BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Donderdag, 27 Junie 2013

SOOS JESUS?

- Kok sing ook in die koor.

Volgens die dagblad BEELD het prof. Kobus Kok van Tukkies gesê daar is aspekte van Mandela se lewe wat hom herinner aan Jesus. Hy wys gelukkig darem gou daarop dat hy Jesus nie met Mandela wil gelykstel nie. Dankie prof., maar weet, net bloot om Jesus en Mandela (en ook sommer Ghandi en Martin Luther King)* se name in dieselfde asem te noem wil 'n Christen klaar laat gril! Mensverering bereik in hierdie dae skynbaar nuwe hoogtes...

Ek sou sê Jesus se lewe onderstreep juis dit wat met Mandela s'n fout gegaan het. 

Beide het hulleself in samelewings bevind waar hulle medevolksgenote marginalisering en onreg beleef het.  Maar hulle optrede binne in hierdie situasies was so verskillend en ver van mekaar verwyder soos die Ooste en die Weste! Jesus het nooit opstand of geweld teen die Romeinse onderdrukkers bepleit nie, Mandela was die aanstigter van geweld! Terloops, president Zuma het nou die dag opposisiepartye daarvan beskuldig dat hulle Mandela eensydig voorstel (as die versoenener?), maar die res van sy loopbaan ignoreer of verswyg. Ek dink Zuma is heeltemal reg op hierdie punt! So baie van die loftoeswaaiers het blykbaar heeltemal vergeet waarom Mandela deur 'n hof tronk toe gestuur is en is hardkoppig blind vir al die gruwels wat Umkhonto we Sizwe gepleeg het!

Jesus is onskuldig veroordeel, juis omdat Hy God se wil ten alle tye gedoen het. Dit kan geensins van Mandela gesê word nie!

Die grootste onderskeid tussen Jesus se aardse loopbaan en die van Mandela word egter sigbaar as dit gemeet word aan die norm van God se wil. Jesus het volmaak die wil van sy Vader eerste gestel en nêrens kom dit duideliker na vore as in sy worstelgebed in die tuin van Getsemane nie : "Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!" Het Mandela hom beywer vir God se wil of was hy dalk meer gedienstig aan die sekulêre humanisme en die ideale en inspirasie van sy rewolusionêre mentors soos Castro en kie? Die feite is daar vir elkeen om na te gaan...

Ek kom nie tot dieselfde konklusies as Kok nie!

*Die berig meld ook onder andere : Alle groot profete-leiers is gebore in omstandighede van krisis en wanhoop. Dit is wat van visioenêre leiers maak wat hulle is, sê Kok. Leiers soos Moses, Jesus, Gandhi, Martin Luther King en Mandela het almal ’n lang lydingspad geloop ter wille van ander.
Dís hoe profete werk. Profete is ikone, simbole, aantreklike voorbeelde van dít wat hulle in gedagte het.

Saterdag, 22 Junie 2013

JESUS EN DIE SWAARD

Wat maak ons met sy skokkende uitspraak in Matteus 10:34 en verder?

"Moenie dink dat Ek gekom het om vrede op die aarde te bring nie. Ek het nie gekom om vrede te bring nie maar die swaard.  Ek het gekom om tweedrag te bring tussen ‘n man en sy vader en tussen ‘n dogter en haar moeder, tussen ‘n skoondogter en haar skoonmoeder; ja, ‘n man se huismense sal sy vyande wees."

“Swaard en tweedrag”, kan dit regtig die woorde wees van die Prins van Vrede? Pas dit nie dalk eerder by Mohammed en sy Islam nie?

Die nag toe Jesus gebore is het die engele met hemelse note uitgeroep: “Vrede op aarde...” Inderdaaad het Jesus ‘n boodskap van vrede gebring en ander aangemoedig om vrede na te jaag. In die bergrede leer hy tog duidelik: “Geseënd  is die vredemakers want hulle sal kinders van God genoem word.” Jesus se hele doelwit was tog vrede. Hy het juis mos  gekom sodat daar vrede tussen ons en God kan wees. Jesus het ook sy dissipels uitgestuur met ‘n boodskap van vrede. Ons lees daarvan in die begin van hierdie hoofstuk: "As julle in ‘n stad of dorp kom, stel dan vas by wie julle daar kan tuis gaan en bly by hom totdat julle die reis voortsit.  As julle in die huis kom, wens die mense vrede toe.” (Matteus 10:11,12)

Maar hoe nou? Ons hoor dan nou dat Jesus self sê dat Hy nie gekom het om vrede te bring nie, maar die swaard en tweedrag! Weerspreek Jesus homself of het die skrywer Matteus iewers ‘n liederlike fout begaan?

Kom ons kyk bietjie mooi na hierdie gedeelte in sy konteks.  Jesus stuur sy dissipels op ‘n sendinguitreik en berei hulle voor vir die teenstand wat hulle te wagte kan wees.  Hy praat openhartig oor die vervolging wat voorlê, maar herinner hulle ook daaraan dat hulle nie mense met beperkte mag hoef te vrees nie, maar eerder God, wat liggaam en siel in die hel kan laat vergaan. In die lig hiervan spoor Hy hulle aan om sy naam openlik te bely. Hierdie dinge kan hulle dalk vir hulle vreemd op die oor val en daarom gee Hy nou ‘n belangrike perspektief op sy koms en doel.  Dis asof Hy wil sê: “Julle moet nie verbaas wees oor al hierdie moeilikheid wat ek vir julle voorspel nie, julle moet verstaan dat my boodskap  en bediening noodwendig tot vyandskap en tweespalt gaan lei.”

Ons kry in Jesus se woorde ‘n rowwe verwerkte aanhaling uit  die Ou Testamentiese profeet  Miga. “Die seun beledig sy pa, die dogter kom in opstand teen haar ma, die skoondogter teen haar skoonma. ‘n Man se huismense het sy vyande geword. Maar ek sal vertrou op die Here, ek sal wag vir die God wat my red. My God sal my gebed verhoor.” (Miga 7:6) Dit gaan daaroor dat die profeet weet dat hy teenstand en vyandskap van sy eie mense sal moet verduur (dalk sy vrou – sien vers 5) om in die geloof te volhard.

Jesus bring verdeeldheid omrede nie almal sy boodskap van vrede aanvaar nie. Sommige reageer positief en bekeer hulle, ander verset hulle bly onbekeerd en verhard. Reeds toe Jesus die twaalf apostels uitgestuur het, het Hy met hierdie dubbele reaksie rekening gehou en hulle daarop voorberei. Daarom sê vir hulle:

“As die huismense se gesindheid goed is, handhaaf julle vredewens vir die huis. Maar as hulle nie goedgesind is nie, trek julle vredewens dan terug.
As iemand julle nie ontvang nie en nie na julle woorde luister nie, gaan uit sy huis of uit daardie dorp uit en skud die stof van julle voete af.
Dit verseker Ek julle: Dit sal in die oordeelsdag vir die gebied Sodom en Gomorra draagliker wees as vir daardie dorp." (Matteus 10:13-15)

Die probleem is nie by Jesus se boodskap nie, maar by die mense wat sy boodskap van bekering en vrede verwerp!

Omdat nie almal Jesus se boodskap aanvaar en voor Hom wil buig nie, omdat sommige vir Jesus en ander teen Jesus kies, bring dit verdeeldheid binne ‘n gemeenskap, ja, selfs binne families, huisgesinne en eggenotes! Die evangelie bring nou reeds ‘n mate van skeiding in aanloop tot die groot en finale skeiding wat eenmaal by die wederkoms sal plaasvind. Die eggo van Sodom en Gemorra (15) is ‘n belangrike leidraad. Net soos die engel wat Lot hulle kom waarsku het, aangedring dat hulle hulle moes afskei van hulle ongelowige verwante en stadsgenote in die aangesig van die naderende oordeelsvuur, net so skei Jesus mense af van die ongelowiges deur die verkondiging van sy bekeringsboodskap!

Jesus se woorde oor die familie in vers 37 klink baie hard. “Hy wat sy vader of moeder liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie; hy wat sy seun of dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.” Wat sou dit beteken? Natuurlik, Jesus begeer nie familietwis nie, maar Hy wil tog nie hê dat mense ter wille van familie se opinie en invloed die ewige lewe moet misloop nie!* Om Jesus te volg kom eerste, al moet ek dan nou my ongelowige ouers of rebelse kinders ongelukkig maak en myself hulle gramskap op die hals haal!

Neem standpunt in vir Jesus in alle omstandighede, anders is jy nie werd om Hom te volg nie!

Die rede vir die ervaring van verwerping deur jou eie mense kry ons in vers 38. Jesus sinspeel duidelik hier op sy eie kruisdood. Ja, Jesus is die bewerker van ewige vrede, maar juis sy boodskap en optrede het die swaard eerstens oor Homself gebring.  Jesus se pad na vrede het via die bittere en eensame kruisdood geloop. Sy verkondging van God se wil het daarop uitgeloop dat Hy op wrede manier gekruisig is. Jesus is deur die wêreld gehaat en vervolg, en daarom moet ons wat aan Hom behoort ook bereid wees om gehaat en vervolg te word.

Vra jouself : Word ek vervolg oor my Christenskap?

Ons keuse om ter wille van Jesus vervolg te word, is maar net die verlengstuk van sy eie lyding in hierdie wêreld! Die lojaliteit teen die gekruisigde Jesus maak ook ons onaanvaarbaar vir ander mense!

Jesus se woorde moes baie skokkend vir die dissipels gewees het! Dit klink nou asof volgelingskap van Jesus net tot onmin, geweld en vernietiging sal lei!  Is dit dan nog die moeite werd om Jesus te volg? Bring dit nie maar net moeilikheid nie? Daarom bemoedig Hy hulle in vers 39. Wie op aarde sy lewe verloor (dit verwys na al die vyandskap en teenstand wat God se kinders moet verduur, selfs tot die dood toe) sal dit juis vind! Die tydelike verliese wat ons lei omdat ons Jesus volg, word opgevolg  met ewige wins! Die wins van die Koninkryk!

Jy sê jy wil Jesus volg. Dis goed so. Maar wees realisties, wees voorbereid om harde bene te kou, dink mooi voor jy sommer net "ja", sê.  Hou rekening met die gevolge. (sien Lukas 14:28ev) Hier op aarde gaan dit vir jou nie altyd vrede bring nie.  Moet onder geen illusie leef nie. Moenie van die mensdom beter behandeling verwag, as wat Jesus te beurt geval het nie. Maar weet ook, dis oor en oor die moeite werd om jou openlik met die verworpe gekruisigde Jesus te identifiseer! By Hom alleen vind ons die lewe!

Jesus is nie ‘n populistiese people’s pleaser  of ‘n beginsellose verdraagsaamheidsvraat nie!

“Jesus en die swaard”, impliseer nie ‘n wrede Jesus nie, maar ‘n Jesus wie se kompromislose liefdesboodskap van bekering en vergifnis vir die meerderheid van sondaars onaanvaarbaar is - daarom het die swaard op Hom (en sy volgelinge) neergekom! Jesus bring noodwendig verdeeldheid, want niemand kan neutraal staan teenoor Hom nie!

Aan wie se kant is jy?


*Eksegese : erkenning aan Jakob Van Bruggen 

Dinsdag, 18 Junie 2013

MELINDA,

God hou nie van mengelgodsdiens nie!

‘n Tyd gelede het my oog op ‘n BBC artikel oor ‘n baie moderne sangoma, Thabiso Siswana geval. Daarin lees mens :

“She lets out a piercing cry, her body starts shaking violently, her hands are clapping to the rhythm of large African drums - she is calling out to her ancestors. Thabiso Siswana is a traditional healer, known in South Africa as a sangoma.”

Ingeligtes weet dat voorvaderaanbidding eintlik maar ‘n vorm van satanisme is. Die sogenaamde manifestasie van die voorvaders is niks anders as ‘n maskerade van demone nie. Dis egter nie die skokkendste nie. Wat mens die meeste ontstel van Thabiso is dat sy kan verklaar : “We are Christians at home and we go to church like everyone else”

Dit laat mens wonder, beteken die naam Christen nog enigiets?

Die onkunde van wat Christenskap behels, vind mens egter nie net by die aanhangers van tradisionele Afrika godsdienste wat deur die heidendom verblind is nie, maar in al toenemender mate by kerklik gepleisterde westerse afgodsaanbidders wat heeltemal mislei is deur hulle kompromie met die gode van gierigheid, magsbeheptheid, wellus en wêreldsgesindheid. Ek het geen persoonlike vendettas nie, maar die “uitgesproke Christen”, Melinda Bam, voormalige mejuffrou Suid-Afrika met haar uitlokkende uitrusting se aanwysing deur FHM as “sexyste vrou”  noop my om my mond oop te maak. (en dalk ‘n paar snorbaarde te trek...)

Wat sê God se Woord oor sulke vermenging van lig en duisternis?

GOD HAAT MENGELGODSDIENS

Dis eintlik vanselfsprekend, want Hy alleen is die Skepper van hemel en aarde. Hy alleen is die ware Verlosser van sy mense. Daarom kry die volk Israel die duidelike opdrag na hulle wonderbaarlike verlossing uit Egipte : “Jy mag geen ander gode voor my aangesig hê nie.”

Natuurlik was hulle nie gehoorsaam nie, en moes tot hulle groot skade en skande agterkom dat God bedoel wat Hy sê. Die debakel van die goue kalf in Eksodus 32 het dit baie duidelik gemaak.* Dit was ‘n klassieke poging tot godsdiensvermenging. Nadat Aäron ‘n goue kalf gemaak het kondig hy aan (hoor bietjie mooi): “Môre is daar fees tot eer van die HERE.” Ja, die fees word nog steeds in die naam van die HERE gehou, maar op die heidense manier van dansery en goue kalf verering! God was (en is) nie hiervoor te vinde nie en dit wek sy toorn op.

God se verwerping in die Ou Testament van alle vorms van kompromie en sinkretisme is welbekend. Dink maar aan koning Jerobeam se poging tot godsdiensvermenging ter wille van sy persoonlike sekuriteit (1 Konings 12) en God se oordeel daarop. (1 Konings 13) Jerobeam het gevolglik ‘n standaard voorbeeld van afvalligheid geword!

Ook die Nuwe Testament maak dit duidelik dat God heilige afsondering van sy kinders verwag. Natuurlik hoef God se kinders hulle nie self in kloosters op te sluit nie, maar daar is sekere mense en gebruike waarmee ons niks te doen mag hê nie. Paulus kon hierdie beginsel kwalik duideliker gestel het as in 2 Korintiërs 6:14-7:1 waar hy skryf :

"Moenie in dieselfde juk trek saam met ongelowiges nie, want watter deelgenootskap het die geregtigheid met die ongeregtigheid, en watter gemeenskap het die lig met die duisternis? 

En watter ooreenstemming het Christus met Bélial, of watter aandeel het die gelowige met die ongelowige? 

Of watter ooreenkoms het die tempel van God met die afgode? Want julle is die tempel van die lewende God, soos God gespreek het: Ek sal in hulle woon en onder hulle wandel, en Ek sal hulle God wees, en hulle sal vir My 'n volk wees. 

Daarom, gaan onder hulle uit en sonder julle af, spreek die Here; en raak nie aan wat onrein is nie, en Ek sal julle aanneem; 

en Ek sal vir julle 'n Vader wees, en julle sal vir My seuns en dogters wees, spreek die Here, die Almagtige.

Geliefdes, hierdie beloftes is ook vir ons. Laat ons ons dan reinig van alles wat liggaam en gees verontreinig, en ons in gehoorsaamheid aan God volkome aan Hom toewy."

Die weiering tot kompromie wat ware Christene se lewe kenmerk is juis die grootste rede waarom hulle verwerping en vervolging van die gemeenskap in die gesig staar. Kinders van God is teen-die-stroom-swemmers en hulle word nie deur goddeloses met toekennings vereer nie, maar eerder bespot en beswadder! So stel 1 Petrus 4:3,4 die verwerping van Christene deur die goddelose samelewing as ‘n feit: 

“In die verlede toe julle nog heidene was, is julle lewe lank genoeg beheers deur julle heidense begeertes: losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg— en drinkpartye en afskuwelike afgodery. Nou vind die heidene dit vreemd dat julle nie langer met hierdie stroom van losbandigheid saamgaan nie, en hulle beswadder julle.”

As mens oor heiligheid praat kom die die Christelike partytjiegangers natuurlik altyd met die skynslim teenvraag : “Het Jesus dan nie saam met tollenaars en sondaars geëet en gedrink nie?” Ja, Hy het beslis. Hy het bemoeienis gemaak met die verworpe klasse van die destydse samelewing, om hulle tot bekering te roep. (Matteus 9:13 OAV) Met Melinda se halfnaakte uitrusting roep sy duidelik nie FHM se uitgewers of lesers tot bekering nie, maar lok sy hulle eerder uit tot sonde. Enige vergelyking van soortgelyke gedrag met Jesus se optrede is absurd en grens aan lastering of dan ten minste gruwelike Skrifverdraaiing.

Dit lyk my asof alle Christelike onderskeidingstekens afgespoel word in ‘n modderbad van morele relatiwisme. Christelike vrugte is vervang met ‘n valse verdraagsaamheid. Vergete is die opdrag om te verafsku wat sleg is en vas te hou aan wat goed is. (Romeine 12:9) Die benaming “Christen” het totaal niksseggend geword.

Is Thabiso en Melinda Christene? Is Naas Botha ‘n Stormer? Is Julius Malema ‘n Voortrekker?  Is Robert Mugabe voorsitter van die TLU? Is die Pous ‘n Protestant..?

Vir 'n Christelike standpunt oor skoonheidskompetisies, kliek op Sneeuwitjie se Stiefma.

*prentjie : the living lettre chronicles



Vrydag, 14 Junie 2013

SLAAF OF KIND?

- die belangrike waarheid vir die verstaan van Christelike vryheid.

Is jy in jou verhouding met God ’n slaaf of ’n kind? Dis ‘n baie belangrike vraag waaroor Galasiërs 4:1-10 mens ernstig laat dink.


“1. Hierby wil ek nog dít sê: Solank ‘n erfgenaam nog minderjarig is, verskil sy posisie nie werklik van dié van ‘n slaaf nie, al behoort die hele erfenis aan hom.

2. Tot die dag wat sy pa bepaal het, staan hy onder toesig van voogde en word sy besittings deur bestuurders beheer.

3. En so is dit ook met ons. Toe ons nog geestelik onmondig was, was ons slawe van wettiese godsdienstige reëls.

4. Maar toe die tyd wat God daarvoor bepaal het, aangebreek het, het Hy sy Seun gestuur. Hy is uit ‘n vrou gebore en van sy geboorte af was Hy aan die wet onderworpe

5. om ons, wat aan die wet onderworpe was, los te koop sodat ons as kinders van God aangeneem kon word.

6. En omdat ons sy kinders is, het God die Gees van sy Seun in ons harte gestuur, en in ons roep Hy uit: "Abba!" Dit beteken: Vader!

7. Jy is dus nie meer ‘n slaaf nie; jy is nou ‘n kind van God. En omdat jy sy kind is, het God jou ook sy erfgenaam gemaak.

8. Daar was ‘n tyd toe julle nie vir God geken het nie en slawe was van nikswerd afgode.

9. Maar noudat julle Hom leer ken het, of liewer, noudat Hy julle ken, hoe val julle dan nou weer terug na daardie minderwaardige en armsalige wettiese godsdienstige reëls? Wil julle van voor af weer slawe daarvan wees?

10. Julle hou aan om besondere dae en maande, feesgeleenthede en jare te vier.”


Slaaf of kind? 

Daar is ’n baie groot verskil. In destydse huishoudings was dit algemeen om slawe in die huis te hê. Hulle was eintlik maar deel van die huishouding en is soms ook selfs goed behandel. Maar tog is daar ‘n groot dieperliggende onderskeid. Wat is dan nou die verskil tussen ’n slaaf en ’n kind?

Die slaaf is net tydelik deel van die huis (hy kon enige dag verkoop word), ’n kind is permanent deel van die familie.

Die slaaf is vasgevang in ’n sisteem van pligte en reëls; die kind staan in ’n verhouding.

Die slaaf se waarde het net gelê in sy bruikbaarheid, dit wat hy kon doen; die waarde van ‘n kind kan nie gemeet word in geld of nuttigheid nie; dit gaan oor verwantskap! (Vir hoeveel verkoop mens ‘n kind?) Dit gaan oor onvoorwaardelike liefde!

Die slaaf moet die eienaar aanspreek as meneer of baas; die kind het die unieke voorreg om die eienaar, Vader, Pa of Pappa te noem!

Baie mense wat dink hulle is Christene is eintlik maar net (godsdiens) slawe! 

Hulle is miskien amptelik deel van die kerk en godsdienstig bedrywig, maar het nog nooit verstaan of beleef wat dit is om kind van God te wees nie. Paulus skryf baie ernstig oor hierdie saak, want daar was mense in die Galasiese kerk wat weer wou terugkeer na ’n slawesisteem van wette. ( Mosaïse wette soos die besnydenis en die onderhouding van Joodse feesdae). Dit wys ons op ’n skrikwekkende moontlikheid : Selfs ook ware van kinders van God loop die risiko om terug te val in ’n slawementaliteit en die vreugde van hulle kindskap te verloor!*

Is jy dalk ’n slaaf? (Toets dit bietjie)

’n Slaaf se lewe word gereguleer deur pligte en reëls, maar daar is min vreugde. Baie godsdienstiges is so. Jy probeer altyd om reg te leef, om in jou spore te trap, jy probeer die regte dinge doen... jy kom kerk toe, jy lees Bybel, jy bid, maar die blydskap in die Here is afwesig!

’n Slaaf word beheer deur vrees en onsekerheid, hy is gedurig bang dat hy ’n fout maak en gestraf word. So is baie se godsdiens : ek is onseker of God my liefhet, ek is onseker of Hy my vergewe het, ek is gevolglik bang vir die dood, bang vir die oordeel, bang vir die ewigheid! Ek kan nie regtig met vreugde en verwagting na die koms van Jesus uitsien nie, want sê nou ek maak dit nie regtig nie? Sê nou maar ek is nie goed genoeg nie?

Die slaaf ken net ’n werknemer-werkgewer verhouding, maar niks van ’n Pa-kind verhouding nie. Godsdiens is vir my ’n werk en nie ’n verhouding nie. Dis ’n swaar las van pligte wat my moedeloos maak en psigies uitmergel!

’n Baie goeie voorbeeld van ’n slaaf mentaliteit kry ons in die gelykenis van die Verlore seun, in die karakter van die oudste seun. Op die oog af het dit gelyk asof als reg is met hom : hy het nie weggeloop nie, hy het nie sy pa se geld op hoere geblaas nie, hy het al sy take en pligte uitgevoer... maar weet jy wat? Toe die Pa ’n fees hou vir die teruggekeerde seun toe kom daar ’n uitbarsting wat ’n nare geheim ontbloot : “Kyk al die jare werk ek soos ’n SLAAF vir Pa!” (Lukas 15:29) Wat sê dit? Daar was al die tyd ’n opgekropte bitterheid in hierdie seun. Hy was binne die vaderhuis, hy het nooit weggeloop nie, maar ook hy het geen verhouding met sy Pa gehad nie. Hy was maar nes ’n slaaf, uiterlik hou hy die reëls van die huis, maar binne geen liefde en verstandhouding met sy pa nie! (Kyk verder hieroor deur te kliek op DIE VERLORE SEUN 2)

My vriend, dink mooi : Jy is godsdienstig, dalk ernstig godsdienstig, maar is jy werklik ’n kind, of is jy net ’n slaaf?

Hoe word mens ’n kind? Wel, dis juis hoekom God sy Seun Jesus as mens gestuur het. (4) Kyk, ons is almal slawe van nature. Ons staan onder God se wette en omdat ons sondig is, breek ons daardie wette. Dit kla ons gewete aan, dit veroordeel ons, dit verskrik ons want ons weet ons verdien straf! En dis hoekom Jesus as mens gekom het, ook as mens onder die wet. Maar Hy het ons losgekoop van die wet. (5) Hoe het Hy dit gedoen? Hy het dit op twee maniere gedoen:
~Hy het die wet namens ons, in ons plek volmaak gehoorsaam. Daarom, as ek Jesus aanvaar, dan word ek ook beskou as iemand wat die wet volmaak hou. (Ek is mos in Christus!) 
~Maar Jesus het nog verder gegaan. Hy het die straf wat die wet vir ons voorgeskryf het, in ons plek gevat. (Jesaja 53:5,6) Die straf wat die wet vereis vir die sonde is die dood. Jesus het my sonde op Hom gevat en gesterwe in my plek. Die wet, om dit so te stel is nou tevrede, die straf is voltrek. Wie Jesus aanvaar het, kan beslis weet, my eie persoonlike sondes is klaar gestraf. Ek hoef nie meer in vrees en onsekerheid te leef nie, ek kan nou as ’n kind leef in die Vaderhuis.

Die basis van ons vryheid as kind van God is geleë in die radikale feit van ons vryspraak (regverdiging). 

God hou niks meer teen ons nie, in Jesus het Hy ons volkome aanvaar en ons verhouding met Hom is nie op enige manier afhanklik van ons prestasies nie! Ons kan Hom nou net voluit liefhê.

Omdat Jesus die prys betaal het, word elkeen wat op Hom vertrou as God se kinders aangeneem! En God gee ons ’n baie duidelike bewys van kindskap in ons harte! Wat is dit? Vers 6 (Lees) 

Die Heilige Gees, die Gees van Jesus woon in ons harte en bring ’n innige verhouding tot stand met ons Vader. Ons kan nou werklik vir God sê : “Vader, Pa” Hierdie waarheid word so duidelik gestel in Romeine 8:15 : “Die Gees wat aan julle gegee is, maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie weer in vrees lewe nie; nee, julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en wat ons tot God laat roep: "Abba!" Dit beteken Vader.” 

Nie meer slawe wat vrees nie, maar kinders wat liefhet!



Hierdie verhouding tussen my en God as my Vader reguleer nou my lewe en vorm die basis van my Christelike vryheid!

Prakties beteken dit: Ek lewe nou ’n heilige lewe, nie bloot omdat ek bang is vir reëls en straf nie, maar omdat ek my Vader wil eer en liefhê! Ek gaan gereeld kerktoe, nie omdat dit ’n harde wet is nie, maar omdat ek hier my Vader se woorde en teenwoordigheid geniet. Ek lees nou die Bybel nie as bloot ’n dorre plig nie, maar ek wil graag die stem van my Vader hoor. Ja, die kind hou hom nog by reëls, en daar is ook vir kinders pligte. Maar die hele motief, die hele verhouding is iets anders! 

Is godsdiens vir jou hierdie dorre sware plig? Heel moontlik is jy net ’n slaaf? Heel moontlik het jy nog nooit verstaan wat Jesus kom doen het nie, heel moontlik het jy nog nooit die volle verlossing wat Jesus bewerk het verstaan of aanvaar nie! 

Dis net ‘n kind van God wat waarlik die vreugde van Christelike vryheid kan smaak, maar natuurlik ook die groot verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan moet hanteer! Om vry te wees en uit ‘n vrywillige hart my Vader te dien en te gehoorsaam, sonder om daardie vryheid te misbruik en so my Vader te ontstel en my medemens te benadeel. Hieroor is Paulus baie duidelik :

“Julle, broers, julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ‘n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.
Die hele wet word in hierdie een gebod saamgevat: "Jy moet jou naaste liefhê soos jouself."
Maar julle byt en verskeur mekaar; pas op dat julle mekaar nie later heeltemal verslind nie.
Wat ek bedoel, is dít: Laat julle lewe steeds deur die Gees van God beheers word, dan sal julle nooit swig voor begeertes van julle sondige natuur nie.” (Galasiërs 5:13-16)

Die radikale vryheid van die Christen, maar ook die radikale liefdesdiens wat hieruit voortvloei is so treffend deur Martin Luther saamgevat : "‘n Christen is die mees vrye heer oor alle dinge, aan niemand ondrworpe nie; ‘n Christen is die mees diensvaardige kneg, aan almal onderworpe." Hierdie oënskynlike teenstrydigheid word immers deur Paulus self as volg geformuleer: “Hoewel ek vry is en van niemand afhanklik nie, het ek my aan almal diensbaar gestel om soveel mense as moontlik vir Christus te wen.” (1 Korintiërs 9:19)

Die kind van God moet sy vryheid uitleef onder die voortdurende leiding van die Heilige Gees, anders kan dit so maklik ontspoor deurdat ons toegee aan ons sondige begeertes!

PRAKTIESE RIGLYNE VIR CHRISTELIKE VRYHEID

My Christelike vryheid sal ek uitleef met die volgende sake in gedagte (Kyk veral na 1 Korintiërs 6 :12-20 en 8) :

Is hierdie ding wat ek wil doen bevorderlik en heilsaam vir my verhouding met die Vader en tot sy eer? Ek kan dalk redeneer, “dit is geoorloof”, maar is dit vir my nuttig?

Getuig my optrede van die bewustheid dat my liggaam nou ‘n woonplek (tempel) is van die Heilige Gees?

Hou my keuses rekening met die feit dat ek as hele mens (liggaam en siel) losgekoop is deur Jesus Christus en dus nie meer aan myself nie maar aan Hom behoort? (meer hieroor by VREEMDE VRYERS) Is my besluite ‘n weerspieëling van dankbaarheid hieroor?

Hoe raak my besluite ander swakker Christene? Gaan dit hulle benadeel of laat struikel?

Die maatstaf van my vryheid as kind sal wees liefde tot my Vader en liefde vir sy kinders!

Die praktyke van die sondige natuur druis baie duidelik teen hierdie liefde in (Galasiërs 5 :19-21), terwyl die vrugte wat die Heilige Gees in God se kind voortbring (Galasiërs 5:22) duidelik die stempel van liefde dra. Dit vervul dan ook die oorspronklike bedoeling van die wet.

Die kind van God bevind himself in ‘n opwindende verhouding : Die Vader het ons al ons skuld vergewe en gee vir ons die heerlike geleentheid om Hom vrywillig lief te hê!

Hoekom langer ’n slaaf wees? Aanvaar heelhartig die versoening van Jesus en word ’n kind! Kindwees, open ’n nuwe toekoms! As jy kind is wag daar vir jou ’n heerlike ewige toekoms! Vers 7 (Lees) 






Onthou dis net kinders wat erf, slawe kry niks!

*Pasop : Dis selfs vir kinders van God weer moontlik om deur mooi woorde weggelok te word terug na ‘n sisteem van slawerny. (soos wat die Hebrew Roots Movement graag doen. Kliek op : Wortels van Verwarring) Dis juis waarom Paulus hierdie gedeelte skryf. Maar ons almal moet maar versigtig wees om nie die kosbare verhouding van kindskap te verwaarloos en geleidelik te verstar in harde godsdienstige slawerny van uiterlike reëls en ‘n hartelose pligsaanbidding nie!






(Foto's : Ons jong volwassenes het onlangs die saak van Christelike vryheid oordink toe ons op Ohange Lodge gaan uitspan het)



Sondag, 09 Junie 2013

GOD SE VERBONDSTROU

staan onwrikbaar vas, maar vra van jou ‘n keuse!

Hoe kan ek seker wees die Here het my vergewe? Hoe kan ek daagliks sonder vrees leef en weet dat God vir my sal sorg?  Hoe kan ek moed hou te midde van swaarkry en vervolging? Hoe kan ek in die aangesig van die dood, op die drumpel van die ewigheid, vrede beleef en weet dat God my as sy kind aangeneem het?

Ek kan net vrede en sekerheid beleef as ek ten volle oortuig is dat God getrou is aan sy beloftes! Maar hoe weet ek dat God altyd sy beloftes hou? Die antwoord kry ons in die verbond.  (God se kontrak) Die vraag is dan : Was God deur die eeue getrou aan sy verbondsbeloftes? Wat sê die feite? Dis tog maar feite wat tel. In die alledaagse lewe het ons dit mos al baie teëgekom- mense maak pragtige beloftes, maar niks gebeur nie.  

Wat van God, doen Hy sy beloftes gestand?

Kom ons kyk na die getuienis van die geskiedenis. Vir ongeveer vier honderd jaar is die nageslag van Abram nou al in Egipte.  Baie ellende en miskien baie vrae. Wat het geword van God se beloftes? Van ‘n eie land?  Het God vergeet, is Hy dalk magteloos? Dis net swaarkry en ellende. Dit gaan al erger. God se volk roep tot Hom. Dan lees ons:

“Die jare het verbygegaan, en die koning van Egipte het te sterwe gekom, maar die Israeliete het nog steeds gesug en gekreun onder die swaar werk. Hulle geroep om hulp het tot God opgegaan.
God het hulle gekerm gehoor en aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob gedink. Hy het die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem.” (Eksodus 2:23-25) 

Hoor mooi : “God het...aan sy verbond gedink” Dit beteken nie dat God vir ‘n tyd van sy verbond vergeet het nie – God kan nie vergeet nie – dis maar menslike taal om te sê, God het besluit om te reageer op sy verbondsbeloftes. God het besluit dis nou die tyd om op te tree soos Hy beloof het aan Abram.

In die volgende hoofstuk sien ons wat God se aksie behels. (eintlik het God lankal al begin met die voorbereiding, met Moses in die mandjie...die opvoeding in die Egiptiese paleis...) Maar nou word dinge tot ‘n spits gedryf, God openbaar Homself aan Moses in die brandende bos en roep hom om die volk uit Egipte te lei. (Eks 3:1-10) Let veral op vers 6. “Verder sê Hy: "Ek is die God van jou voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob." Dit kom daarop neer, Ek is die God wat met hulle ‘n verbond gesluit het, en Ek gaan nou die volk red omdat Ek getrou is aan my verbond! (nie omdat die Israeliete so oulik was nie!)

Ons ken die geskiedenis verder. God het getrou gebly aan sy verbond en die volk uit Egipte verlos deur Moses. Oppad na die land Kanaän het God sy verbond met Israel by die berg Sinaï vernuwe en die wet vir hulle gegee. Maar ons ken ongelukkig ook die hartseer geskiedenis van wat met Israel gebeur het in die beloofde land. Hulle het oor jare en jare ontrou geword aan God se verbond, totdat God gesê het : “Genoeg is genoeg!” Hulle is verdryf uit hulle land in ballingskap in Babilonië. Maar was dit die einde van als? Gelukkig nie. Die volk was ontrou, maar God kan nooit ontrou wees nie. God se liefde maak dat Hy nie moed opgee nie. Deur die profete het God ‘n nuwe verbond belowe. ‘n Beter verbond. In die plek van die ongehoorsame mens sou Hyself ‘n betroubare mens as verbondsvenoot stuur, Jesus Christus.

Die getrouheid van God aan sy verbondsbeloftes bereik ‘n hoogtepunt met die koms van Jesus, as Hy gebore word uit die maagd Maria. Kom ons luister na haar loflied nadat sy deur die Heilige Gees swanger geword het. (Lukas 1:46-55)  Hoor wat sê sy in 1:54,55 – “Sy dienaar Israel het Hy te hulp gekom deur te dink aan sy beloftes van ontferming soos Hy dit toegesê het aan ons voorvaders, aan Abraham en sy nageslag tot in ewigheid." Weereens, dit gaan oor die getrouheid van God aan sy verbond...eeue en eeue nadat Hy die verbondsbeloftes aan Abram gemaak het.

Die geskiedenis gee dus ‘n duidelike uitspraak : 

God doen wat Hy beloof in sy Verbond. 

God se Verbondstrou staan onwrikbaar vas. Dis die vaste fondasie van ons hoop en sekerheid. Nie ons  wispelturige gevoelens of wisselende emosies nie, maar God se vaste verbondsbeloftes!

Glo jy God se beloftes? Dis baie maklik om vas te stel. Het jy jou al tot Jesus Christus bekeer en tot geloof in Hom gekom? Het jy al jou rug gedraai op die sonde en die genade aangegryp? Jesus, die Gekruisigde Verlosser is die hoogtepunt en vervulling van God se verbondsbeloftes, in Hom is al die genadebewyse van God gekonsentreer. Hyself is God se volledige Verbondspakket!  Jy kan Hom persoonlik vertrou, want God kan nie lieg nie. Romeine 10:11 sê : “Niemand wat in Hom glo sal teleurgestel word nie” en 13 “elkeen wat die Naam van die Here aanroep sal gered word”

God se verbondsbeloftes dwing mens tot ‘n keuse.  Dit deel alle mense in twee kampe.

As ek dit glo en my tot Jesus bekeer is dit die fondasie van sekerheid en blydskap, want ek weet God doen wat Hy beloof.

As ek my nie bekeer nie, is God se getrouheid aan sy woord juis die bevestiging van ‘n ewige verdoemenis. In Hebreërs 2:3 vra die skrywer : “hoe sal ons dan ontkom as ons so ‘n groot saligheid verontagsaam het?” Ja, as ek Jesus verwerp (selfs deur Hom net te ignoreer) bly daar geen ander verwagting oor as ewige smart nie.

As God mos die waarheid praat wanneer Hy redding beloof, beteken dit ook dat Hy die waarheid praat as Hy ewige straf beloof. 

God se onkreukbare integriteit sny immers na twee kante toe! Verlossing maar ook oordeel.


Mag ons almal betyds positief reageer op God se getrouheid, op sy heerlike waar beloftes... Omhels Jesus Christus in sy volle genadeheerlikheid!


Greg en Anja Williams met klein Lincoln. 

Dinsdag, 04 Junie 2013

OP MAURITIUS?


- of waar blom die regte liefde?

So maklik en so dikwels verwyt ons God : “Waarom verander God nie my omstandighede nie? Ek bid nou al hoe lank oor my finansies, maar dit verbeter nie. Ons moeilike kind word net al moeiliker, my kwaai vrou word net al kwaaier, my foutvinderige skoonma net erger, my onbillike baas al hoe brutaler! Dis als net te moeilik vir my. Hierdie mense gaan nog my siel hel toe sleep, hulle maak dit onmoontlik vir my om ‘n Christen te wees!"

Kom ons stel dit as ’n feit - die omstandighede hier op aarde is nie maklik nie. Vir ingeval jy dalk vergeet het, die paradys op aarde is iets van die verlede en geen politieke party, protesoptog of probeerslag gaan dit kan terugbring nie. Mag ek jou net vriendelik herinner : Ons bly op ’n vervloekte aarde. God self het alles aan verganklikheid onderwerp! (Romeine 8:19,20) Die sonde het groot verwoesting aangerig. Almal en alles word daardeur geraak... Baie mense verkeer onder ’n valse indruk. Hulle dink as hulle hul lewens vir Jesus gee gaan alles sommer regkom: die gout gaan verdwyn en die bediende gaan nie meer die stofsuier breek nie... Weet u in die meeste gevalle werk dit nie so nie. Mense wat so maklik getuig - alles is reg vandat ek ‘n Christen geword het, lieg of is nog nie lank op die pad van die Here nie. Wees eerlik - God beloof nêrens dat ons hemel op aarde sal hê nie.

Nou wat verander dan as ek Christen word? Die Woord sê tog immers : alles word nuut. Weet u - die kind van God se reaksie op slegte en moeilike omstandighede verander. Jy beleef nog dieselfde probleme, maar jy reageer nou anders…

Hierdie beginsel kom baie duidelik na vore in die oorbekende 1 Korintiërs 13. Ons weet mos almal dit gaan oor die liefde. Nou sit ons met ‘n probleem : as daar van liefde gepraat word, dink meeste van ons aan ‘n romantiese gevoel, ’n tropiese eiland toneeltjie… Hier gaan dit egter nie oor liefde as ’n gevoelsbelewenis nie. In 1 Korintiërs 13 gaan dit oor liefde as ’n heilige selfbeheerste reaksie in negatiewe, slegte en moeilike omstandighede.

Kom ons bekyk hierdie liefde van naderby. As ons nou deur die verskillende fassette of aspekte van die liefde gaan sal u oplet dat almal ’n negatiewe situasie of omstandigheid veronderstel. Liefde behels dat ek nou anders moet reageer as wat ek normaalweg sou… ek moet anders optree as wat ‘n onbekeerde sou optree… 

Jy kan amper sê dat die liefde geaktiveer word deur slegte omstandighede! 

Die liefde vra amper, tree verkeerd op teenoor my dat ek kan wys wat beteken liefde! 

Kom ons bekyk die anatomie van Geesgewerkte liefde soos dit vir ons beskryf word van vers 4 tot 7.

DIE LIEFDE IS:

geduldig. Ek moet geduldig wees in omstandighede wat my normaalweg ongeduldig sou maak. As alles vinnig en volmaak gebeur soos ek dit bestel, is geduld mos in elk geval nie nodig nie. Dit gaan nie net daaroor om geduld te hê as ek byvoorbeeld in die motor moet sit en wag nie. Maar veral geduld met andere se foute, swakhede, gebrekkige verstaan, se gesukkel ook in hulle geestelike lewe. Liefde maak tyd vir die ander om by te kom, te leer, te verstaan. As dit vir jou moeilik is - dink bietjie na oor God se geduld met jou sedert en voor jy 'n Christen geword het... Hoe lank praat hy nou al met jou oor daai slegte gewoonte…?

vriendelik. Ek moet vriendelik wees, nie net in ’n lekker situasie waar mense met my vriendelik is nie (dis mos maklik), maar juis in omstandighede waar dit vir my moeilik is. Waar ek dalk sou wou kwaad of negatief sou geword het. Egte vriendelikheid, is juis vriendelikheid met diegene wat nie met my vriendelik is nie.

nie afgunstig nie. Dis die uitdaging van egte liefde, juis in omstandighede waar ek dalk minder kry as ander, slegter behandel word as ander, oor die hoof gesien word... Die liefde aanvaar daar is ander wat mooier, slimmer, sterker, beter is as ek. Vir sulke liefde is daar 'n diep vrede in my hart nodig oor wie en hoe God my gemaak het. Ek berus in Sy pad en doel vir my lewe.

nie grootpraterig nie, nie verwaand nie. Juis in slegte omstandighede waar ek myself graag op die voorgrond sou wou plaas. Die kind van God vol liefde probeer himself nie bewys nie, hoef homself nie te laat geld nie, of met angs sy kleim af te steek nie.

handel nie onwelvoeglik nie. Die liefde behandel mense op die regte manier, juis wanneer ander my nie reg behandel nie. Wat behels dit? Volgens die voorskrifte en beginsels van die Skrif byv. : “Doen aan andere wat jy graag aan jouself gedoen wil hê.” Die liefde tree reg op, juis wanneer ander verkeerd en lelik met my maak!

soek nie eie belang nie. Hierdie fasset van die liefde kom juis veral na vore in omstandighede waar ek moet veg vir oorlewing. Die liefde druk nie voor in die ry in as die kos te min is of die tyd opraak nie... Die liefde kies teen selfgesentreerdheid en vra eerder : Hoe gaan dit hom of haar raak? Wat sal vir hom die beste wees? Dit kyk nie in die eerste plek waar kan ek wen of 'n slag slaan ten koste van my naaste nie. Die liefde weerhou homself van subtiele maniere van selfsug soos lyf wegsteek as ander al die werk moet doen.

is nie liggeraak nie. Juis in omstandighede waar ek seergemaak word of in ’n situasie is waar ek verloor of fouteer. Liefde kan verloor. Kan kritiek verwerk. Dis 'n teken van liefdeloosheid om altyd bedreig te voel en reg te staan om my self te verdedig. Net so is selfbejammering ook dikwels 'n teken van liefdeloosheid : “Kyk wat het hulle nou weer aan my gedoen.” Die liefde sê : “God sal reg laat geskied!” Liefde bevorder ‘n ontspanne houding en sien nie altyd in ander se woorde 'n bedekte aanval op my nie, en al is dit so reageer ek glad nie daarop nie.

hou nie boek van die kwaad nie. Ook hier word duidelik negatiewe omstandighede veronderstel, want as almal mooi met my is, is daar mos niks om van boek te hou nie! Liefde skenk volledige vergiffenis aan almal wat verkeerd teen my optree. (Terloops dit sal altyd so wees - ook in enige gemeente) Die Christen se enigste hoop is dat God my sondes my nie sal toereken nie. Hoe kan ek enige iets teen iemand anders hou? Ware liefde neem nie wraak nie. Ja, natuurlik sal niemand van ons iemand gaan skiet of sy huis afbrand nie, maar wat van al die subtiele vorme van wraak soos stilstuipe of om die ander een net te ignoreer? 

verbly hom nie in onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid.  Die liefde is juis in slegte situasies nie neutraal en staan maar net eenkant nie, nee dit kies kant vir dit wat reg is en teen dit wat verkeerd is. Die liefde is dus nie net 'n soetsappige gevoel nie, maar beywer hom vir die norme wat die Skrif stel in ’n bose en slegte omgewing. Liefde sal dus soms veroorsaak dat ek my teen die opinie van die meerderheid moet uitspreek, as dit nie strook met die Skrif nie...

bedek alles. Juis in slegte situasies waar ander fouteer sê die liefde : “Ek gaan jou behandel asof jou foute nie bestaan nie.” Ek gaan steeds kies om vir jou lief te wees, al weet ek van die vuil sokkies onder die bed... Ek gaan kies om nie te skinder en jou foute aan ander oor te vertel nie.

glo alles, hoop alles. Die liefde streef om die bona fides van andere te aanvaar. Die liefde is nie altyd agterdogtig nie, dit vertrou dat ander Christene ook deur die Gees gelei word. Dit gee aan ander die voordeel van die twyfel. Die liefde berus in die feit : oordeel is in elk geval God se saak. 

verdra alles. As dit goed gaan is daar niks om te verdra nie, dis juis in slegte omstandighede waar liefdevolle verdraagsaamheid moet blom! Ja, verdraagsaam ook as manlief vergeet het om die kragrekening te betaal en hulle sny dit af, as vroutjie vir die soveelste keer die kar gestamp het, as die buurman se hond weer my tuin omgeploeg of die vuilgoedsakke stukkend geskeur het....Die groot toets vir die liefde is of dit onreg kan verdra, of dit nog steeds liefhet al word ek te nagekom of benadeel in die proses. Dis ook die groot verskil tussen gewone menslike gevoel en die liefde van Christus! 

WARE LIEFDE BLOM IN DIE KONTEKS VAN ONREG EN MOEILIKE OMSTANDIGHEDE!

1 Korintiërs 13 bevestig dat ’n Christen nog steeds met slegte omstandighede te kampe het, anders sou dit nie nodig gewees het om hierdie hoofstuk te skryf nie. ’n Christen se omstandighede word nie verander nie, wat verander is jou reaksie binne in daardie omstandighede. Anders gesê - Die Heilige Gees wat in die kind van God kom woon verander nie noodwendig jou omstandighede en die mense rondom jou nie, maar stel jou instaat om anders te reageer as voorheen in daardie selfde omstandighede. Hierdie reaksie is radikale liefde. Dis ’n liefde ten spyte van negatiewe omstandighede, moeilike mense en onseker toestande! Hierdie liefde is net moontlik as jy wedergebore is, want dis ‘n vrug van die Heilige Gees!

Naskrif : As mens eerlik na die norme van ware liefde kyk, dan besef jy weer : Ek is ‘n sondaar met ‘n bose hart wat werklik behoefte het aan ‘n Verlosser!



Saterdag, 01 Junie 2013

AANKLAG VAN DIE MOEDSWILLIGES :

“Julle, Christene is nie konsekwent nie.”

So dikwels verskyn daar siniese opmerkings in die media wat neerkom op : “Julle Christene is inkonsekwent, julle veroordeel homoseksualiteit omdat dit in die Bybel verbied word, maar hoekom stenig julle nie ongehoorsame kinders nie? Dis mos ‘n bevel wat mens ook  in die Bybel kry.” (Snaaks dat mense so lief is vir hierdie “steniging van kinders” argument – nou die dag sien ek ‘n ou gebruik dit om nie meer in die bestaan van ‘n hel te glo nie.) Of – “Hoekom eet julle skulpvis, daar is dan ‘n duidelike verbod daarop in dieselfde Bybel?  Hoekom eerbiedig julle nie al die bevele in Levitikus nie? Julle pick en choose net wat julle pas.”

Sulke uitlatings klink natuurlik vir oningeligte ateïste,  skeptici,  Skrifskenders en  Kletskerk aanhangers  baie oortuigend, maar enigiemand wat met nugterheid na die totale konteks van die Bybel kyk behoort geen probleem te ondervind om die kwaadwillige dwaasheid van hierdie tipe stellings raak te sien nie.

Kom ons probeer verduidelik. Die antwoord lê in kort in die heerlike, maar eenvoudige feit dat Jesus gekom het en die hoogtepunt van God se openbaring is.  “Nadat God baie keer en op baie maniere in die ou tyd gespreek het tot die vaders deur die profete, het Hy in hierdie laaste dae tot ons gespreek deur die Seun” (Hebreërs 1:1)

Jesus het as Middelaar van ‘n beter Nuwe Verbond, die Ou Verbond met sy instellings en wette vervang. Waarom offer ons nie meer bulle, skape en bokke nie? Daar is mos duidelike voorskrifte hieroor? Vir elke evangeliese gelowige is die antwoord baie eenvoudig.  (sien die hele Hebreërs 8-10) Jesus se offer van Homself aan die kruis was  as finale offer algenoegsaam vir die kwytskelding van al ons sondeskuld en dit maak verdere bloedoffers totaal onnodig. “Maar Jesus  Christus het één offer vir die sondes gebring... Deur die één offer het Hy dié wat vir God afgesonder word, vir altyd volkome van sonde vrygemaak.”  (Hebreërs 10:12-14) Trouens, enige bloedoffer sou vandag neerkom op ‘n miskenning van sy kruisdood.

Ja, maar wat van al die etiese opdragte soos die verbod op die veelbesproke skulpvis?  Hoekom hou Christene deur al die eeue hierdie wette nie meer nie? 

VERANDER, VERDIEP, VERSKERP, VERVUL

Jesus self het hierdie dinge duidelik kom verander. Hy het byvoorbeeld alle kos rein verklaar (Markus 7:19) en op 'n ander keer direk teen die Ou Verbond se bepalings aan ‘n melaatse geraak (Markus 1:41) en hom genees. As Seun van God, wat groter as Moses is het Hy die gesag om dit te doen. In sommige gevalle het Hy die bepalings van die Ou Verbond verdiep en verskerp soos wat Hy gedoen het met die gebod dat jy nie mag egbreuk pleeg nie! (Matteus 5:27-30) In hoofsaak het Jesus nie die wet (tora) sommer net summier afgeskaf nie, maar Hy het dit vervul. Hy het dit nie weggegooi nie, maar aan die anderkant het Hy dit ook nie maar net onveranderd gehandhaaf nie. Jesus het alles tot hulle diepste en finale bedoeling gebring. Daarom kon Paulus sê dat iets soos die sabbat ‘n skaduwee (teken/heenwysing) na Christus was. (Kolossense 2:16,17) Die sabbat was ‘n tydelike wegwyser na Christus, maar noudat Hy gekom het, mag ons nie meer daarby vashaak nie. Die werklike saak waaroor dit gaan is Jesus Christus self en ons moet aan Hom alleen vashou!

Beteken dit dat Ou Testamentiese wette en veral ‘n boek soos Levitikus niks meer vir ons te sê het nie? Inderdaad bly dit deel van God se Woord en is daar steeds baie nut daarin om dit te bestudeer. Ons kyk egter daarna deur die bril van Christus se afgehandelde werk. Die groot grondbeginsels  wat  hierdie wette onderlê soos die heiligheid van God (vgl  1 Petr 1:16 met Lev 11:44,45 ens.), die opdrag tot liefde vir God en die naaste, die oproep tot God se mense om anders te wees te midde van ‘n korrupte heidendom ens. spreek nog steeds kragtig tot ons. Soms word opdragte van die Ou Verbond wel direk en onveranderd in die konteks van die Nuwe Verbond herhaal, soos : “Eer jou vader en jou moeder” (Efesiërs 6:2)  In so ‘n geval weet ons dat dit presies net so op ons van toepassing bly. Die verbod op homoseksuele gedrag wat ons in Levitikus vind, val ook in hierdie kategorie, want die Nuwe Testament verklaar ook duidelik dat dit sonde is.* (Romeine 1:18-32; 1 Korintiërs 6:9-11)

DAAR BESTAAN DUS BAIE GOEIE REDES WAAROM DIE KERK STEEDS GLO DAT HOMOSEKSUALITEIT TEEN GOD SE BEDOELING MET DIE MENS INDRUIS, MAAR DAT DIE EET VAN KREEF NIE 'N SONDE IS NIE.

En wat dan nou van die “steniging” van ongehoorsame kinders? God se volk, die kerk van Jesus, anders as onder die bedeling van die Ou Verbond vorm nie ‘n staatkundige en etniese eenheid wat burgerlike wette moet daarstel nie. God se volk  is nou versprei in baie state en onder baie volke. Die beginsel van straf vir ongehoorsaamheid geld steeds, maar die Nuwe Testament  bemoei hom nie met die voorskryf van burgerlike strawwe nie. Die Nuwe Testament lê die klem op die verkondiging van die evangelie, die eis tot bekering en die najaging van heiligmaking. Dis nou genadetyd, maar daar wag ‘n finale oordeel...

Alle oordele en strawwe in die Ou Testament is maar eintlik voorfilms van die finale afrekening wat by die wederkoms sal plaasvind!

O, en as jy gewonder het oor ‘n hel, ja daar is so iets, want Jesus het nogals baie en baie duidelik daaroor gepraat!

Vir meer oor die geheelkonteks en groot prentjie van die Skrif, kliek op LUGFOTO VAN DIE BYBEL


*Oor die hele kwessie van die kerk se houding teenoor  die vraagstuk omtrent homoseksualiteit  beoog ek om vorentoe in diepte op in te gaan.