BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Dinsdag, 30 April 2013

BESINNING IN BOESMANLAND

- oor rentmeesterskap. 



‘n Groep manne was bevoorreg om die afgelope naweek in die natuurskoon van Boesmanland uit die Bybel na te dink oor ons verantwoordelikheid voor God. Elke kind van God sal eendag verslag doen oor wat ek met my geleenthede, gawes, bates, ja met my lewe as geheel gedoen het. In hierdie tyd terwyl ons nog op aarde is, word daar van ons verwag om vrug te dra tot eer van God en nie vir onsself te leef nie.

Behalwe vir ‘n paar klein voorvalletjies het ons Vrydag almal Tsumkwe veilig bereik. Roelf se sleepwaentjie het dit egter net-net gemaak – dit was so ‘n amperse wonderwerk dat die ding se bakwerk nie heeltemal van die onderstel afgespring het nie. Die doel hiervan sou ons eers later besef.

KOM KYK EN BELEEF SAAM MET ONS:



Daar is ook manne wie se vaardighede meer insluit as net 4x4 ry! Mooi oom Pieter!
(vir die ouens wat laas in julle "army dae" op Tsumkwe was, ja jy sien reg, daar is nou ook al 'n stuk teerpad in die dorp!)

Saterdag is ons die bosse in. Oom Ollie se merke was orals te sien. Maar waar was hy? Vir Hennie het dit nogals ‘n ernstige kwessie geword soos ons gevorder het al dieper die bosse in... 


Baie groter as olifante is natuurlik die reuse ou kremetartbome.

  Die bekende holboom toon ongelukkig tekens van agteruitgang. Dit herinner ons maar net dat niks op aarde vir altyd is nie. Aan alles en almal kom daar ‘n einde... 



Manus Naude, Johannes de Koning  Pieter Pretorius, Ryno Mans, Deon Louw, Eddie van der Merwe, Pieter-Jan Schoonbee, Hennie  en Hentie Kruger, Buys Steenkamp, Roelf van Tonder, Johan (met die kruk) en Sakkie Steenkamp, Pieter Jooste. (Andre Neethling  het die foto geneem)



Sakkie soek 'n wyer visie...









Hierdie watergat is duidelik die olifante se drinkplek. Vir Eddie is dit darem ‘n geleentheid om ‘n lemoen te eet. 







Andre verduidelik iets. Buys probeer sin maak van die gedenkplate?




Nou raak die onsigbare olifante erg ongeskik. Hulle aktiwiteite het ‘n versperring in die pad veroorsaak en ‘n ompaadjie moet gemaak word. Hennie swaai die byl... 







Deon en Pieter hou die situasie dop... 







Tyd vir ‘n lekker noenontbyt onder ‘n groot hardekool. 

Pieter, Ryno,   en Manus.


‘n Groepie vriendelike Boesmans doer in die bos bied ons die geleentheid om iets van die Here se liefde in die vorm van mieliemeel met hulle te deel. Pieter Jooste gee ook sommer raad oor patatsplant. Hierdie ouma was deel van die groep.



Oppad deur die bos....

Ons bereik die Ahaberge. Ja, reg gehoor, hierdie plat heuweltjies in die konteks van ‘n vlakte vol Kalaharisand is berge! 





Pragtige herfskleure by die Ahaberge.









Die tergende vraag van : “Waar is Oom Ollie?” word amper op rampspoedige wyse beantwoord.” Roelf word darem genadiglik ‘n botsing met die meneer gespaar, maar dit kon maklik anders gewees het. (dan was hy minus ‘n waentjie en bakkie...)



Saterdgaand kon ons weer lekker saamsing met behulp van Eddie se begeleiding en heerlik rondom die Woord vergader. Daar is nie meer diesel beskikbaar nie, so die Here wysig dus ons planne vir Sondag en ons besluit om nie verder rond te ry nie. 

Na Sondag se byeenkoms gaan besoek ons vir Louise Steyn. Sy kry ‘n goeie klompie voorraad en sommer ook Roelf se afgetrede waentjiebak as ‘n pakplek! Toevallig...?


Louise by haar blyplek.








Nogmaals 'n groot dankie aan Roelf van Tonder vir al die reëlings en moeite en sommer almal wat saam was! Ons moet beslis weer so maak...

As jy nou nie hierdie keer kon saamkom nie, kan jy darem nog so ietsie ervaar van waarmee ons besig was. Kom maak oop jou Bybel en kyk bietjie saam met ons manne na die uitdagende gelykenis van Jesus in Lukas 19:11-27. Dit bring ons by die vraag : WAT MAAK EK MET MY LEWE? 

1. Die agtergrond in vers 11 is belangrik. Die dissipels het gedink die Koninkryk van God gaan sommer nou dadelik aanbreek in Jerusalem. Hierdie gelykenis gee ’n duidelike antwoord, dat daar nog ’n tydsverloop sal wees tot by die finale koms van die Koninkryk eers by Jesus se wederkoms. Die gelykenis sê vir ons hoe ons hierdie tyd moet benut tot by die wederkoms. Hierdie tyd op aarde voor die wederkoms is baie belangrik, ons moet dit reg gebruik. Ons sal rekenskap hieroor moet gee. 

2. Vers 14. Sommige mense is teen Jesus se koningskap gekant (die onbekeerdes) en hulle sal by die wederkoms gestraf word. Sien vers 27. Terloops : Het jy al persoonlik Jesus se koningskap oor jou lewe aanvaar? 

3. Die klem van dié gelykenis lê egter op die geleenthede en vrugdra van die diensknegte van Jesus (God se kinders) in hierdie tyd voor die wederkoms. Elke kind van God (ook jy as man) word as ’n rentmeester aangestel. Dit beteken dat die Here geleenthede, mense, werk, bates ens. aan jou spesifiek toevertrou het tot by sy wederkoms en dan sal jy rekenskap moet gee wat jy hiermee gedoen het. 

4. Dink oor die verantwoordelikhede wat God aan jou gegee het in jou posisie as (gee praktiese voorbeelde wat hierdie verantwoordelikheid behels): 
~ kind van God in ’n gemeente(heel eerste moet ek God met my alles eer en liefhê)............................................ 
~ man van ’n vrou..................................................
~ pa van kinders....................................................
~“besitter/bestuurder” van eiendom, geld ens.......
~ werkgewer/werknemer.....................................................

5. Onthou al hierdie posisies, gawes of geleenthede is net deur God aan jou tydelik geleen, dis nie regtig joune nie, dis soos die muntstukke wat aan die diensknegte toevertrou word om iets mee te doen. Alles wat ons het (of is) moet bestuur en versorg word in belang van God en sy Koninkryk ......hetsy my plek as gemeentelid, my geld, vrou, kinders.... Doen ek dit? Dink ’n bietjie na. Van ons word inisiatief gevra op grond van ons liefde vir ons Here en Verlosser. Die tyd wat ek nou nog op aarde het moet tot die Here se voordeel gebruik word. 

6. Vir die wat hulle geleenthede benut het en hulle verantwoordelikhede nagekom het wag daar heerlike lof en beloning. (Vers 15-19) Die koning het nie hulle winste juis nodig gehad nie, Hy het net hulle getrouheid en liefde getoets! 

7. Vir die ontroue dienskneg wag daar ’n vreeslike lot. (Vers 20-24) Vergelyk ook Matteus 25 :30. 

8. Opvallend : die ontroue dienskneg het nie juis iets verkeerds gedoen nie, hy het net niks gedoen nie! Pasop dat al jou Godgegewe kanse en verantwoordelikhede by jou verbygaan en jy doen net niks daaraan nie. 

9. In hierdie tyd voor die wederkoms moet ons besig wees met dit wat God oor ons pad gebring het. Hy gee nie vir elkeen dieselfde geleenthede of gawes of verantwoordelikhede nie. Dit maak nie saak nie. Ek hoef myself dus ook nie met ander kinders van God te vergelyk nie. Wat wel belangrik is, is dat ek dit wat Hy voor my deur lê voluit sal doen. Interessant : vrees was die oorsaak dat die nuttelose dienskneg niks gedoen het nie! (Vers 21) Dis ’n valse selfsugtige vrees, want wie werklik ontsag vir die Here het sal juis waag en inisiatief neem om dinge aan te pak. 

10. Dis juis die feit van genade wat my bevry van vrees, sodat ek (al is ek bewus van my swakheid) ten volle kan leef, gee en werk in diens aan God. Die volledige vergifnis en vryspraak wat ons as sondaars kry die oomblik wanneer ek my volkome vertroue op Jesus alleen stel, skep vir my die ruimte om voluit vir my Verlosser te leef in al die geleenthede wat hy my bied as lidmaat, in huwelik en gesinsverband, as eienaar en bestuurder van bates, as medemens in die algemeen.


Bid vir Tsumkwe se Boesmans. Oor die wonderlike werk wat God al in die verlede hier gedoen het - kliek op BOESMANS TOT BEKERING

Donderdag, 25 April 2013

WYSHEID UIT WARSKOU


- “ek gee dit vir Jesus.” 


Onlangs het ek ‘n ou boek, TOWERS TO ETERNITY nadergetrek en deurgeblaai. Dit vertel die avontuurlike verhaal van Paul Freed en die stigting van Trans World Radio wat die evangelie oor die lug versprei. Dis ‘n pad van visie, geloof, waagmoed en natuurlik ook offers, waarop God mense moes lei om so ‘n werk te kon verrig. 

Aan die einde van die boek meld hy ‘n aangrypende gebeurtenis wat die essensie van gehoorsame offerhande uit liefde vir my so mooi saamvat. Freed vertel : 

Toe ek in Pole was, het twee jong Christenmans my deur die stowwerige strate gelei van ‘n dorpie naby Warskou om ‘n Christen weduwee te ontmoet. Sy het in ‘n eenkamer gehuggie gebly, sonder enige van die wêreld se vreugdes, maar haar stralende gesig het my vertel dat sy ‘n kind van die Koning was. 

Toe my vriende my voorgestel het as die president van Trans World Radio, het sy gesê : “O, ek weet God het u hierheen gestuur. Ek bid al lank vir u. Ek wil u vertel wat God vir my gedoen het.” 

Sy het my na die deur toe gelei en straataf gewys: “Sien u daardie klein huisie daar oorkant? Een aand het vriende my na hulle huis genooi en my voor die radio laat sit. Vir die eerste keer het ek van Jesus Christus gehoor. My seun en dogter het ook geluister. Ek kan nie vir u die vreugde beskryf wat ons almal gehad het, toe ons op ons knieë neergeval het aan die einde van die uitsending en Jesus daardie aand as ons persoonlike Saligmaker gevind het nie. 

Terwyl ek in haar kamer rondkyk na die ooglopende armoede en besef hoe moeilik dit vir haar moes wees, het ek gesê : “Ek voel so jammer vir jou.” 

Haar antwoord was eenvoudig maar diep. “Voel jammer vir my? Moenie jammer voel nie. Ek is die gelukkigste vrou op aarde. Ek het alles, ek het Jesus Christus.” 

Met ons vertek het sy my arm aangeraak en gesê : “Daar is tog iets wat my hartseer maak. Dertig miljoen mense in my land het Jesus nodig. Waarom is daar net een klein evangelie program ‘n week na dertig miljoen mense? Waarom net een?” 

Ek het gedink die antwoord is vanselfsprekend. “Omdat ons nie die geld het om meer programme op te sit nie”, het ek gesê. 

“O, is dit die probleem? Is dit die probleem?” 

Haar gesig het verhelder toe sy na die hoek van die kamer loop. Ek het gesien hoe sy ‘n klein kratjie van die muur afhaal. Onderin was ‘n koevert wat sy gevat en vir my gebring het. 

“Hier, meneer, dis al wat ek het. Gebruik dit om meer programme uit te saai, sodat meer van my mense hier in Pole van Jesus Christus kan hoor soos ek het. Vat dit asseblief.” 

Ek het in die koevert gekyk en ‘n paar note en munte gesien. Dit het moontlik als en als so ‘n dollar en ‘n half bedra. Ek het my kop geskud en gesê : “Nee, ek kan dit nie vat nie.” 

Ek het geweet dit was al wat sy gehad het, miskien al wat tussen haar en hongersnood gestaan het. 

Sy het direk na my gekyk en met die waardigheid van ‘n koningin gesê : “Meneer, ek gee dit nie vir u nie. Ek gee dit vir Jesus Christus.” 

Ek dink dat wanneer ons kollektes en donasies, ons feeste en verkopings, ons sopkombuise en kombersaksies nie hierdie bogenoemde element bevat nie, is dit als tevergeefs. Goeie werke wat nie gedoen word vanuit geloof in Jesus en vir Jesus nie, is nie ware goeie werke nie! Goeie werke is dit wat uit ‘n evangelieverwarmde hart opborrel om dank aan Jesus te bring... Iets heel anders as die "Social Gospel"


*TOWERS TO ETERNITY, Paul.E. Freed, Texas 1968,


Maandag, 22 April 2013

ONS GAAN DIE WÊRELD REGRUK

- die illusie van die “Social Gospel” 

Gaan ons die wêreld ten goede omkeer en die koninkryk laat kom deur die mens se sosiaal-ekonomiese omstandighede te verander? Gaan almal beter mense word as ons deur ‘n verskeidenheid van programme dit regkry om werkloosheid, onkunde, siektes, ongelykhede en dergelike ellendes uit te wis? Is dit die kerk se primêre taak om ons te beywer vir ‘n wêreldbestaan sonder bomme en ‘n aarde sonder armoediges? Blykbaar dink baie mense in die kerk so en verkondig met groot entoesiasme hulle idees wat mens breedweg as die “Social Gospel” kan tipeer. 

Die “Social Gospel”* is ‘n verskraalde, nee ‘n vals evangelie, want dit: 

1. Lê die klem op die horisontale verhouding tussen mense. Natuurlik is medemenslike verhoudings vir God ontsettend belangrik. Nooit mag ons egter vergeet dat die mens se grootste nood sy gebroke verhouding met God is nie. Die grootste en wortelsonde is immers die oortreding van die eerste gebod : "‘Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel’ en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod.” (Matteus 22:38) Beslis verander die aanvaarding van die evangelie ook mense se onderlinge verhoudinge en selfs hulle ekonomies-sosiale omstandighede. Waar groot getalle mense tot bekering kom soos tydens die Walliese herlewing van 1904 word huishoudings nuut en verbeter lewensstandaarde omdat vaders nie meer hulle geld uitsuip nie, maar vir hulle gesinne begin sorg in lyn met die opvolgende gebod van naasteliefde. Die punt is net, dinge begin nuut word op alle terreine as mens weer in die regte verhouding tot God kom. Dit kom heel eerste. 

2. Hou nie rekening met die totale verdorwenheid en uiterste verlorenheid van die mens nie. Dit gaan klaarblyklik van die veronderstelling uit dat die natuurlike mens tot goeie werke instaat is en opgehef kan word tot 'n Godaanvaarde vlak. Mag ons altyd onthou dat ons beste dade vir God verwerplik is. Moenie my verkeerd verstaan nie. Goeie werke is absoluut God se duidelike wil vir sy kinders, maar dis goeie werke wat voortvloei uit die redding deur geloof. Sulke werke word deur God voorberei en is welbehaaglik vir Hom. Efesiërs 2:8-10 leer ons : “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God; nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie. Want ons is sy maaksel, geskape in Christus Jesus tot goeie werke wat God voorberei het, sodat ons daarin kan wandel.” Mense het eers nodig om gered te word, voordat hulle kan begin nuut leef. En ons moet ook nie sommer aanvaar dat almal wat ons kerkbanke volsit reeds gered is en maar bloot aangemoedig kan word om goeie werke te doen nie. 

Met alle respek, Madonna se “goeie werke” om vir Malawiese kinders skole te bou, tel nie in God se oë as goeie werke nie, want sy doen dit nie vanuit die geloof in Jesus as Verlosser nie! 

3. Maak nie erns met die Bybelse prioriteit en vereiste van die wedergeboorte nie. Om bloot Jesus en sy etiese leringe  (soos in die Bergrede) as voorbeeld na te volg, verleen nie toegang tot die koninkryk nie. Die vereiste is die wedergeboorte, niks minder as ‘n herskeppingswonderwerk nie! Die erns van Jesus se duidelike woorde aan Nikodemus mag nooit uit die oog verloor word nie. Om vir armes boorgate te sink maak nie van my ‘n Christen nie. Nog minder maak dit Christene van diegene wat uit daardie boorgate gaan drink. (lees meer hieroor en kliek op – DIE BOK WAT ‘N LEEU WOU WORD

4. Verkondig dikwels ‘n oppervlakkige Christus, wat deur sommige as net ‘n besondere Joodse rabbi gesien word. Jesus word bloot gedefinieer in terme van sy morele opdragte van naasteliefde. Alles mooi, maar van sy grootste primêre doelwit op aarde naamlik om Homself as offer aan die kruis te gee in plek van sondaars praat hierdie sosiale weldoeners en woelgeeste maar min. Jesus is in die eerste plek die Gekruisigde! Dis Hom wat Paulus verkondig het. Meer nog, Jesus self is baie duidelik as dit by sy hooftaak kom : “Die Seun van die mens het ook nie gekom om gedien te word nie, maar om te dien en sy lewe te gee as losprys vir baie mense." (Markus 10:45) Jesus se kruisdood staan sentraal in die boodskap wat ons moet verkondig.

5. Reduseer die kerk tot net nog ‘n NGO, juis omdat die boodskap van die Gekruisigde Christus verswyg word. Sommige “Christelike” joernalistiek bewys hierdie gebrek baie opvallend.** Mens hoor baie van sop en komberse (en dis wonderlik!), maar selde van sonde oortuiging en bekerings. Daar is baie hulporganisasies wat goeie werke bepleit en organiseer. Dis mooi, maar niks unieks nie, die Moslems doen dit ook. Die kerk volgens sy Bybelse bedoeling is egter iets meer en iets heeltemal anders. Die kerk bestaan uit mense wat deur die geloof verlos is en so lede van Christus se liggaam geword het. Hierdie kerk het die taak om die evangelie te verkondig (Groot Opdrag) sodat mense hulle kan bekeer en aan die Koning kan onderwerp. 

6. Maak dikwels valse “strooipopfigure” van mense wat die Bybelse evangelie verkondig en skiet hulle dan met groot geraas aan flarde. Opmerkings soos “die ou sendelinge het net in mense se siele belang gestel” word gehoor. “Party Christene stel so belang in die lewe hierna dat hulle vergeet om nou te leef”, is ‘n ander beskuldiging. Dis grotendeels so onwaar en onbillik. Dis juis mense wat die herstelde verhouding met God as eerste prioriteit beskou het, wat die meeste vir ander mense se liggaamlike en sosiale nood omgegee en iets daaraan gedoen het te midde van groot opofferings. Dis tog immers die evangelie wat iemand soos die klipharde John Newton se hart verander het en hom teen die slawehandel laat draai het! 

7. Maak ‘n valse teenstelling tussen dade en dogma. Lewe en leer. Die slagspreuk (wat met baie mense resoneer) is : “Deeds not Creeds.” Allerlei aktiwiteite en aksies word voorgehou as die taak van die kerk en die hoop vir die wêreld. Wat mense glo, maak nie regtig meer so saak volgens hierdie siening nie. Die nuwe geslag “Social Gospel” verkondigers glo nie dat daar iets soos waarheid bestaan en dat dit geken kan word nie. (Lees meer, kliek op – KERKBODEKASKENADES) Michael Horton vat die Bybelse balans en volgorde pragtig saam : “Yet the answer is not “deeds over creeds,” but to be re-introduced to the creeds that generate the deeds that are the fruit of genuine faith. Getting the gospel right and getting the gospel out, as well as loving and serving our neighbours, comprise the callings of the church and of Christians in the world. However, confusing these is always disastrous for our message and mission.” Die regte leer, as dit werklik geglo word, sal noodwending tot hart en lewensverandering by die individu lei en onvermydelik ook ‘n impak hê op die breër gemeenskap. Ja, hoe meer bekeerdes daar in ‘n gemeenskap, staatsdiens of land aanwesig is, hoe positiewer die invloed! 

8. Behels ‘n naïwe optimisme dat die mens deur ‘n verskeidenheid van aksies en aktivisme die aarde ‘n beter plek kan maak. Dit maak nie genoeg erns met die feit dat die probleme waarmee die mensdom te kampe het die direkte gevolg van sonde of die indirekte nalatenskap van die sondeval is nie. Horton slaan weereens die spyker op die kop as hy opmerk: “Terrorism, global warming, and AIDS are problems we need to address as responsible human beings together with non-Christians in our common life together… However, the Great Commission is not the Great Cultural Mandate… If we could resolve our top ten crises in the world today, we would still have the devil on our back, sin mastering our heart, and everlasting death as the penalty for our mutiny.” Die wortel van alle ellende is die mens se sonde en dis die unieke taak van die kerk om hiervoor die oplossing aan te bied in die verkondiging van die evangelie. Jesus het immers gekom om sy volk van hulle sondes te verlos. (Matteus 1:29) 

9. Misken of onderspeel die Bybelse hoop wat gerig is op ons ewige erfenis, die opwindende werklikheid van die nuwe hemel en nuwe aarde. Natuurlik leer die Woord ons nie om hande gevou te sit en vir die wederkoms te wag nie. Natuurlik moet ons as verantwoordelike burgers nou hard werk sodat ons (en andere saam met ons) kan eet. Natuurlik, moet ons uitreik na ‘n wêreld in nood en nou en hier sout en lig wees. Dit behels om deur heiligheid (wat barmhartighed insluit) God te eer te midde van ‘n krom en verdraaide geslag. Tog was die fokus van die eerste Christene (juis omdat hulle so vervolg is weens hulle kompromislose lewens) die heerlike erfenis wat wag. Daarom sien Paulus daarna uit om by Jesus te wees, al weet hy dat hy nog werk oor het om te doen op aarde. Christene is realistiese mense. Ons weet dat nie die ANC, of die VN of Siener van Rensburg se aanhangers die wêreld ‘n beter plek gaan maak nie. Ons glo dat hierdie aarde eers deur vuur gesmelt en gereinig sal word, voor God dit gaan herskep by Jesus se wederkoms! “Terwyl al hierdie dinge dan vergaan, hoedanig moet julle nie wees in heilige wandel en godsvrug nie? -- julle wat die koms van die dag van God verwag en verhaas, waardeur die hemele deur vuur sal vergaan en die elemente sal brand en versmelt. Maar ons verwag volgens sy belofte nuwe hemele en 'n nuwe aarde waarin geregtigheid woon.” (2 Petrus 3:11-13) Wat ‘n heerlike vooruitsig! Die Christen neem met blydskap kennis van Jesus se uitspraak teenoor Pilatus : "My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie," antwoord Jesus. "As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie. Maar nou is my koninkryk nie van hier nie." (Johannes 18:36) Hierdie wêreld is ook nie ons finale tuiste nie, ons is bloot vreemdelinge en tydelike bywoners. 

Dis juis Christene wat hierdie hoop op ‘n ewige erfenis die sterkste koester, wat ook nou heilig en gehoorsaam lewe en ‘n verskil maak in ander mense se lewens. Hoekom? Ons weet ons gaan voor ons Koning verantwoording doen, ons weet ook daar wag ‘n beloning! 

10. Dit maak nie onderskeid tussen die Groot Opdrag (die kerk se sendingtaak), die Liefdesgebod (vir alle mense) en ons Kultuurmandaat (om die aarde te onderwerp) nie. Jesus se laaste opdrag is baie duidelik dat ons mense sy dissipels moet maak deur die verkondiging van die evangelie. Sondaars moet uitgedaag word om hulle te bekeer en in Hom te glo. Die kerk mag nooit hierdie primêre fokus verloor nie. Die korrekte aandag aan die ander twee sake is ‘n uitvloeisel van eersgenoemde. Mense wat reeds sy dissipels is sal noodwendig in gehoorsaamheid aan Hom ook ander mense liefhê en in alle verhoudings (ook teenoor die skepping) nuut leef. Hierdie nuwe lewensstyl dien ook weer om die verdere evangelieverkondiging meer geloofwaardig te maak. 


Kan ons iets leer by die “Social Gospel”? Beslis ja! ‘n Mens kan van almal iets leer. (selfs van die duiwel, hy is ‘n voorbeeld van vlytigheid!!) Alle grappies daar gelaat. Ja, dit is so dat daar by sommige opregte Christene ‘n skeeftrekking kan plaasvind. ‘n Oorbeklemtoning van die suiwere leer, terwyl die praktiese Christelike lewe wat naasteliefde insluit verwaarloos kan word. Soos in baie gevalle is die “Social gospel” ‘n dwaling wat deels ontstaan het vanweë ‘n eensydige Christenskap wat liefde tot die medemens verwaarloos het. Die “Social Gospel” bly egter ‘n vals boodskap wat verwerp moet word, maar dit moet ons tog aanmoedig om seker te maak dat ons nie in ivoortorings sal lewe wat die geloofwaardigheid van die evangelie sal skaad nie. 

Voetnotas

*Hierdie is nie ‘n akademiese bespreking van die “Social Gospel” in al sy variasies en uitlopers (soos byv. Bevrydingsteologie) nie. Die term word baie breed oorkoepelend gebruik om die denkrigting aan te dui wat die Bybelse klem op die verhouding tussen God en mens verskuif het na ‘n mensgerigte benadering. Dit word goed beskryf deur H. Richard Niebuhr as volg : “A God without wrath brought men without sin into a kingdom without judgment through the ministrations of a Christ without a Cross.” 

** Ds. Hein Bertram merk tereg op in ‘n reaksiekolom van die aanlyn Kerkbode : “Misdaad, kerkhereniging, seksuele en ander geweld, die aantasting van menswaardigheid, die ekonomie, werkloosheid en arbeidsonrus.”
In die lig van dié stelling moet die sin verderaan verander word na: “Kerkbode is verbind tot die bevordering van die Sosiale Evangelie(Social Gospel).” Die evangelie van Jesus Christus en Kerkbode is twee konsepte wat deesdae oënskynlik totaal vreemd teenoor mekaar staan. 


Dinsdag, 16 April 2013

MOET EK MYSELF VERGEWE

 - in die lig van die Bybelse lering oor vergifnis? 



So dikwels hoor mens : “Ek weet God het my vergewe, maar ek sukkel nog om myself te vergewe.” Dit klink vroom en word seker baie opreg bedoel, maar is dit hoegenaamd nodig om onsself te vergewe? Verwag God so iets van my? 


Die kwessie van selfvergifnis is natuurlik nie net beperk tot Christene nie. Orals in die sekulêre wêreld word die waarde van selfvergifnis aangeprys en raad hieroor is net so volop soos vlooie op ‘n krimpvarkie. ‘n Vinnige kykie op die internet bevestig dit. Die Huffington Post bied ‘n oplossing in “10 Steps to Forgiving Yourself” terwyl wikiHow meen nege stappe is blykbaar genoeg in “How to Forgive Yourself : 9 Steps (with pictures!!!)”. Almal wil help met hierdie saak, selfs oorvriendelike Oprah (nie juis ‘n bron van waarheid nie) op wie se webwerf jy “Time-tested rituals to help you find courage to forgive yourself” kan vind. 

Kom ons stel dit sommer reg hier van die begin af : 

Jy kan jouself nie vergewe nie en jy hoef ook nie! 

Jy kan jouself nie vergewe nie, want net God kan sondes vergewe. In Markus 2:5 het Jesus die ystervark in die skrifgeleerdes se ballonfabriek losgelaat toe hy vir die verlamde man gesê het : "Vriend, jou sondes word vergewe!" Waarom het hierdie uitspraak van Jesus soveel woeling en verontwaardiging veroorsaak? Die skrifgeleerdes het tereg geweet : Net God kan sondes vergewe! Die ontstoke skrifgeleerdes was dus in beginsel reg om kwaad te word. Hulle het egter fouteer dat hulle nie Jesus as Seun van God wou erken nie! Jesus gaan voort om die verlamde te genees, juis om die radikale punt te bewys, dat Hy, die Seun van die mens die gesag het om op aarde sondes te vergewe. Goddelike gesag! Die volmag om sondes te vergewe bewys juis sy uniekheid as eniggeborene van die Vader. Hierdie gesag is nie iets wat ons vir onsself kan opeis nie. Ons sonde, ja alle sonde, ook dit wat ons medemens benadeel het, is in die eerste plek sonde teen God en net God kan dit vergewe. Dit het Dawid goed besef na sy tragiese owerspel en moord. Hy erken : “Teen U alleen het ek gesondig, ek het gedoen wat verkeerd is in U oë” (Psalm 51:6) 

Jy hoef jouself ook nie te vergewe nie, en God se Woord vra dit ook nêrens van jou nie. Nie as jy jou vertroue op Jesus se versoeningsoffer geplaas het nie. Die kruisiging van Jesus was ‘n verskriklike werklikheidsgebeurtenis, nie maar bloot ‘n skyndrama nie. Daar het God beslissend met die sondes van elke gelowige gehandel. Hy het daarmee afgereken! Romeine 8:3 stel dit so : “Wat die wet nie by magte was om te doen nie, omdat dit weens ons sondige natuur te swak was, dit het God gedoen. Hy het met die sonde afgereken deur sy eie Seun in dieselfde gestalte as die sondige mens te stuur; so het Hy die sonde in die sondige bestaan van die mens veroordeel.” Die implikasie van Jesus se kruisdood vir die vergifnis van (al) ons sondes word pragtig gestel in Kolossense 2:13,14 wat so duidelik van God se kinders sê : “Julle was dood deurdat julle gesondig het en deurdat julle sondige natuur nog nie weggeneem was nie. God het julle egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het. Hy het die skuldbewys (dokument) met sy eise teen ons tot niet gemaak. Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem.” My sondige rekord is uitgewis, die dokumente daaroor is vernietig. (Natuurlik, soos iemand dit gestel het, sal die Satan jou probeer herinner aan jou sondes, hy het “photocopies” van daardie dokumente gemaak, maar dit het geen regsgeldigheid nie!) Op grond van Jesus se werk aan die kruis, is die vergifnis wat ons nou in terme van die Nuwe Verbond ontvang, volledig en omvattend. “Oor hulle ongeregtighede sal Ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie", verseker Hebreërs 8:12 ons. So, geliefde kind van God, wat jou hoop op Jesus stel, waarvoor wil jy jouself nog vir vergewe? Wat is oor om te vergewe? Jou skuld is vir ewig en altyd uitgewis! Wat nodig is van my kant is om net hierdie waarhede te glo! Om triomfantelik saam met Paulus as’t ware uitdagend uit te roep: “Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.” As ek met die saak van vergifnis worstel, as my eie gewete of enigiemand anders my aankla, is die antwoord nie om in my eie onstuimige binneste rond te krap nie, maar om my kop op te tel en na die evangelie feite te kyk soos Paulus hier maak : Jesus het mos gesterf, Hy het mos opgestaan, Hy is mos besig om vir my in te tree. Dis mos kranksinnigheid om iets hierby te wil byvoeg, of hoe? Ja, die evangelie beloftes moet geglo word ten spyte van al die negatiewe feite van skuld en skande waarvan ekself so pynlik bewus is. Reddende geloof is ‘n geloof wat baklei teen die sigbare feite. Soos Abram geglo het in God se beloftes ten spyte van die feite oor sy en Sara se verouderde gedane liggame. Gaan lees maar weer Romeine hoofstuk 4.

En hoe op aarde vergewe mens jouself in elk geval? Wat wil jy doen, sê of voel? Een van die wêreldse raadgewers oor selfvergifnisrituele doen die volgende aan die hand : “Learn how to consciously make a sacrifice in light of your desire for forgiveness. You can do therapeutic work, or have a large network of people for support, but still not feel forgiven. That sort of forgiveness comes from a place of surrender. In all wisdom traditions, it was customary to give some kind of offering, or sacrifice, for atonement. You can create your own sacrifice by asking yourself, "What will be my offering?" It could be philanthropy, political activism—something that requires a sacrifice of your time, money or effort. The key is to consciously make that sacrifice in light of your desire for forgiveness.” 

Watse klomp snert! Dis juis die punt. Jesus het mos die offer gebring. Kan daar ‘n groter offer wees as die lewe van God se Seun? Bogenoemde raad wil mens laat skreeu : “Waarom verwerp julle God se Seun en probeer julle julle eie geregtigheid oprig?” 

As jy sukkel en stoei met ‘n skuldige gewete, as jy voel jy kan jouself nie sien as iemand wat rein en skoon voor God en jou naaste kan staan nie, lê die worteloorsaak by een van twee redes : Of jy het nog nooit die Here Jesus as jou Hoëpriester aanvaar nie en maak dus nog staat op jou eie geregtigheid of jy is nog ernstig onkundig oor die volle betekenis van sy kruis en opstanding, al glo jy in Hom. 

Kom na Jesus, kom hoor weer kinderlik wat sê die Woord oor die bevryding van die gewete : “Wanneer die bloed van bokke en bulle en die as van ‘n vers op die onreines gesprinkel word, maak dit hulle uiterlik rein. Hoeveel te meer sal die bloed van Christus ons gewete bevry van die las van dade wat tot die dood lei, sodat ons die lewende God kan dien!” (Hebreërs 9:13,14) 

[Daar kan situasies wees, waar ek medemense te na gekom het en die Here dit op my hart lê om met hulle te gaan vrede maak of skade en skuld te gaan vergoed. (soos Saggeus) Die doel daarvan is egter nie om vergifnis te ontvang nie, dit het God my reeds gegee. Die rede daarvoor is om ‘n getuienis te lewer en in konkrete liefde en vrede met my medemens te leef.] 

Allerhande selfvergewingstegnieke kan dalk tydelike sielkundige verligting bring. Die enigste volledige en ewige kwytskelding van my sonde is egter slegs te vind in die volmaak en genoegsame offer van die Lam van God. Hy het my straf ten volle gedra en my sonde sommer ook weggedra! (kliek op LIG UIT LEVITIKUS) Hierdie offer het my Vader tevrede gestel, die bewys daarvan is die opstanding van Jesus uit die dood, die leë graf... as God dan tevrede voel oor hierdie offer, wie is ek om nie te wees nie?

Rus in die genoegsame offer van Jesus en vergeet wat agter jou lê. Hoe anders sou 'n Paulus of 'n Petrus met hulle donker verledes ooit bruikbare en entoesiastiese instrumente in God se hand kon wees?

Gaan leef in die vreugde van die volle vergifnis wat God jou deur Jesus geskenk het en dank Hom met jou lewe!

Vrydag, 12 April 2013

TWEEDE KANS

- kan God ‘n diepgevalle kind van Hom heeltemal vergewe en weer vrugbaar gebruik? 

Toe jy die eerste keer as sondaar na Jesus gekom het, was God se vrye genade en volkome vergifnis iets wonderlik. Op grond van sy Woord het jy geglo dat Hy jou alle sonde, ja ook die ergstes heeltemal vergewe het. Hy het jou vrygespreek, as kind aanvaar en jou aangestel om vir Hom te getuig. Alles het goed gegaan…maar toe val jy baie diep in een of ander groot openbare sonde wat groot skande oor jou gebring het. Huweliksontrou, egskeiding, bedrog, dronkenskap of dwelmverslawing… Jy het 'n "backslider" geword. Nou worstel jy met die vraag : “Kan God my weer vergewe?” Miskien besef jy : “Ja, Hy kan my vergewe, maar ek sal nooit weer bruikbaar wees in sy koninkryk nie, ek sal nooit weer die volle vreugde beleef om vir Hom nuttig te wees nie. Miskien is ek nou verdoem tot ‘n tweedeklas Christenskap…” Die duiwel bly ook nie stil in sulke situasies nie. Hy probeer jou oortuig : “Kyk toe jy tot bekering gekom het, het God jou al jou sonde vergewe, want jy was onkundig en in duisternis. Maar nou het jy mos van beter geweet, jy is mos vooraf gewaarsku, maar jy was steeds ongehoorsaam…nou is daar vir jou geen hoop meer nie…” 

As jy al ooit deur hierdie gedagtes geteister is (of mense ken wat daardeur geteister word), kyk gerus saam met my na die aangrypende gesprek tussen Jesus en Petrus langs die meer, kort na Jesus se opstanding in Johannes 21:15-19. 

Petrus die rots. 

Ons ken die geskiedenis van hierdie “rots” - hy het Jesus drie maal openlik opsetlik verloën. Hy vloek sommer! Matteus 26:74 berig : Toe begin hy vloek, en hy sweer: "Ek ken die man nie!" Die rots het verkrummel, die pilaar het geval, die staatmaker het gevou. Petrus was een van daardie ongelukkige mense wat openlik gesondig en in die skande beland het. Sy sonde kon nie verberg word nie, almal het daarvan geweet. ‘n Mens kan jou indink die vernedering, hartseer, selfverwyt en beskuldigende kyke wat hy moes deurgaan. “Ja, jou grootbek, kyk wat het gebeur…” 

Genadeverhaal

Op hierdie stadium het Petrus waarskynlik reeds persoonlik vergifnis ontvang, want hy het bitterlik gehuil na die haan se derde kraai... Maar iets het nog ontbreek. Nou hier na ete, kom Jesus met hierdie vraag in die openbaar na Petrus: “Het jy my waarlik lief, meer as hulle hier? “meer as hulle” - verwys na die ander dissipels wat teenwoordig was. Hoekom so voor almal? Dit maak baie sin, want juis Petrus was ten opsigte van die ander die een wat die sterkste homself uitgespreek het. Terwyl die ander stil was het hy gespog : “ek sal my lewe aflê!” (Johannes 13:37,38) Petrus was die voorbarige, die sterke, dis juis hy wat tot aksie oorgegaan het en Malchus se oor afgekap het. Maar daarna het dinge tragies skeefgeloop. Petrus se selfvertroue en sy vleeslike dapperheid het hom in daardie krisisnag in die steek gelaat. Menslik gesproke het hy sy potensiaal as toekomstige leier onder die apostels onherroeplike skade aangedoen. Wie sou ooit weer na hom as leier kon opsien of hom vertrou? Daar was net een hoop vir hom – volledige openbare vergifnis uit Jesus se mond. Mooi verduidelikings en verskonings sou niks vir hierdie gevalle dissipel kon doen nie. Gesien die omstandighede dat Petrus as leierfiguur sy aansien onder die ander dissipels verloor het weens sy lafhartigheid, was iets meer as net private vergifnis nodig. Jesus moes hom in die openbaar herstel. 

Hier voor almal vra Jesus ‘n diepte ondersoekende vraag, wat Petrus waarskynlik tot in die diepte van sy siel sou geruk het. Probeer jou indink - hier voor almal word hy by die naam uitgesonder, en dit terwyl almal van sy pynlike mislukking bewus was. “Jy, Simon, seun van Jona, het jy my lief, meer....” Petrus se antwoord is veelseggend. Vroeër was hy nie skaam om homself ‘n trappie hoër as sy mede dissipels te stel nie. Maar nou is dit opvallend - hy probeer glad nie eers die vraag antwoord deur ‘n vergelyking met die ander te maak nie. Hy werp hom maar net op Jesus se kennis van sy hart. Sy gebroke, berouvolle hart. Petrus sê in effek : “Here ten spyte van my bittere mislukking, weet U dat ek U liefhet.” Jesus aanvaar sy antwoord. Die bewys daarvan kry ons in die opdrag “ laat my lammers wei.” Petrus se liefde vir die Here en die bewys dat hy herstel en vergifnis gevind het word duidelik uit sy versorging van die Here se mense. Dit eindig egter nie hier nie - Jesus herhaal die selfde vraag drie keer. Drie keer moes Petrus ten aanhore van almal hierdie pynigende vraag hoor. “Het my lief?” Die derde keer lees ons (17) het Petrus bedroef geword. Miskien het hy openlik gehuil, ons weet nie. Sy hart was gebreek. Net soos hy Jesus drie keer verloën het, verlang Jesus nou drie keer hierdie opregte belydenis van hom. Die derde keer antwoord die bedroefde Petrus : “U weet alles....” Ek kan dit so voor my oë sien hoe ‘n betraande Petrus dit uitroep : “ Here U weet alles, U weet dat ek U liefhet” Gebroke, geen spoor van selfgeregtigheid nie! Petrus het niks meer oor om mee te spog nie. Ook herhaal Jesus sy opdrag : “laat my skape wei.” Petrus se bediening word herstel. Let op die bediening word nie in ‘n titel gegee nie maar in praktiese opdragte : “laat wei, pas op.” 

Inderdaad het hy hierdie bediening getrou uitgevoer soos mens kan aflei uit sy opdragte aan ander herders. ( 1 Petrus 5:1-4) Net terloops - die skape wat Petrus moes oppas was nie sy skape nie, maar Jesus s’n “....my skape...” Die kerk is nie een van ons s’n nie, maar Jesus se eiendom wat Hy met sy bloed gekoop het! Onthou dit maar as ons van mekaar sleg praat of so maklik oor die “kerk” kla… 

PRAKTIES 

1.Hierdie gedeelte bring hoop vir gevalle kinders van God wat berou het. Hier is hoop vir daardie dissipels wat deur sonde in die bittere skande voor God en mense gebring is. Wat is die hoop? Die volledig herstellende genade en vergifnis van Jesus Christus. Totale kwytskelding! Juis vir sy kinders wat Hom in die steek gelaat het. Die ontroue Petrus kry sy “job” terug! Petrus se skandelike sonde is radikaal deur Jesus self vergewe en die bewys daarvan vind ons in sy vrugbare arbeid en sy getrouheid tot die dood. ‘n Ontroue dissipel word vergewe en bly uiteindelik getrou. Watter ongelooflike troos! Wie van ons kan nie met Petrus identifiseer nie? Wie van ons is nie diep bewus van die talle kere wat ons ons Here in die steek gelaat het nie? Watter heerlike verligting dat God nie net deur die 100 per senters werk nie. Watter troos om te weet dat ware dissipelskap nie altyd ‘n super suksesverhaal is nie. Dis ‘n genadeverhaal! 

Geliefde, jy wat vergifnis ontvang het, mag jouself nie as ‘n tweedeklas dissipel beskou en langer wegkruip nie! God het vir jou ‘n taak! 

2.“Het jy my lief?” Hierdie vraag bly steeds die primêre vraag wat Jesus aan sy volgelinge stel. Hy vra dit nou vir jou! Vir jou wat dalk nog net begin wankel het, vir jou wat geval het, vir jou wat begin moedeloos raak het…, maar ook vir jou wat dalk baie selfversekerd voel omdat jy al die regte dinge glo en nie gestruikel het soos iemand anders nie… Getrouheid en lojaliteit aan Jesus word nie in die eerste plek gemeet aan ‘n intellektuele onderskrywing van ‘n stel geloofsartikels nie. Petrus het deurgaans die regte feite oor Jesus geglo, maar wat Jesus wou dat hy in die openbaar moes bely is sy liefde. Sy persoonlike toewyding. Die inhoud sowel as die motivering van ware toewyding is liefde vir Jesus self. (Juis omdat Hy ons vergifnis bewerk het) Waar dit ontbreek is daar geen ware verhouding met die Verlosser nie, slegs miskien uiterlike godsdiens. 

Kom ons hoor elkeen hierdie vraag - “Het jy my lief?” uit Jesus se mond en ons antwoord met ons lewens daarop. 

Dinsdag, 09 April 2013

WAT IS OPWINDENDE CHRISTENSKAP?

- verder oppad saam met die opgestane Jesus. 


Tydens Paasnaweek het ons die heerlike feite van Jesus se kruis en opstanding herdenk. Dit maak elke Christen bly. Maar die vraag is : Wat nou? As ons die boodskap van die kruis en die opstanding glo, ja as ons persoonlik redding en gewetensrus gevind het by die Lewende Verlosser, wat nou verder?  Wat maak mens om nie te stagneer nie? Jesus self gee vir ons rigting en koers... Hy wys hier kort voor sy Hemelvaart in Lukas 24:36-49 die pad verder aan. Glashelder duidelik... 

Nadat Hy homself aan sy dissipels openbaar het, lê die lewende Jesus (wat nie bloot ‘n gees was nie, maar vis en brood voor hulle oë geëet het) klem op drie sake in sy ontmoeting met sy dissipels. ‘n Mens kan aanneem dat dit die sake is wat Hy as eerste prioriteit en onmisbaar belangrik beskou vir al sy volgelinge. Jesus vat hulle terug na die Bybel, gee vir hulle ‘n opdrag en maak ‘n heerlike belofte. (al drie hierdie sake staan in die nouste verband met mekaar.) 

1.Jesus vat hulle terug na die Bybel. Dis duidelik uit sy hele bediening dat die Skrif (destyds die Ou Testament) vir Jesus geweldige gesag gedra het. Al was Hy die Seun van God, het Hy Homself steeds aan die Skrif onderwerp. Dit was sy kompas en bron van krag. (Dink maar aan die versoeking in die woestyn – hoe het Jesus elke slag die Satan vanuit die Skrif weerstaan!) Nou lees ons ‘n merkwaardige ding. Jesus open die dissipels se verstand om die Skrifte te verstaan. (45) Hoekom? Sodat hulle duidelik kan verstaan wie Hy is, wat die betekenis is van sy sterwe en opstanding, maar ook sodat hulle sy verdere plan en doel met hulle kan begryp. Dis opvallend dat Jesus nou na sy opstanding nie juis meer dramatiese wonderwerke gedoen het nie – die opstanding is mos opsigself die grootste wonder ooit! Dis nou nie die tyd vir die klem op verdere sigbare wonders nie, dis nou die tyd dat die dissipels (en ons) die wonders se betekenis sal verstaan en dis net uit die Woord wat hulle betekens duidelik word. God het bepaal dat ons die opgestane Jesus sal leer ken uit die Woord! Dit kan nie anders nie, want Jesus self is die hooffokus en die hoofinhoud van die Woord. (Ja, ook pertinent van die Ou Testament) Jesus stel dit self baie duidelik in vers 44. 

“Daarna sê Hy vir hulle: "Dit is die betekenis van die woorde wat Ek vir julle gesê het toe Ek nog by julle was, naamlik dat alles vervul moet word wat in die wet van Moses en in die profete en psalms oor My geskrywe is." 

Ons kan nie die Ou Testament anders lees as vanuit die vervulling in Christus nie! Al die wette, al die offers, al die profesieë vind hulle uiteindelike vervulling in Jesus. Maar meer nog, die hele heilsgeskiedenis loop uit op die hoogtepunt van die openbaring in Jesus! (Hebreërs 1:1) 

Ons ken Jesus deur die Bybel. 

Die klem val vandag dikwels op gesigte, visioene en allerhande profesieë en selfs op opgemaakte storietjies van mense wat in die hemel was en met Jesus sou gepraat het... Jesus maak dit hier onteenseglik duidelik dat Hy Homself aan ons bekend maak deur die Skrifte. Dis die metode wat Hy gekies het! Op baie subtiele maniere is mense besig om hiervanaf te wyk. So algemeen hoor mens : “Ek dink so of vir my voel dit en dat reg...” Mag ons weer eerlik en opgewonde vra : Wat sê die Skrif?* Nie enkele tekste uit verband geruk nie, maar wat is die duidelike geheelboodskap van die Bybel? Jesus self het sy dissipels se oë oopgemaak om die Skrif te verstaan. Hy doen dit vandag nog. Dis een van die duidelikste bewyse van ‘n ware geloof en ‘n egte verhouding met Jesus : liefde en begrip vir God se Woord! 
Die verdere pad saam met Jesus is ‘n pad met die Woord! 

2.Jesus gee vir hulle ‘n opdrag tot getuienis. Jesus gee ‘n duidelike boodskap wat hulle (en ons) moet oordra. Die boodskap gaan oor bekering en vergewing van sondes. Dis die hoofboodskap van die kerk- dis die inhoud van ons getuienis. Natuurlik doen ons dit op verskillende maniere, want die Here gee verskillende gawes, maar dit bly die boodskap wat alle mense met wie ons in aanraking kom moet hoor: bekeer julle en julle sonde sal vergewe word! Alle dissipels moet hiermee erns maak. Die vinnige groei van die Christelike kerk in die eerste eeue was nie weens beroepssendelinge nie, maar as gevolg van gelowiges wat hierdie boodskap met ‘n passie verkondig en geleef het. Vandag het die kerk hierdie visie grootliks verloor. Ons hoofaktiwiteit is nie meer sending nie, maar selfgesentreerdheid en stagnasie of sosiale opheffingswerk... (dikwels is die kerk net maar nog ‘n NGO) Weet/besef jy dat jy ‘n sendeling is, kind van God? Môre oggend klok jy in vir sendingwerk, op jou plaas, in die klaskamer, in die besigheid, in die spreekkamer... Elke mens is of sendeling of sendingveld! Die verdere pad saam met Jesus is ‘n pad van getuienis! 

3.Jesus maak ‘n heerlike belofte oor toerusting. Jesus weet baie goed dat die taak wat Hy vir sy leerlinge gee, byna bo-menslik moeilik en onmoontlik is. Daarom gee Hy hier die belofte van die Heilige Gees. (vergelyk Handelinge 1:8) Ons weet hierdie belofte is op Pinkster vervul. Die Gees van Jesus is vir eens en vir altyd aan die Kerk geskenk. (In Handelinge 16:7 word die Heilige Gees pertinent, die Gees van Jesus genoem) Dis hoe Jesus by ons is... Ons weet uit die geskiedenis hoe die Heilige Gees die bang wegkruipende dissipels in dapper krygsmanne vir die evangelie verander het... Deur die eeue is die krag van hierdie belofte bewys. Hoekom getuig ons so min, hoekom is ons getuienis as ons dit wel doen so kragteloos? Ons doen dit (probeer) sonder die krag van die Heilige Gees! Dit kan wees dat jyself nie die Heilige Gees ontvang het nie, want jy het nog nooit werklik ‘n kind van God geword nie. Dit kan wees dat jy ‘n kind van God is, maar jy bedroef die Heilige Gees of jy blus Hom uit. Dit gebeur wanneer ons sonde in ons lewens toelaat, veral sondes van onvergewensgesindheid, bitterheid. Ons word verswak deur kompromieë met sonde. Onderwerp jou aan die Gees, en onthou Hy werk via die Woord! Die verdere pad saam met die opgestane Jesus is onmoontlik sonder onderwerping aan die Heilige Gees! 

Jesus het waarlik opgestaan. Ons is bly! Regtig? Hoe ernstig voel ons werklik oor die opgestane Jesus? Dis maklik om te toets. Maak ons erns met die Woord en die opdragte daarin? Is ons besig met ons getuienistaak as prioriteit en daaglikse werklikheid? Is ons sensitief vir die Heilige Gees? 

Die opgestane Jesus se wil en plan vir sy volgelinge en leerlinge is baie duidelik : 

Woord gefundeerde en Geesvervulde getuies!

Dis opwindende Christenskap!

*Omdat hierdie vraag nie deeglik gevra en die antwoord gesoek word nie, val so baie vir vals profete soos Marietta Theunissen en Abel Pienaar se verdigsels. Kliek op ABEL PIENAAR.

Vrydag, 05 April 2013

MISLEIER MARIETTA

- so dof soos die dood! 

In ‘n vertoning van verregaande onkunde berig DIE REPUBLIKEIN oor Marietta Theunissen se besoek aan Namibië onder die opskrif : OM DIE WAARHEID HELDER TE SIEN. Niks kan meer vals en foutief wees as so ‘n stelling ten opsigte van hierdie misleier nie. Dis nie net hopeloos verkeerd nie, maar ook ewigheidsgevaarlik... Helder? Nee, dof, doodsdof! 



Marietta ly duidelik aan die siekte van ons tyd. Subjektiewe relativisme. Eiesinnige hoogmoed. Sy dink sy doen niks verkeerd nie, want sy "glo" wat sy doen is reg. Sy is dus haar eie norm en verwerp dus God se Woord as enigste maatstaf. Die koerant lig ons in : “Marietta vertel dat sy elke dag mediteer, bid en stiltetyd hou en haar dae afsluit deur langs die see te draf of te stap. Ek het die kontak met die natuur nodig om myself te herlaai." Dit klink so vroom en onskuldig, die vraag is net tot wie bid sy? Definitief nie tot die God van die Bybel nie, want Hy beveel uitdruklik in sy Woord: 


“Daar mag nie iemand by jou wees wat sy seun of dogter as offer laat verbrand nie. Daar mag nie ‘n besweerder by jou wees nie en ook nie ‘n towenaar of iemand wat voortekens lees of ‘n goëlaar of ‘n slangbesweerder of iemand wat geeste om inligting vra en dooies raadpleeg nie. Die Here het ‘n afsku van elkeen wat hierdie soort ding doen. Trouens, dit is juis oor die afskuwelike praktyke van die Kanaäniete dat die Here jou God hulle in jou belang gaan verdryf.” (Deuteronomium 18:10-12) 

Mense wat sogenaamde “waarsêersgawes” besit is bloot skerpsinnige misleiers (wat met jou kop smokkel) of andersins is hulle onder demoniese invloed wat bonatuurlike kennis aan hulle oordra. Paulus het met so ‘n geval te doen gehad by Filippi: 

“Terwyl ons eendag na die bidplek toe op pad was, het ons ‘n slavin teëgekom in wie daar ‘n waarsêersgees was. Deur waarsêery het sy vir haar eienaars baie geld verdien. 
Sy het agter Paulus en ons aangeloop en aanhoudend geskreeu: "Hierdie mense is dienaars van God, die Allerhoogste! Hulle vertel vir julle hoe julle gered kan word." 
Sy het dit baie dae na mekaar gedoen totdat Paulus dit nie langer kon hou nie. Hy het omgedraai en vir die gees gesê: "Ek beveel jou in die Naam van Jesus Christus: Gaan uit haar uit!" Die gees het op daardie selfde oomblik uit haar uitgegaan.” (Handelinge 16:16-18) 

Let ‘n paar dinge op : Hierdie besete meisie het inderdaad kennis gehad, selfs korrekte kennis en dit oor God en sy dienaars! Nieteenstaande die feit dat sy korrekte inligting gegee het, was haar sogenaamde gawe en inligting afkomstig van ‘n bose gees! Toe die demoon uitgedryf word, het sy dan ook haar "gawe" verloor! Die dryfveer agter als was natuurlik soos vandag die geval is materiële gewin. Ja, geld, die wortel van alle kwaad! (Dis so maklik vir Marietta om haar sakke te vul met die fooie van geestelik onkundiges, hartseer naïewes en verleë verdwaaldes...)

Marietta “help” mense met betrekking tot gestorwe geliefdes, werk, verhou­dings, finansies... Regtig? Nee, sy buit hulle uit, erger sy mislei en lei hulle in die sfeer van die Bose in! Die Woord van God het vir ons duidelike inligting, antwoorde en oplossings ten opsigte van al hierdie vraagstukke waarmee mense worstel. Waarom sou mens God se Woord verlaat en antwoorde by ‘n agent van die Satan soek? Wees gewaarsku dit kan afgryslike gevolge hê! 

Hierdie pad van spiritisme lyk vir Marietta dalk reg, maar dit het 'n skrikwekkende einde! "Daar is 'n weg wat vir 'n mens reg lyk, maar die einde daarvan is weë van die dood.", waarsku Spreuke 14:12 ons.

Toe koning Saul weens sy volhardende ongehoorsaamheid deur God verlaat is en tevergeefs gebid het, moes hy hom noodgedwonge in ‘n tyd van krisis tot ‘n heks (spiritistiese medium) wend. Dit het vir hom geen verligting of oplossing gebring nie, maar was slegs ‘n tydelike verposinkie oppad na sy tragiese selfmoord. As jy op Saul se pad na vernietiging is, mag jy jou betyds bekeer en Jesus as jou Middelaar aanvaar. Daar is nou nog GENADE!

JESUS, DIE WAARHEID!

Marietta het nie die waarheid nie en ken ook nie die waarheid nie. Die Waarheid is Jesus Christus! (Johannes 14:6) Gelukkig het Hy gekom om ons te bevry en die werke van die duiwel, die mensemoordenaar te verbreek! Wie Jesus as persoonlike Hoëpriester ken, het vrye toegang tot die troon van genade en hoef  hulle nie op hekse, mediums, spiritiste, toordokters... en allerlei duiwelse kunste te verlaat nie. Bevind jy jouself in ‘n doodloopstraat of knypende krisis? Hy is die oplossing : 

 “Terwyl ons dan nou ‘n groot Hoëpriester het wat reeds deur die hemele gegaan het, Jesus, die Seun van God, laat ons vashou aan die geloof wat ons bely. 
Die Hoëpriester wat ons het, is nie Een wat geen medelye met ons swakhede kan hê nie; Hy was immers in elke opsig net soos ons aan versoeking onderwerp, maar Hy het nie gesondig nie. 
Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word." (Hebreërs 4:14-16)

Nou wie het mal Marietta nodig, as daar 'n Volmaakte Middelaar is?


Dinsdag, 02 April 2013

VOOR DIE LEEU EN NÁ DIE LEEU

- die Verlosser word verkondig in Kaokoland! 


[Ons as NGK Tsumeb het die groot voorreg om op ‘n beperkte skaal betrokke te wees by Ds. Erik van Zyl (voorheen van Napier) wat onder die vaandel van Kunene vir Christus die Woord van God in Kaokoland versprei. Hier is sy Verslag van besoek aan Kaokoland 25 - 28 Februarie 2013.] 

Die stofpaaie, grondpaaie , 4x4 paaie in Kaokoland neem ’n mens na klein plekkies wat baie keer niks meer is nie as ’n boorgat of gronddam met Ova-Himba krale in die omgewing, wat aandui hier bly mense. So het ek vir Ripanga (Jan) Kasupi hoofman van Ganamub by sy dorpshuis op Sesfontein gekry oppad na die klein plekkies. Die plekkies is in die droogte tyd nog kleiner vanweë die Ova-Himbas wat rondtrek met hul vee en kleinvee agter weiding en water aan. Dit laat my altyd dink aan die woorde in Matteus 9:35 , “Jesus het al die dorpe en klein plekkies besoek. ...en die evangelie van die koninkryk verkondig...” 

Namiddag het ek vir Jan by Sesfontein opgetel, waar hy vir die hitte weggekruip het onder die skaduwee van sy boom. Die reën het nog nie gekom nie, vir die 2de jaar. Jan wil graag Ganamub langs ry om te sien hoe lyk dit in die area waar hy hoofman is. Na 'n 2de reënseisoen wat kom en gaan en net droogte.... Ganamub is 'n klipwoestyn ! Ek is verwonderd oor die goeie kondisie van die beeste, bokke en skape wat op die klipvlakte weiding soek. Die berge se weiding begin nou ook opraak. Jan begin praat daarvan om sy diere te verkoop voordat die droogte sy doodstol eis! Jan groet sy mense en ons ry verder op soek na slaapplek vir die nag. Die Here het reeds vir ons 'n oornagplek gereël. 

"Kom ons slaap by Tomakas, die mense daar is almal familie van my.'' Ek het nog altyd by Tomakas verby gery oppad na ander klein plekkies. 'n Windpomp, dam en paar Herero-hutte. Tot my verbasing moet ek en Jan by die mense van Tomakas hoor " Ons het nog nooit die Jesus-film gesien nie!'' 13 grootmense en 2 kinders, Jesus sou ook daar gestop het. 

Laat die nag, vroeg die oggend om 1h00 sluit ons die dag met Jesaja 43:11-13. 

Ek, Ek is die Here, buiten My is daar geen redder nie. Ék het die redding aangekondig, Ék het gered en dit laat verkondig, Ek, nie ‘n ander god onder julle nie. Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.Ook hierná is Ek nog God. Uit my mag kan niemand gered word nie. Wat Ek doen, kan niemand ongedaan maak nie. (Jesaja 43:11-13) 

Bettie van Warmquelle het vir Jan laat weet hy moet dit lees. Die oggend voordat die leeu sy vinger se punt afgebyt het (of afgeknyp soos hy sê) het Jan die gedeelte gelees. 

Om die kampvuur en onder die stilte van die naghemel vertel Jan. In droogtetyd wag die leeus vir die beeste by die Hoanib -rivier se weiding. Hulle was drie mans , 2 het geskiet toe die leeuwyfie storm, met Jan in haar visier was sy binne tellings bo-op hom. Soos Simson het Jan die leeu met beide hande weerskante van sy kop vasgegryp. Hulle het omgerol en omgerol en toe Jan bo is sterf die leeu, die doodskoot van vroeër was amper te laat. 

Met die vasgryp het Jan se vinger in die leeu se bek beland. Behalwe vir sy vingerpunt wat afgebyt is en'n paar littekens op sy lyf, kan Jan bo alles getuig van God se trou! Eers nadat Jan die dood in die oë gekyk het , het hy gedink aan wat God die oggend vir hom gesê het: 

.....buiten My is daar geen redder nie.... Julle is my getuies, sê die Here, en Ek is God.Ook hierná is Ek nog God.(Jesaja 43) 

Voor die leeu en na die leeu is EK die HERE nog steeds God, niemand kan jou uit MY hand ruk nie! 

Dit was nie 'n voorlesing uit een van PJ Schoeman se boeke oor ou Suid-Wes nie, maar 'n getuienis van die ewige trou van die Almagtige God teenoor sy kinders. 

Vroegoggend is ons op. Die Jesusfilm het die mense van Tomakas se harte en huise oopgemaak . Na Jan se verhaal van die leeu preek ek oor Jesus wat as LAM vir ons sonde gesterf het en as LEEU sal terugkom om sy kinders te kom haal en die wêreld te oordeel. Is ons gereed? 

Op Tomakas is daar 'n klein groepie gelowiges wat ook Sondae saamkom om die Here te aanbid, maar hulle het nie Bybels nie. Ons kon vir 2 mans en 3 vrouens Bybels gee asook ander literatuur. Jan is dankbaar oor die hoofman se positiewe gesindheid. Ons vertrek en sal nie weer by Tomakas verby ry nie. 


Bybels by Tomakas


Oppad na hoofman Inotjizimbwi Tjavara van Okaanga ry ons langs die Hoarisub en later langs die Khumib rivier. Droog en dor, Kaokoland smag na water. Bid dat die droë en dor harte van Kaokoland sal smag na die Lewende Water. 

Ons ry verby Sanitatas tot by Ondije. Ondije se dam is leeg, die skool is verlate, die krale leeg. Die vlakte tussen Ondije en Okaanga het reën gekry, vaal olyfgroen geskroei in die son en afgevreet deur die baie bekke, die vlakte het nog reën nodig. Die Himba beeste se kondisie is verstommend goed. By Okaanga se boorgat is dit ’n miernes van Ova-Himbas wat om die beurt hul beeste en bokke laat drink. 

Kondjendje Koruhama se vriendelike gesig verhelder toe ek haar op haar naam groet. ’n Jong Himba vrou, ’n toegewyde gelowige, onmiddelik vra sy of ek nie vir haar ’n Bybel het nie. Uiteindelik is daar 4 mense wat smag na die Woord van God en vir wie ons Bybels kon gee. 

Hoofman Inotjizimbwi Tjavara van Okaanga is by ’n begrafnis op Otjihaa. In sy vrou Kauhonekwa se woorde, Otjihaa is God -loos, die mense leef sonder God en het God nodig. Ons moet gaan! Otjihaa is nog ’n klein plekkie wat die Napierspan laas in 2001 besoek het. Kauhonekwa wys die pad, halfpad tussen Okaanga en Ondije is daar ’n kortpad deur die berge. Skemeraand brand die vele begrafnisgangers se vuurtjies by Otjhaa. Die dood het hulle bymekaar gebring om na die LEWE te kyk. Ons wys die Jesus-film vir meer as 60 Ova-Himbas. 

Vroegoggend hou ons ’n belangrike en suksesvolle leiersberaad, ek saam met hoofman Kasupi van Ganamub en hoofman Tjavara van Okaanga. 

Kauhonekwa bring die mense byeen. Na die Jesus-film is daar 24 mense wat die Woord van God wil hoor. Ons beleef ’n honger na God by die mense van Otjihaa. Bid dat hulle sal oorgaan van die ryk van duisternis na die ryk van die LIG! 

Swaar gelaai vertrek ons terug, die een se kar is stukkend, die ander moet hospitaal toe...., 9 mense met bagasie! Jan leer my, barmhartigheid in Kaokoland beteken daar is altyd nog plek! 


Veilig aangekom op die Ondije vlakte beleef ons ’n wonderwerk. Donderwolke pak saam, die weerlig blits en ons reën sopnat op die vlakte. Met dankbare harte ry ons in die reën terug, want Jan moet die volgende dag terug wees op Sesfontein.

Dankie Erik vir die nuus, en mag die Here jou werk ryklik seën!

Maandag, 01 April 2013

DIE BESPOTTE KONING

- se sterwe bevry ons tot ‘n nuwe toekoms. 

Terwyl Jesus besig is om sy lewe vir sondaars te gee klink daar ‘n koor van spot op. Matteus wys ons in hoofstuk 27 doelbewus daarop hoe alle lae van die samelewing lustig hieraan deelneem. Die Seun van God is as’t ware ‘n openbare spektakel en voorwerp van spot vir alle mense: 

Soldate. "Daarop neem die soldate van die goewerneur Jesus met hulle saam in die goewerneur se paleis en bring die hele leërafdeling teen Hom bymekaar. 
Toe trek hulle sy klere uit en werp 'n rooi mantel om Hom; 
en hulle vleg 'n kroon van dorings en sit dit op sy hoof, en 'n riet in sy regterhand; en hulle val op hul knieë voor Hom en bespot Hom en sê: Wees gegroet, Koning van die Jode! 
En hulle spuug op Hom en neem die riet en slaan Hom op sy hoof. 
En nadat hulle Hom bespot het, trek hulle Hom die mantel uit en trek Hom sy klere aan en lei Hom weg om gekruisig te word." (29-31) 

Verbygangers of algemene publiek. "En die verbygangers het Hom gesmaad terwyl hulle hul hoofde skud en sê: U wat die tempel afbreek en in drie dae opbou, red Uself! As U die Seun van God is, kom af van die kruis!" (39,40) 

Godsdienstige en sekulêre leiers. "En so het ook die owerpriesters saam met die skrifgeleerdes en ouderlinge gespot en gesê: 
Ander het Hy verlos, Homself kan Hy nie verlos nie. As Hy die Koning van Israel is, laat Hom nou van die kruis afkom, en ons sal in Hom glo."  (41,42) 

Selfs Sy mede gekruisigdes, alhoewel ons uit Lukas aflei het dat een tot ander insig gekom het. "En op dieselfde manier het die rowers wat saam met Hom gekruisig was, Hom ook beledig." (44) 

Hierdie bespotting van die Gekruisigde Jesus gaan vandag nog onverpoosd voort! (ook in die Afrikaanse pers) 

Na die beskrywing van hierdie bespottings en beledigings, noem Matteus ‘n paar opeenvolgende dramatiese gebeure. Die drie ure duisternis, die kruiswoord van Jesus en daarna is dit asof die spottery tot stilstand gedwing word toe Jesus sterf, die voorhangsel skeur, die heiliges uit die dood opgewek word en daar oor die heidense hoofman en sy groep soldate se lippe die belydenis kom : “Waarlik Hy was die Seun van God!” 

Matteus beklemtoon oor die algemeen in sy evangelie dat Jesus die beloofde koning uit die nageslag van Dawid is. Hy verdien dus die hoogste eerbied en erkenning, maar nou in hulle dwaasheid word Hy deur mense misken en gespot. Deur sy beskrywing van hierdie gebeure wil Matteus juis onderstreep hoe misplaas, uit plek die en dwaaslik verkeerd hierdie spottery van die mense is. 

As deel van die gebeure wat die majesteit van Jesus demonstreer meld Matteus die opstanding van die heiliges

"en die grafte het oopgegaan en baie liggame van die ontslape heiliges het opgestaan. 
En ná sy opstanding het hulle uit die grafte uitgegaan en in die heilige stad ingekom en aan baie verskyn."  (Matteus 27:52,53) Ons gaan bietjie nadink oor die ietwat raaiselagtige (en dalk moeilik verstaanbare) gebeurtenis. Matteus is al een van die evangeliste wat hierdie merkwaardige gebeurtenis vermeld. Daar is ‘n hele paar vrae wat hierdie sonderlinge gebeurtenis by mens oproep: 

Die frase “na Sy opstanding” laat vrae ontstaan. Waar was hulle intussentyd voor hulle verskyning in Jerusalem? 

As hulle tydens die kruisiging opgewek is, bring dit nie die feit in gedrang dat Christus die eersteling uit die dode is nie (1 Korintiërs 15:20) of het hulle eers na Sy opstanding opgestaan? Wat is Matteus se rede vir die plaas van hierdie gegewens? 

Wie was Wie was hierdie heiliges? Het hulle weer gesterf of wat het van hulle geword? Hoekom hoor mens nie weer van hulle nie? 

Volgens die teks lyk dit baie duidelik. Die heiliges het reeds op die Goeie Vrydag opgestaan. Juis omdat hulle verskyning nie op dieselfde dag plaasgevind het nie moet Matteus ‘n nuwe tydsaanduiding gee - “na Sy opstanding” Die volle omvang van wat op Jesus se sterfdag gebeur het word dus eers na Sy opstanding bekend as hierdie heiliges aan baie "verskyn". Die woord "verskyn" skep sterk die indruk dat hulle onsigbaar was en slegs aan bepaalde hulleself vertoon het. Hier begin nou iets van die aard van hulle opstanding deurskemer. Dit herinner sterk aan Jesus se opstandingsliggaam. Na Sy opstanding het Hy homself ook sommer skielik, plotseling aan bepaalde mense vertoon en dan sommer weer verdwyn. Dink aan Sy verskyning aan Sy dissipels agter geslote deure en die Emmausgangers. Jesus het ‘n liggaam gehad, waaraan mense kon vat. Hy het brood en vis voor die oë van sy dissipels geëet, maar dit was ‘n verheerlikte liggaam sonder beperkings. 

Dit wil dus voorkom dat hierdie opgestane heiliges se liggame in dieselfde kategorie as Jesus se verheerlikte liggaam was. 

Hulle liggame was sonder die normale menslike beperkinge, verheerlikte opstandingsliggame soos ons almal eendag sal ontvang. (vergelyk Filippense 3:21) Die opwekking van hierdie heiliges is dus nie in dieselfde klas as die opwekking van Lasarus of Jaïrus se dogtertjie nie. 

As ons dink in die rigting van verheerlikte liggame word baie van die ander vrae makliker beantwoordbaar. Waar hierdie liggame dan voor die opstanding van Jesus was is dan saaklik dieselfde kwessie waar hulle na hulle verskyning hulle hulle bevind. Verheerlikte mense in ‘n ander sfeer. Hulle het dus ook nie weer gesterf en is nie weer begrawe nie. 

Wie was die heiliges? Ons weet nie. Sommige dink dit is Ou Testamentiese heiliges, ander dink dis eerder tydgenote van Jesus wat in Hom geglo het en wat op hierdie stadium al dood was. Gestorwenes uit die tyd van Jesus sou makliker herkenbaar wees vir die mense aan wie hulle verskyn het. Dit lyk dus waarskynlik dat dit tydgenote van Jesus was. 

BELANGRIKER is om te verstaan waarom Matteus hierdie gebeure hier vermeld. Op die presiese oomblik wanneer Jesus Sy lewe oorgee kom die kosmos in beweging. ’n Aardbewing. Dit raak selfs die dooies. Die betekenis van Jesus se sterwe word hierin duidelik. Dit het wydkringende kosmiese betekenis, dit lei selfs tot oorwinning oor die dood. Die mense sou reeds op Goeie Vrydag die oopgebreekte grafte opmerk en ontdek het dat dit leeg was. Eers na Jesus se opstanding sou die opstanding van die heiliges bevestig word deur hulle verskyning aan mense in Jerusalem. Hulle gee hierdeur die voorrang aan Jesus self. Hy is die Bevryder, Hy is die eersteling uit die dode. Sy sterwe bring vir hulle (en vir ons) ewige bevryding. Die opstanding op derde dag, is net bevestiging daarvan! Daarom word hierdie stukkie geskiedenis reeds saam met die gebeure van Goeie Vrydag gemeld en nie by die van die Opstandingsdag nie. 

Hulle gaan die heilige stad in. Waarom “heilige stad”? Die rede hoekom Jerusalem (wat alles behalwe heilig was) so genoem word is om daarop te wys dat dooies as onreines normaalweg uitgesluit is uit die stad (stad is heilig - hulle onrein). Die dooies is nou volledig gereinig deur hulle opwekking, die dood kan hulle nie meer buite hou nie. Hulle vorm so die voorhoede van die groot skare wat eendag die werklike heilige stad, die nuwe Jerusalem sal binnegaan. Mens sou kon sê hierdie gebeure is ‘n profetiese vooruitskouing. 

Hierdie gelowiges se opstanding reeds op Goeie Vrydag doen niks afbreuk aan die feit dat Jesus die Eersteling uit die dood is nie. In 1 Korintiërs 15 gaan dit oor Christus en ons opstanding - ons gaan Hom volg. Verder geld dit ook van hierdie heiliges dat hulle dood was deur een mens Adam en lewend geword het deur die tweede Adam. Teologies bly Jesus die Eersteling uit die dode - deur Sy dood en opstanding verseker Hy ons opstanding. 

Waarom hoor ons nie verder van hierdie heiliges se opstanding nie? Eerstens : Hulle verskyning was net tydelik, dan verdwyn hulle van die toneel. Tweedens : Hulle verskyning speel geen belangrike rol in die apostoliese prediking nie. Alle klem val op die gekruisigde Jesus en Sy verskynings. Matteus onderstreep deur hierdie stukkie geskiedenis die werklikheid van God se Seun wat sterf. Die aardbewing en die oopgebarste grafte getuig daarvan. 

Die bespotte Koning se sterwe bevry ons van sondeskuld en gevolglik van verganklikheid en dood! Die merkwaardige opstanding van die heiliges op Goeie Vrydag is ‘n voorsmaak van die volle effek van Jesus se genoegsame offer aan die kruis, sy liggaamlike historiese opstanding die Sondagoggend is die finale bevestiging daarvan. Die belangrikste vir my en vir jou is om te weet dat sy sterwe en opstanding ‘n nuwe toekoms open. Ja, vir jou en my wat glo beteken dit ‘n nuwe lewe reeds hier en nou. ‘n Lewe as vrygespreektes ten spyte van ons aaklige verlede vol sonde en mislukkings. (Ja, ook vir jou met jou mislukte huwelik, vir jou met daardie verskriklike misstap wat jy nooit kan vergeet of regmaak nie...) Ten spyte van ons voortgaande swakheid en gebrokenheid. Maar dis ook ‘n toekoms wat vooruitstrek na ‘n volmaakte ewigheid sonder enige sonde en swakheid. Ons is nou reeds in beginsel deel van hierdie groepie opgewekte heiliges met hulle verheerlikte liggaame ! Ons juig nou reeds saam met hulle oor die kruis en die leë graf van ons Verlosser. 

Dis juis die kruis en die leë graf wat bevestig dat ons Jesus nie maar net nog ‘n Joodse rabbi was soos wat arme Lina Spies en haar Gnostiese spotters beweer nie ! 

Erkenning : Vir die eksegetiese insigte oor hierdie gedeelte in Matteus, is ek dank verskuldig aan die uitstekende kommentaar van Jakob van Bruggen.