die ry het langer geword. Die dame wat vir ons die sitplekkaartjies moes gee, daag egter nie op nie. Dit was al vyfuur en nog was sy nie daar nie. Gelukkig kon ons die vliegtuig sien, klaar om te vertrek. Om halfses kom sy toe, saam met ‘n Ugandese soldaat. Hy gaan staan agter die toonbank en roep uit dat ons moet stilwees en luister. Dit word dadelik doodstil. Toe verskaf hy die volgende mededeling : “Dames en here, u moet goed na my luister. Ek wil g’n paniek hê nie. Daar is ‘n probleem, want ons weet nie waar die passasierslys is nie. Ons begin dus voor; wie eerste gekom het, sal eerste gehelp word.”

Broer Andrew en ek kyk vir mekaar. “Halleluja! Halleluja!” sê ek saggies, om daarna gou my mond te hou. Stel jou voor dat die soldaat dit hoor! Vyf minute later het ons ons instapkaartjies.

Ons sitplekke is nie aangewys nie, want dit was nie nodig nie. Die vliegtuig is gewoonweg gevul; wie te laat gekom het is teruggestuur. Broer Andrew en ek het as die eerstes die vliegtuig ingestap! Ek vra toe vir die lugwaardin waar ons moes gaan sit. “U kan gaan sit net waar u wil, meneer, die hele vliegtuig is tot u beskikking!”

Werklike ambassadeursbehandeling! “Dankie, Here...eh...Juffrou”, sê ek, en sak in die eerste die beste stoel. Later het ons gehoor hoe die Here dit op die harte van gebedsvriende gelê het om vir ons te bid. “Ek het so baie aan julle gedink en geweet dat julle in die moeilikheid was, “ sê ‘n suster later aan my.

Dit is die realiteit van die geestelike stryd. Ons gebedsvriende was nie by ons in Uganda nie, maar het geweet dat ons in die nood was. Hulle het gebid... en die passasierslys het verdwyn!


Saam met die psalmis kan al God se kinders net bely en mekaar aanspoor: 

“o Hoorder van die gebed, tot U moet alle vlees kom!” 
(Psalm 65:2)