BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Vrydag, 28 Desember 2012

KASTREER JULLESELF

-  “snydende” sarkasme van ‘n liefdevolle apostel.

Die apostel Paulus het seker die wêreld se bekendste lofrede op die liefde geskryf. Ons almal ken die aangrypend wonderskone 1 Korintiërs 13 en het altyd maar weer nodig om daarna terug te keer en onsself opnuut met hierdie tydlose waarhede te verfris!  En nou is dit juis hierdie apostel, ‘n kenner van die liefde wat met amper ‘n skurwe en  skokkende stuk sarkasme die Galasiese dwaalleraars bykom.   Die Judaïseerder  valse leraars wat gemeentelede wou omhaal om weer die tora voorskrifte oor die besnydenis te onderhou,  kry ‘n bitsige teregwysing van Paulus se kant af : “Ek wens die mense wat díe verwarring onder julle stig, wou hulleself dan maar heeltemal ontman!” (Galasiërs 5:12)  Dis asof Paulus byna in desperaatheid oor hierdie vernietigende onkunde smalend raak en sê : “Laat julle misleiers dan nou maar hulle waansin tot die uiterste volhou en hulle dan nou maar sommer self kastreer!” * Harde woorde!

Waarom haal ek nou hierdie sterk woorde van Paulus op? Dit gebeur so dikwels dat iemand  wat vir die waarheid opkom van liefdeloosheid en onverdraagsaamheid beskuldig word. Dis ‘n beskuldiging wat vir elkeen na wie dit kom tot ernstige nadenke en selfondersoek behoort te stem. Ja, want ons weet mos dat die liefde die grootste gebod is, maar juis ook die een wat ons as selfgesentreerde mense die maklikste oortree. (en wie van ons is nooit hieraan skuldig nie?)

En tog moet ons ook met nugterheid  kennis neem van ‘n  buite  konteks verabsolutering van ‘n normlose liefde wat kwistig deur die media gepropageer en selfs deur teoloë nagepraat  word. Liefde sonder die konteks en merkers van die waarheid  verval maklik in ‘n sentimentele onsinnigheid. Kom ek probeer verduidelik : Ons moet God liefhê, maar hierdie God is nie sommer enige god nie! Hy is byvoorbeeld  nie Boeddha nie, en Hy is ook nie die innerlike self-mensgod of kosmiese energie van die New Age nie! Die punt is : om God te kan liefhê is waarheidsonderskeiding gegrond op die Bybel  nodig! Want daar is sekere gode wat ek juis nie mag liefhê nie. Dieselfde geld die gebod om ons medemens lief te hê. Slegs die Woord van God kan vir ons inhoud aan hierdie liefde gee. Van Zuma (wat ons daarin herinner om nie honde bo mense te stel nie!!!) tot goddelose Hollywood sterre  gebruik  die begrippe ubuntu, liefde en verdraagsaamheid... maar  hulle is heel gemaklik as dit selfgesentreerde losbandigheid en sedeloosheid insluit.  Hierteenoor het Bybelse liefde duidelike norme. Liefde is nie maar net om  altyd te probeer “nice” wees nie, liefde is harde werk en ‘n duidelik uitgestippelde leefstyl volgens die opdragte en grense van die Skrif.

Bybelse liefde beteken nie om ten alle koste “nice” te wees nie, veral nie met dwaalleraars wat Bybelse waarhede ondergrawe nie.

Die groot drie van 1 Korintiërs 13 (Geloof, Hoop en Liefde) kan nie van die evangelie waarheid losgemaak word nie.  Alleenlik omdat Jesus Christus histories ligaamlik gesterf  en weer opgestaan het, kan ek geloof, hoop en liefde beoefen.  My geloof het ‘n inhoud : Jesus die enigste Middelaar met sy saligmakende sterwe en opstanding. My hoop het ‘n vaste grond en waarborg : sy genoegsame heilswerk wat vir my ‘n ewige  toekoms verseker.  Die liefde wat my dring om liefde te bewys is juis die liefde wat histories aan die kruis gestalte gevind het – die enigste norm vir ware liefde!

Is dit dan liefdeloos om hierdie evangelie waarhede kompromisloos te verkondig en kragtig te stry vir  die  geloof wat vir eens en altyd aan die heiliges oorgelwer is? (Judas vers 3) Die term liefde word so maklik rondgegooi, maar is dit nie juis ‘n bewys van gebrekkige liefde as ons toelaat dat  teologiese professore kosbare geroepenes aan ons fakulteite vergiftig met twyfel oor die opstanding en dat hulle daardie gif oordra aan getroue lidmate wat Sondag na Sondag opkom om te hoor wat sê God se Woord nie?  Is dit nie juis ‘n gebrek aan liefde wat maak dat ons hande gevou sit en toekyk hoe opregte gelowiges wat aan God se Woord getrou wil wees verwar word, deur leringe wat ons vertel dat ons God al die jare met ‘n verkeerde Naam en op ‘n verkeerde dag aanbid het nie? Moet ons stilbly as daar verkondig word dat God alle mense ryk en gesond wil maak, hier en nou?

Om terug te kom na Paulus se kras uitspraak. Ek dink ons kan vanuit die konteks van die Galasiër brief, baie hieruit leer.  Paulus maak ‘n duidelike onderskeid in hoe hy die dwalende (reeds of in die proses) gemeentelede aan die eenkant en die  dwaallerende ketters aan die anderkant hanteer en aanspreek. Paulus se hart gaan uit na die misleide gemeentelede. Hy smeek hulle met ‘n moederlike besorgdheid om terug te keer na die vryheid van die evangelie en die volheid in Christus alleen. “My kinders, ek verkeer van voor af weer in geboortepyne oor julle  totdat Christus in julle gestalte kry.” (Galasiërs 4:19) Ja, hy vertel die waarheid aan hulle onbeskroomd en vra hulle mooi om dit tog nie as vyandskap te sien nie. (Galasiërs 4:16) Maar vir die gewetenlose  leraars wat die gemeente van die waarheid probeer weglok, het Paulus geen sagte woordjies nie, inteendeel...  Die rede is duidelik : dwaalleer (en hier praat ons nie van bloot verskillende interpretasies rondom byvoorbeeld die doop en die manier van Jesus se wederkoms nie, maar kernsake soos die ontkenning van die Godheid van Jesus Christus, sy genoegsame offer aan die kruis, sy  ligaamlike opstanding...) ondergrawe  mense se geloof!  Dit het Paulus goed besef en daarom verklaar hy : “daarmee vernietig hulle die geloof van sommige” (sien 2 Timoteus 2:16-18)

Wat wil ek met bogenoemde probeer sê? Met kinders van God wat onder die invloed van dwaalleer gekom het, moet ons reguit volgens die waarheid, maar in groot liefde, nederigheid, geduld en wysheid werk.  Maar valse profete moet nie verwag om met mooi woordjies gepamperlang te word nie! ( 2 Petrus 2  handel hieroor en is ‘n hoofstuk wat ons almal moet laat sidder) Nog minder moet hulle dink dat ons hulle gaan vlei met : "ons kan so baie by julle leer!"

Ten slotte net twee praktiese opmerkings waaraan elkeen wat vir die waarheid teen valse leringe opstaan gedurig herinner moet word:

1. Verkondig die waarheid op ‘n positiewe manier en met blydskap. (Ouers, dit geld natuurlik ook vir die manier waarop ons huisgodsdiens hanteer!) Die waarheid van die evangelie is immers ‘n blye boodskap wat bevryding bring! Ja, spesifieke dwalinge moet soms by die naam aangespreek word, maar  laat die klem val op die waarheid self. Dit voed en bou die gelowiges en stel hulle instaat om self te kan onderskei.

2. Pasop vir ‘n siniese bitterbek ingesteldheid. Daar is so ‘n magdom van valse leringe rondom ons dat mens maklik perspektief (en jou vreugde in Jesus) kan verloor.  Daar  bestaan die gevaar van ‘n oorpessimisme, wat vergeet dat Christus self sy Kerk instand sal hou.  Daar is ‘n slaggat van  kleinsielige foutvindery en haarklowery. Dit dreig om elkeen wat daarin val, nutteloos te maak vir die saak van die Koninkryk!

 Mag God ons ‘n gesonde balans gee om ons te bewaar van passiwiteit in die aangesig van dwaling, maar ook van ‘n mensgedrewe en eiesinnige aktivisme! Mag die norm van God se liefde ons hierin rig!


*Die Franse, La Sainte Bible gebruik inderdaad hierdie term. “qu’ils se châtrent!”

Maandag, 10 Desember 2012

KNOPE IN DIE KERSKOUS

- nugter nagedink oor 25 Desember.

Ek het groot waardering en respek vir God se kinders wat radikaal heilig wil lewe en in alle dinge die wil van God eerste probeer stel.  Dis immers in ooreenstemming met  die duidelike opdrag in 1 Petrus 1:16 “Wees heilig, want Ek is heilig!”  Aan die anderkant is daar wel ook Christene wat ‘n behae daarin skep om hare te kloof en andere skuldig te laat voel oor nietige randsake. (moontlik as gevolg van onkunde) 

Een so ‘n saak is die vraag :


“Mag ‘n Christen Kersfees vier?”



VASTE FEITE

Kom ons begin met die nugtere stel van ‘n paar feite wat vas staan en waaroor almal behoort saam te stem :  

Feit nommer een is : Jesus is nie op 25 Desember gebore nie. Verder:
  • Die groot meerderheid van mense op aarde vier Kersfees op ‘n goddelose en Godonterende manier (met vreet op aarde in plaas van vrede op aarde)* 

  • Daar is geen Bybelse bevel om Kersfees as ‘n feesdag te vier nie. 
  • Daar is wel duidelike Skrifgedeeltes wat die geboorte/menswording van Jesus beskryf. 
  • Daar is wel toegewyde gelowiges wat Kersfees vier op ‘n Godverheerlikende wyse. 
  • Daar is ook opregte Christene wat niks met Kersfees te doen wil hê nie en dit as deur en deur heidens beskou.


Uit bogenoemde is dit klaar duidelik dat Christene verdeeld is oor hierdie saak. Selfs onder Christene met sterk Calvinistiese oortuigings is daar nie eenstemmigheid nie. Uitgesproke Calvinste soos die bekende CH Spurgeon en AW Pink was teen Kersfees gekant. Calvyn self se siening kan dalk vir baie ‘n verrassing wees. Calvyn het nie die viering van Kersfees, Goeie Vrydag, Paasfees, Hemelvaart en Pinkster verbied nie. Farel sy voorganger in Geneve het dit verban. Calvyn het hulle egter oortuig om dit weer in te stel. Later toe die Geneefse owerheid wel besluit het om die feeste af te skaf is Calvyn egter daarvoor die skuld gegee. In ‘n brief aan sy vriend Haller in Bern het hy dit baie duidelik gestel dat hy nie die afskaffing van Kersfees ondersteun het nie. Iemand het Calvyn se posisie so opgesom : kerke het die vryheid om hierdie feeste met matigheid te vier solank dit tot die opbou van gelowiges dien.

Waarom voel sommige so sterk teen Kersfees?

BESWARE TEEN KERSFEES

1. Kersfees is ‘n oorgawe aan naakte materialisme en hedonisme. Dis moeilik om hierteen te stry. Min dinge is seker so irriterend vir ‘n Christen se ore as “Jingle Bells” wat in ‘n groot afdelings winkel blêr terwyl als rondom jou skreeu teen die boodskap van Jesus en sy nederige menswording en almal daarop uit is om met een of ander reklamefoefie die laaste sente uit jou sak te roof. Met so ‘n geld en plesiergedrewe Kerfsees kan geen kind van God vrede hê nie. Die misbruik van ‘n saak hef egter nie noodwendig die regte gebruik op nie. ‘n Kersfees waar ‘n gesin saam rondom die Woord weer nadink oor die wonder van Jesus se menswording en in vrede en blydskap saam ‘n maaltyd nuttig is seker ‘n heel ander saak.

2. Kersfees se oorsprong is duidelik heidens en het niks met Jesus Christus te doen nie. Daar is ‘n sterk anti Kersfees gevoel by ‘n groep Christene wat baie uitgesproke is oor  hierdie saak. So hoor mens sterk bewoorde uitsprake soos die volgende :

“What many in Christendom have been celebrating--Christmas--is a thoroughly pagan holiday--in its origin, in its trappings, and in all its traditions . . . . The modern conservative cry to put Christ back into Christmas is absurd. Jesus Christ was never in Christmas.”  Vir sulke mense is Kersfees inherent boos en goddeloos en maak dit geen sin om dit eers te probeer reg vier nie.

Die besware rondom die heidense karakter van Kersfees gaan oor die beweerde worteloorsprong vanuit die heidendom, die datum van 25 Desember en heidense gebruike wat daarmee gepaard gaan.

Die meeste van hierdie argumente gaan terug op die tesis van die Skotse Pesbiteriaan Alexander Hislop in sy bekende  werk : “The Two Babylons”  Hiervolgens is die Roomse kerk ‘n direkte uitvloeisel van die heidendom van antieke Babilon wat deur Nimrod en sy vrou Semiramis  begin is. Hierdie tesis van Hislop het wyd bekend geraak, maar daar bestaan ernstige kritiek teen sy veronderstellings. (Sien voetnoot **)
Kom ons kyk bietjie na die kwessie van die datum. Waarom het die kerk, wat tog moes geweet het dat Christus nie op 25 Desember gebore is nie, op hierdie datum besluit?
Sedert die tyd van die Romeinse keiser  Elagabulus (218-222), is die afgod Sol Invictus (die onoorwinbare songod) as een van die vernaamste Romeinse gode vereer.  Toe keiser Aurelius (270-275) aan bewind gekom het, het hy gepoog om die aanbidding van die son as hoofgod te herstel.  Sol het saam met die god Jupiter op muntstukke verskyn. 25 Desember is herdenk as die geboortedag van die songod. (natalis solis invicti). Die songod is ook geïdentifiseer met Mithra ‘n Persiese god en heidense feeste is wyd oor die ryk heen gevier op 25 Desember.  Een teorie is dat die kerk in Rome doelbewus hierdie datum gekies het as ‘n teenvoeter vir die fees van die heidense songod en mense se aandag eerder te vestig op die “Son van geregtigheid” (Maleagi 4:2)  In die loflied van Sagaria lees ons immers ook van God se genade in Jesus die volgende “Soos die môreson sal Hy opgaan en uit die hoogte op ons afstraal.” (Lukas 1:78) Daar is nie direkte bewys vir hierdie teorie nie, maar daar is preke van die Kerkvaders (byv. Augustinus) wat hierdie gedagte opper.
Presies waarom die geboorte van Christus op 25 Desember gevier word is nie seker nie, maar die vraag is : Maak dit saak?  Gaan dit nie eerder oor die inhoud van wat ons herdenk nie? ‘n Mens moet pasop vir ‘n skuldig deur assosiasie redenasie. Ons gedenk die opstanding van Jesus op ‘n Sondag, wat in die Romeinse tye ‘n dag was wat vernoem is ter ere van (weereens) die songod! Mag ons dan daarom nie op die Sondag Jesus se opstanding vier nie? “Dis wat ons nog altyd vir julle gesê het”, sal die Sewendedaagse Adventiste nou weer uitroep. Maar om volgens hierdie redenasie ons erediens na die Saterdag te skuif laat ons weereens met ‘n soortgelyke probleem. Saterdag is deur die Romeine vernoem na die god Saturnus! Waar laat dit ons? Waarskynlik het al ons weeksdae se name ‘n heidense konnotasie.
Dit gaan tog nie oor die dag se naam of vroeëre konnotasies nie. Dit gaan oor wat ons nou op daardie dag doen en glo!
Die heidene het nie alleenreg op sekere dae of simbole nie!
 ‘n Ander beswaar wat dikwels  teen Kersfees ingebring word is die sterk ooreenstemming wat gebruike soos die Kersboom toon  met heidense feesgebruike. Die gebruik van geskenke gee kom blykbaar van die Romeinse Saturnaliafees wat van 17-24 Desember plaasgevind het. Wat moet ons met al hierdie dinge maak? Ooreenkomste dui nie noodwendig op dieselfde afkoms en nog minder op dieselfde betekenis! (As ‘n bygelowige mens ‘n uil hoor skree, ruik hy ‘n voorbode, maar ek hoor maar net nog ‘n voël.) Juis hierom moet ons mekaar die vryheid gun oor hoe  elkeen die menswording van Jesus wil gedenk (Ek persoonlik vind Vader Kersfees maar ‘n grillerige figuur en maak nie my kinders saam met hom groot nie, maar aan die anderkant voel ek nie dis verkeerd om vir my kinders geskenkies te koop nie.) Ons is mos vry om nie in uitspattigheid te verval soos die goddelose wêreld rondom ons nie. Ons is ook vry om gebruike wat ons ongemaklik te maak weg te laat.  As die heidene iets gebruik beteken dit tog nie noodwendig dat ons dit met dieselfde motiewe of betekenis te gebruik nie.  Heidense mense braai ook vleis, beteken dit dat ek nie meer mag vleisbraai nie?
Ooreenstemmende kulturele gebruike het vir verskillende kulture en gelowe verskillende betekenisse.  Heidennasies het ook die besnydenis beoefen (en doen dit nog steeds) maar dit maak nie die besnydenis wat Abram en sy nageslag in opdrag van God moes beoefen tog heidens nie? Net so maak die feit dat die Roomse kerk Kersfees vier dit nie noodwendig verkeerd nie. Ons deel baie waarhede met die Roomse kerk soos byvoorbeeld die leerstuk oor die Drie-eenheid. 
Watter heidense wortels daar ook in Kersfees mag wees, dit lê so ver terug dat dit vir die meeste van ons totaal die oorspronklike heidense betekenis verloor het. Wat my betref is die moderne heidense gebruike van uitspattigheid en materialisme ‘n baie groter gevaar as ‘n versierde kersboompie. (Sien voetnoot ***)
3. Die viering van Kersfees is ‘n oortreding van die sogenaamde “regulative principle”  Dis ‘n beginsel wat funksioneer in die gereformeerde denke wat behels dat ons God net mag aanbid volgens dit wat Hy duidelik in sy Woord beveel. Omdat daar nêrens in die Bybel ‘n opdrag gegee word om Kersfees te vier nie, sou ons dit nie mag doen nie en kom dit volgens sommige neer op valse “goue kalf aanbidding”. Ek is van mening dat die “regulative principle” te ver gevoer kan word. Dis ‘n kosbare beginsel, maar ons moet ook nou nie weghardloop daarmee nie. Die oprigting van kerkgeboue, die aanbied van Sondagskool en ‘n menigte ander normale kerklike gebruike is nie direkte opdragte van die Skrif nie – is al hierdie dinge dan verkeerd? Die feit is dat die geboorteverhale en ander gedeeltes wat handel oor die menswording van Christus deel is van die Skrif en as sodanig dus tog bedoel is om voorgelees te word as deel van ons aanbidding. Is dit verkeerd om op daardie gedeeltes te konsentreer op ‘n sekere tyd van die jaar? Die kerk beweer nie Kersfees is  ‘n spesiale heilige dag met enige magiese betekenis of krag nie, maar bloot ‘n tyd van die jaar wat ons benut om een van die groot heilsfeite, die menswording van God se Seun te herdenk en te verkondig tot opbou van Christus se gemeente. Sover ek weet dwing geen kerk sy lidmate om Kersfees te vier nie, en dis ook reg so.

RUSTIGE RIGLYNE


  • Christene is vry om Kersfees te vier of dit nie te vier nie. Die beginsels van Romeine 14 kan gerus in gedagte gehou word. Vers 5 : “Vir die een is een dag belangriker as ander dae; vir ‘n ander is alle dae ewe veel belangrik.” Laat ons elkeen handel volgens die lig wat ons het en die innerlike oortuiging wat die Heilige Gees ons gee vanuit ons besigwees met die Skrif. 

  • Christene wat Kersfees vier behoort dit so in te rig dat dit sal pas by die saak waaroor dit gaan, naamlik Jesus se menswording en selfvernedering met die oog op ons verlossing. Dis ‘n saak van blydskap (soos die engelekoor dit verstaan het) en kan met vrolikheid gevier word sonder om toe te gee aan die materialisme, vraatsug en dronkenskap wat die wêreldlinge se jolyt kenmerk. 
  • Christene wat nie gewetensvryheid het om Kersfees te vier nie, is vry om dit nie te doen nie. (Diegene wat wel Kersfees vier moet hulle nie as belaglik of snaaks uitkryt nie.) Hulle moet hulle ook egter weerhou van verdagmakery en wilde emosionele beskuldigings teenoor Christene wat wel Kersfees vier. Om God se kinders wat Kersfees vier van sonaanbidding of Roomse dwalings te beskuldig is regtig onbillik en liefdeloos, meer nog dis blatant oneerlik.


Geseënde Christusfees!


VOETNOTE

*Raakgelees in ‘n Nederlandse gedig

**Dr. Richard P. Bucher gee die volgende kommentaar op Alexander Hislop se tesis in “The Two Babylons”
It was Hislop's thesis that the Roman Catholic Church was a direct descendent of the paganism of Nimrod and ancient Babylon. One of his arguments was that some of the chief holy days of the Roman Catholic Church, such as Christmas, prove this to be so. The stamp of Hislop's thesis is found all over most of the anti-Christmas literature that I've seen. But is his argument sound?
Hardly. I have no doubt that Hislop consulted a vast amount of sources in writing his book. This is obvious in reading it. But some of its key arguments are flawed. He makes many philological leaps of faith to prove his points. For example, his entire argument rests on making the Babylonian "Ninus" the same person as the Biblical "Nimrod." (Nimrod is mentioned in only three places in the Scriptures, Gen. 10:8-12, 1 Chr. 1:10, and Micah 5:6). Only then can he claim that the wife of Nimrod was Semiramis, and that both were worshiped as divine mother and son, etc. Hislop himself recognizes how important this is, in this very interesting sentence:
Now, assuming that Ninus is Nimrod, the way in which that assumption explains what is otherwise inexplicable in the statements of ancient history greatly confirms the truth of the assumption itself (The Two Babylons, 25).
Got that? The point is that this turns out to be a big assumption. In other ancient literature, the father of Ninus was Bel, and it is said that he built the city of Nineveh. The Bible on the other hand says that Nimrod built Nineveh, and that Cush was his father. The way in which Hislop attempts to reconcile this contradiction is a truly remarkable example of literary gymnastics that is hardly convincing. He argues that Bel is the same as Hermes/Mercury, and the same as Janus/Chaos, which is the same as Cush. Right. (See for yourself by reading the "The Two Babylons," 25-29).
It is possible that Nimrod, the grandson of Cush, led people into pagan worship. But the argument that all paganism, and especially that all pagan festivals at the time of the winter solstice, can be traced back to Nimrod, just doesn't hold. To say it is a scholarly stretch is an understatement. Yet most of the "Christmas is pagan" literature bases its arguments on Hislop's thesis.
Hislop se boek is baie gewild by sekere groepe wat die kerk verdag wil maak en word gereeld aangehaal. Daar is egter ernstige bedenkinge oor die boek. Sien verder “The Babylon Connection?” deur Ralph Woodrow
*** I sympathize with those who want to be rigorously and distinctly Christian, who want to be disentangled from the world and any pagan roots that might lie beneath our celebration of Christmas, but I don't go that route on this matter because I think there comes a point where the roots are so far gone that the present meaning doesn't carry the pagan connotation anymore. I'm more concerned about a new paganism that gets layered on top of Christian holidays. (John Piper)

NASKRIF

Hierdie nederige Blog is nou net bietjie meer as 'n jaar aan die gang. Die  eerste  twee "posts" het op 8 Desember 2011 verskyn, naamlik WAS DIT REGTIG GOD SE WIL? en SPOKE EET NIE VIS NIE. 

Ek geniet dit baie om hierdie stukkies te skryf en te sien hoedat daar besoekers van dwarsoor die wêreld kom inloer. Die meeste gaste is natuurlik van Namibia en Suid-Afrika, maar daar is ook gereeld besoeke uit New Zealand, Rusland, Duitsland, die VSA, Kanada, die Verenigde Koninkryk, Australie en Rusland. Ook  was daar al besoeke uit Nederland en Frankryk en selfs uit Israel, Madagaskar, Swaziland, Qatar, Sjina, Suid-Korea, Argentinie, Swede, Ukraine, Malawi, Oostenryk, Sierra-Leone... Dankie vir julle ondersteuning. Ek sal graag van julle wil hoor...



Op Bray het ons 'n Kameeldoring, kersboom gehad!