BAIE WELKOM!

Deel in die ryk seëninge uit God se WOORD! Dit sal ook lekker wees om van jou te hoor! Neem dus vrymoedigheid om kommentaar te lewer (by OPMERKINGS), maar doen dit asseblief altyd op 'n smaakvolle en verantwoordbare manier. Onbeheerste galbrakery sal nie geplaas word nie... Die opinies hier uitgespreek is my eie tensy duidelik anders vermeld. Hierdie webjoernaal is nie 'n amptelike spreekbuis van die NG Kerk in Namibië of die Tsumeb gemeente nie.

Maandag, 27 Augustus 2012

ONS REAKSIE OP 'N PLAASMOORD

- troos uit God se Woord.

[Soos almal bewus is, het plaasaanvalle en moorde ‘n emosionele saak in Suid-Afrika geword. Die lewensverlies, skade en smarte wat hieruit voortkom kan moeilik in woorde gesê word. Ook Namibië is nie vry van hierdie euwel nie. Aan die einde van April is oom Chris en tannie Meisie Henning op hulle plaas, Bergen in die Tsumeb distrik aangeval. Oom Chris is ernstig beseer. Verlede week is hy in die plaaslike hospitaal oorlede en op Maandag 27 Augustus vanuit die NG Kerk Tsumeb begrawe. Kom deel saam in die troos vanuit God se Woord wat na ons gekom het op die begrafnisdiens.]

Lees gerus saam uit Openbaring 1:4-6 (die aanhef tot die brief aan die sewe gemeentes) en dan vanaf vers 12. (Die visioen van die verheerlikte Christus)

Dit is ‘n ontsaglike genade en voorreg om in ‘n situasie soos hierdie God se Woord voor ons oop te mag hê. Menslike woorde in ‘n tyd van diep smart soos nou, het maar weinig waarde. Al bedoel ons dit hoe opreg, klink ons beste woorde maar hol en ontoereikend in die aangesig van die dood. God se ewige en onfeilbare Woord is die enigste sinvolle fondasie van troos en hoop, ook in ons diepste ellende. Mag ons tog elke geleentheid aangryp om hierdie Woord te hoor. Ja, elkeen van ons hier het nog net ‘n sekere aantal Sondae oor... hoeveel weet nie een van ons nie... Maak gebruik daarvan!

Openbaring is ‘n TROOSBOEK* vir God se kinders. Vir God se kinders wat stry teen versoekings, Satan en  sonde, wat ly, wat swaarkry en selfs onregverdig doodgemaak sou kon word. Die kinders van God se troos lê in die feit dat God in beheer is (daarom hoor ons telkens in Openbaring die uitdrukking : “Hy wat op die troon sit...”) Ons troos is gebou op die feit dat Jesus die Oorwinnaar is! (oor sonde, Satan, dood en hel). Ons word getroos met die vaste wete dat alles oppad is na ‘n heerlike finale doelwit! (‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde)

Reeds hier reg aan die begin van Openbaring  word Johannes (en ook ons) getroos deur ‘n visioen van die verheerlikte almagtige oorwinnaar Christus.  Hy sien die koninklike opgestane Jesus in sy volle majesteit, mag en heerlikheid! Dit gaan nie nou oor ‘n detail ontleding nie, maar die oorkoepelende geheelbeeld. Kyk, kyk en sien en hoor : Sy oë wat soos vuur vlam, ‘n swaard wat uit Sy mond kom, die  stem wat klink soos die gedruis van ‘n  watermassa, Sy voete wat gloei soos koper in ‘n smeltoond,  sy hele voorkoms wat skyn soos die son op sy helderste! Goddelik, glorieryk! Angswekkende mag en gesag,  verblindende heerlikheid!

G’n wonder nie, dit blyk Johannes kry ‘n floute en raak soos ‘n dooie... 

Maar dan raak Jesus met sy regterhand aan Johannes  en hy hoor die gerustellende woorde : “Moenie bang wees nie” En Jesus gaan dan voort : “dit is Ek, die Eerste en die Laaste, die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”

Geliefde, as jy hierdie woorde gelowig hoor en jou eie maak, sal jy ook “voel” hoe Jesus aan jou raak en jou gerusstel en troos! Nou!

Ek wil net ‘n paar gedagtes met julle  wissel oor die woorde : 

“Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.” 

Om die sleutels van ‘n bepaalde deur te hê, is om die mag te hê om daardie deur oop of toe te sluit! Absolute beheer!

Die dood van ‘n geliefde bly vir ons ‘n pynlike, ontstellende en  hartseer ervaring. Veral as dit nie weens natuurlike oorsake is nie, soos ‘n plaasaanval. Behalwe die “normale hartseer” kan so ‘n oorsaak by ons verdere  twyfel, vrees of selfs bitterheid wek. 

Ons moet vandag duidelik hoor, Jesus het die sleutels van die dood en doderyk en daarom: Geen moordenaar, geen noodlot, geen duiwel het die finale sê oor lewe en dood nie. Jesus Christus het! Prakties is die implikasie,  nie een van ons sal een minuut langer of korter leef as wat Hy bepaal nie! Dis ‘n baie belangrike perspektief om selfs in die donkerste tye te behou! 

Maar eintlik gaan hierdie versekering van Jesus oor iets dieper. Dood en doderyk verpersoonlik die magte van die Bose wat teen God in opstand is.** Jesus het deur sy dood aan die kruis die dood se mag gebreek. Hy het die verskrikking van die dood uitgewis. Hoe so? Dood,  leer ons reeds in Genesis is mos ‘n gevolg van die sonde. Die duiwel het weens ons sonde,  ‘n mag oor ons gekry. Omdat ons gesondig het en skuldig is kan hy ons bangmaak en afpers met dood, oordeel en hel. Jesus het egter deur sy sterwe die sondestraf gedra van God se kinders. (Jesaja 53:5,6) Die dood hou daarom vir die kind van God nie meer ‘n verskrikking in nie (want daar is nou nie meer iets wat gestraf moet word nie), dis bloot  ‘n deurgang na ons finale en veilige bestemming. ***

Die verheerlikte Christus! Die klem val hier op die almag van Jesus Christus. Niks kan sy mag meer inperk nie.  Juis dit wat by ons die grootste vrees inboesem, naamlik die dood is deur Hom oorwin en bestaan nou slegs  onder sy beheer! 

Nog iets belangrik  vanuit Jesus se oorwinningsmag vir ons om nou van kennis te neem : Omdat Jesus die absolute Oorwinnaar is, is Hy ook die Groot Regverdige Regter en kan ons met gerustheid alle onreg in sy hande laat. Hy sal oordeel, Hy sal finaal straf! Natuurlik, moet die aardse reg sy gang gaan (die owerhede is immers daargestel deur God om oortreders op aarde te straf), maar die groot saak om raak te sien is dat dit nie nodig is vir God se kinders om slawe te word van bitterheid en wraaksug nie! Ons saak is in goeie Hande!

Om saam te vat : 

Sien die prentjie van Jesus en wees getroos! 

In jou persoonlike omstandighede van hartseer, droefheid, twyfel... Draai om en kyk na Christus. Binne die wêreldomstandighede van onreg en chaos... Draai om en sien Jesus ! .... en moenie VREES nie!

Laaste, maar nie, die minste nie. Ons moet altyd  eerlik omgaan met God se Woord. Jesus  bring troos vir elkeen wat gewas is in Sy bloed, en net vir hulle! Met ander woorde vir  elkeen wat op grond van Jesus se kruisdood, persoonlike vergifnis en kwytskelding ontvang het en so deel geword het van Sy kerk, die Bruid! Jesus se heerskappy bring troos vir die verlostes. As jy aan Jesus behoort en Hom as Verlosser ken vat hierdie seënbede vir jou in vers 4 : “Genade en vrede vir julle van Hom wat is en wat was en wat kom, en van die sewe Geeste voor sy troon, en van Jesus Christus die geloofwaardige getuie, die eerste wat uit die dood opgestaan het, die heerser oor die konings van die aarde. Uit liefde vir ons het Hy ons deur sy bloed van ons sondes verlos en ons sy koninkryk gemaak, priesters vir God sy Vader. Aan Hom behoort die heerlikheid en die krag tot in alle ewigheid! Amen! 

As jy Jesus nog nie waarlik ken nie,  wil ek by jou pleit. Onderwerp jouself aan Hom. Hy is die Oorwinnaar. Sorg dat jy aan sy kant is - dan het ook jy niks te vrees nie!.

* Sien die reeks : MAAK OOP BY OPENBARING
** Du Rand
*** Hebreërs 2:14,15


Dinsdag, 21 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (14)

- die bruilofsmaal van die Lam.

Die Bybel maak dikwels gebruik van die huweliks en bruilofmetafoor om iets van die heerlikheid van die verhouding tussen God en sy verlosde mense te beskryf.
Die huwelik word alreeds in die Ou Testament  gebruik om die verbintenis tussen God en sy volk te beskryf. Kyk na Esegiël 16:8! (Aangrypend : ’n weggooikind word uiteindelik ’n koningin bruid!) Sien ook Hosea 2:18,19! In die Nuwe Testament  word dit nog duideliker gestel as Paulus die verhouding tussen man en vrou direk van toepassing maak op die verhouding tussen Jesus en sy kerk. (Ef 5:31,32)

Jesus self gebruik ook die feesmaal (al is dit nie eksplisiet ’n bruilofsmaal nie) as ’n tema om die feesviering in die Koninkryk aan te dui. (Matt 9:14, 15; 22:1-14, 25:1-13) Hier lê die klem op die gaste, wat uitgenooi en begenadig is om te mag deelneem.
Die beeld van die maaltyd en die huwelik word dus  gevarieerd in die Skrif gebruik en in elke situasie is daar ’n verskillende klem. Dis wel duidelik dat God se mense (die kerk van Jesus ) beide bruid en gaste aan die bruilofsmaal is!* Een beeld is nie genoeg en voldoende om die heerlikheid te beskryf waarin God se kinders gaan deel nie! Die bruid self is ook nie ’n enkelvoudige beeld nie! 

Hier in Openbaring  21:9,10 kry ons ‘n verrassing. Johannes hoor: “Ek wys jou die bruid...” en dan sien hy ’n stad!

Die nuwe Jerusalem is hier duidelik nie ’n letterlike stad nie, maar ’n personifikasie van die kerk, die bruid van Jesus, die Lam. (Hier sien ons vir die soveelste keer in Openbaring hoe Johannes drastiese gedagtespronge maak om ‘n boodskap deur simbole oor te dra. Hy verf as’t ware sulke lang hale met sy kwas om die heerlike boodskap met sy skildery uit te beeld. Hierdie boodskap wat so onbeskryflik groot en wonderbaarlik is dat gewone taal dit moeilik kan oordra.) 

Die nuwe Jerusalem, die ewige stad van God  is nie ’n stad van bakstene en geboue nie, maar wel begenadigde mense! 

God woon by sy mense! Vgl Openbaring 21:3.  Dis belangrik om raak te sien : Die bruid, Jerusalem is in skrille kontras met die prostituut, Babilon! Twee simboliese stede wat reëlreguit teenoor mekaar en vir radikaal opponerende waardes staan. Babilon versinnebeeld ‘n onrein HOER en Jerusalem ‘n heilige BRUID! Babilon is die simbool van verset en verleiding, Jerusalem, die verlosde vrou van die Lam!
Vergelyk die volgende gedeeltes in Openbaring met mekaar: 18:5 en 21:2 (sonde teenoor heiligheid); 17:1 en 21:9 (sedelose vrou teenoor bruid van die Lam);  17:4 en 21:27 (sedeloos teenoor niks onreins); 18:23 en  21:23,25 (geen lig teenoor God wat die Lig is in Jerusalem); 17:6 en 21:4 (Stad van die dood teenoor geen dood) ens.

Nogmaals 12

In die beskrywing van die stad kry ons telkens  weer die simboliese getal 12 (en veelvoude daarvan) wat ons reeds by die 144000 as simbolies die volle getal van die kerk teengekom het! Lees Openbaring 21:12-21 (12 poorte, 12 engele, 12 fondamente, 12 name, 12 000 km, 144m ens.)  Dit sê so duidelik : die bruid van die Lam is volledig, nie een uitverkorene sal kort nie! 

Kubus

Opvallend, die nuwe Jerusalem is ’n kubus! Vers 16!  (Weereens is hier nie sprake van letterlike afmetings van ’n letterlike stad nie! ‘n Stad met sulkie fisiese proporsies, sou maar ‘n ongemaklike plek gewees het) Waarom dan die kubusvorm?  Dit gaan oor die volmaakte teenwoordigheid van God soos in die kubusvormige binneste heiligdom - vgl. die heiligdom van Salomo se tempel in 1 Konings 6:20! Ook kubusvormig!**  God is volmaak alomteenwoordig by sy mense! Daar is niks meer wat skeiding en vrees kan veroorsaak nie. Deur Jesus se bloed (sy genoegsame offer) is ons nou in sy binneste heiligdom! Die finale heerlike gevolg van die voorhangsel wat geskeur het!

Edelstene en goud

Die edelstene se agtergrond kom  waarskynlik uit Eksodus se voorskrifte met betrekking tot die Hoëpriester se klere - (8) Edelstene was deel van die borssak van die priester, wat simbool was van die hele Israel wat deur die hoëpriester verteenwoordig is. (Moenie te detail vra vrae en in tegniese besonderhede vasval nie - sien die groot prentjie raak!)
Pêrels was in die antieke wêreld die kosbaarste juweel! God ag sy volk baie kosbaar! Die strate  van goud weerkaats God se heerlikheid! Ja, die heerlikheid van God sal sigbaar wees in Sy verlosdes! (Dis iets wat nou reeds merkbaar is in die heiliges op aarde ten spyte van soveel gebrokenheid!)

Maar geen tempel nie!

Verder vind ons hier ‘n heerlike lyn van Eden via die tempel tot by Jesus die ware tempel van God tot by die Voleinding!!  (Vers 22) Die tempel (eers die tabernakel) was altyd die fokusput van God se plek, waar Hy besonder teenwoordig is en waar sy heerlikheid beleef word. Die funksie van die aardse tempel in Palestina is vir altyd verby, want ons sien en beleef die heerlikheid van God nou in Jesus. (Johannes 1:14 - letterlik - Jesus het by ons "getabernakel, tent opgeslaan") Ons deel in Jesus en vorm so saam met Hom die ware tempel, die sentrum van die  stad die woonplek van God.  ‘n Fisieke tempel is nou nie meer nodig nie! Gereinig deur Jesus se offer gaan ons by God wees en sy volle heerlikheid vir ewig beleef! Voor die sondeval het Adam en Eva God se teenwoordigheid in Eden beleef, dis nou weer herstel, maar dis baie beter en blywend!

Openbaring gebruik komplekse beelde vanuit verskillende hoeke om vir ons die onbeskryflike heerlikhede (bo ons verstand en taalvermoë) wat wag vir God se kinders te beskryf. Die bruid as die nuwe Jerusalem beteken dat die volle getal van God se kinders ’n ewige volmaakte saamwees met God en die Lam sal beleef!

Kan daar iets heerliker wees om na uit te sien?


* Goldsworthy
** Du Rand

Sondag, 19 Augustus 2012

DIE VERLORE SEUNS (2)

- die oudste seun word ook binnegenooi.

Die klem het verlede week geval op die radikale en volledige vergifnis wat die jongste seun gekry het by die Vader toe hy in berou teruggekeer het. (Lees gerus weer die gelykenis in Lukas 15:11-32) Vandag kyk ons bietjie dieper na die oudste seun. Die blye verwelkoming en hartlike ontvangs  van die jongste seun het ‘n onverwagse nadraai. Dit bring ‘n donker geheim na vore. En dis juis hier waar ons die skerpkant van die gelykenis vind. 

Jesus vertel mos eintlik hierdie gelykenis met die oog op godsdienstige mense wat dink hulle het nie vergifnis en bekering nodig nie. (15:1-2) Daarom is hulle ook onbegrypend en ongevoelig as ander sondaars opgewonde raak oor vergifnis. Hulle verstaan self  nie die beginsel van vergifnis  nie. Hulle het nie  ‘n waardering vir Jesus se bemoeienis met slegte mense nie. Hulle het eintlik geen begrip vir Jesus se houding en boodskap nie. Hulle  beskou hulleself as  te ordentlik om tot bekering te kom. “Ons is mos goeie respektabele kerkmense.”, dink hulle (in vandag se taal). Die oudste seun, wat so goed,  gehoorsaam en ordentlik was, is ‘n beeld van hierdie tipe godsdienstige (maar onbekeerde mens). Die oudste seun se donker, bitter kant is ‘n beskrywing van die onbekeerde godsdienstige mens  se hart.

Mens kan hierdie tweede deel van die gelykenis opdeel in twee temas:

Liefdelose diens   
Die kontras tussen die twee seuns is baie opvallend (aanvanklik). Die  jongste  verlaat die Vader en sy gebooie.  Die oudste bly soet by die huis en gehoorsaam die Pa se opdragte (29).  Die jongste is rebels, die oudste is onderdanig.  Die jongste lyk na ‘n regte gemors en die oudste lyk soos ‘n modelseun.  Maar skielik verander als. Die terugkoms ontbloot die oudste se diepste motiewe en gesindheid. Die oudste seun was al die tyd ongelukkig en het sy Vader met ‘n  gedwonge liefdelose hart hart gedien. Hy voel veronreg. Die  bitterheid borrel nou oor uit sy binneste. (Vers 29)  “Kyk, al die jare werk ek soos ‘n slaaf vir Pa...” Hoor die verwyt in sy stem!  Die oudste se hart  was eintlik  net so ver van sy Pa as die jongste - al was hy fisies binne die huis. Agter beide se optrede lê 'n gemeenskaplike mislukking : beide het nie as seuns geleef nie!* Dis die skokkende van hierdie gelykenis, wat hier aan die einde onthul word - ook die oudste seun was nie in ’n verhouding met die Vader nie.  Geestelik gestel : Beide was verlore! Die opskrif moes dalk daarom eintlik gewees het : “die Verlore Seuns!” So baie godsdienstige kerklike mense is in die posisie van die hierdie oudste seun. Dis mense wat uit goeie huise met goeie Christelike opvoedings kom. Hulle kom nooit tot  openlike rebellie teen God nie. Getrou kom hulle hul  uiterlike godsdienstige pligte na : kerk, huisgodsdiens, uiterlike skoon lewe. Maar hulle is nie regtig in ʼn verhouding met die Vader nie. Daar is nie ʼn kind-Pa verhouding nie,  maar bloot ʼn uiterlik wettiese verhouding. ‘n Slaaf-Baas opset!  Alles is uiterlike dorre pligpleging. Daar is min liefde, min vreugde, min spontane toewyding. Hierdie mense het bekering net so nodig soos die openlike rebelle en goddeloses! Goeie godsdienstige mense het die genade van Jesus net so nodig soos prostitute en dronkaards! (Natuurlik beteken dit nou nie dis maar oukei om ‘n prostituut of dronkaard te wees nie)

Liefdevolle uitnodiging. 
Ons moenie miskyk hoe hierdie gelykenis afsluit nie. Dit sluit nie af met die protes van die ongelukkige oudste seun nie, maar met die uitnodiging van ʼn liefdevolle Vader! (28)
“Sy pa gaan toe uit en praat mooi met hom."  Die OAV sê : “...smeek hom.”  Dink jou in, die Pa verneder homself om buitentoe te gaan en by die oudste seun te pleit! Hier het ons net so ‘n dramatiese bewys van die Vader se liefde, as met die terugontvangs van die jongste seun!
Die oudste seun het ook bekering nodig! Maar juis daarom verwerp die Pa  hom nie. Die Pa se liefde reik ook na hom uit net soos na die jongste. Die Pa wil hê ook hy moet deel in die fees.

God se genade nooi alle tipes mense uit. Die openlike geharde sondaars. Maar ook die skynheiliges en selfgeregtiges en ordentlikes. Dis ook  Jesus se houding. Jesus het tyd gehad vir Saggeus die skelm tollenaar. Maar dis ook Jesus wat verskyn het aan die eiegeregtige en goeie  Fariseër Paulus!  So baie mense wat in die kerk grootgeword het is tipiese “oudste seuns.” Hulle moet ook die boodskap van bekering hoor!

 Verbondsmense moet ook die genade doelbewus  aanvaar! 

Die pad van bekering vir hierdie tipe sondaar is eintlik moeiliker, hy moenie net afstand doen van sy sonde nie maar ook van sy geregtigheid ! Dit wil sê - Hy moet besef sy eie goedheid en ordentlikheid is nie genoeg nie.  Hy moet besef dat mens verlore kan wees ten spyte van doop, nagmaal en formele lidmaatskap.  Hy moet besef dat mens hel toe kan gaan al was jy nog nooit dronk, onsedelik  of skelm nie. Die “oudste seun sondaar” kort iets. Hy kort ‘n egte verhouding met God. Kerkmense  se goeie opvoeding, goeie morele lewe en godsdienstihed is dikwels ‘n struikelblok om ware Christene te word. Daarom sê Jesus op ‘n ander plek : die hoere en tollenaars gaan voor julle in die koninkryk in. Die goeie mens moet ook eers besef hy is ‘n sondaar voor hy gered kan word. Jesus red alle soorte sondaars, maar Jesus red net sondaars. Dis eers as ek myself tel onder die sondaars wat daar hoop en redding is vir my.

Is jy ‘n  tipiese jongste seun (openlike rebel) of dalk ‘n tipiese oudste seun? Dit maak nie regtig saak nie. Ons almal het God se vergifnis deur Jesus nodig.  Kom wees net eerlik met God en kom na Hom as sondaar. Hy nooi alle sondaars om te deel in die groot fees. 

Naskrif : En noudat mens die gelykenis in geheel en van alle kante bekyk het, is dit dalk gepas om heeltemal 'n ander opskrif voor te stel. 'n Opskrif wat nie op die seuns fokus nie, maar op die Vader! "Die Gelykenis van die Barmhartige Vader", is 'n voorstel van 'n vriend van my, waarmee ek maar net kan saamstem!

* Goppelt

Woensdag, 15 Augustus 2012

MAAK OOP BY OPENBARING (13)

- totaal nuutgemaakte skepping!

Tot hier het ons die oorvleulingstyd tussen die ou en die nuwe bedelings ondersoek - "die alreeds-nog nie fase". Die tyd waarin ons ons tans nog bevind. Dit behels stryd, maar binne in die konteks van vaste sekerheid dat Jesus die beslissende oorwinning reeds behaal het. In hierdie tyd kan die Satan nog groot verwoesting aanrig, maar sy mag is beperk. (sien vorige Openbaring studie) In hierdie tyd moet die kind van God volgens die geloof leef en nie let op die sigbare ellendes nie, maar die onsigbare realiteite van God se Almag en vertrou op die vervulling van al sy beloftes. Dis die tyd om die hoop te behou.

Die wonderlike nuus is dat hierdie voorlopige bedeling tot ’n einde kom, dat die hoop in vervulling gaan en dat die geloof sal oorgaan in aanskoue! Die klein tydjie wat Satan losgelaat word dui op sy beperkte mag al kan hy nog baie skade aanrig. (Vgl. 1 Petrus 5:8) Hierdie “klein rukkie” (20:3) is die voorloper van die slottonneel nl. Die totale vernietiging van Satan (20:10), die finale oordeel en die nuwe hemel en die nuwe aarde.

Kom ons bekyk Openbaring 21:1-5.  Die essensie is dat God se woonplek by die mense is. Die gebroke verhouding is volledig herstel! Ons staan dan in volmaakte verhouding met God in ‘n volmaakte omgewing.  Hoe gaan dit wees en lyk? Dikwels het ons ’n baie onBybelse siening van hemel. ’n Vae beeld van kore en mense wat op harpe speel!   Baie belangrik vir ons verstaan is Romeine 8:18-25. Jesus se werk loop uit op die bevryding van die hele skepping. Ook die verlossing van ons liggame! (Rom 8:23 - OAV en NIV is hier beter as NAV)

Ons ken nie die detail van als nie (dis in elk geval te groot om te verstaan), maar dis duidelik, die Nuwe Hemel en Nuwe Aarde is die oplossing en einde van alle konflik, lyding en betekenisloosheid.*

Dis ’n herstel van die totale harmonie tussen God, mens en die hele geskape werklikheid... God laat nooit sy skepping vaar nie, nooit as nimmer sal Hy maar sy handewerk net so los in ’n stukkende toestand nie! Hoekom nie? Hy het geskep tot sy eer! Die eer van God se naam is op die spel! Deur sonde is die skepping verwoes (mense, onderlinge verhoudings en natuur) maar juis daarom het Jesus gekom om te HERSKEP! Jesus se herskepping is ’n totale herskepping - nie net mense nie maar ook die natuur! Nie net siele nie, maar ook liggame. Met die sondeval het die mens eers geestelik gesterf (sy verhouding met God is verbreek), maar daarna ook fisies. (Daarom gaan almal dood) As Jesus ons herstel, herstel Hy dit wat eerste verkeerd gegaan het (geestelik), maar dit stop nie daar nie! 

Ons liggame word ook herstel by die wederkoms!

Die skepping word herstel tot heerliker as wat dit was! Kyk na Openbaring 22:1-2.

Hierdie nuwe bestaan kom van God af (sy troon) - dit kan nooit die produk van ’n menslike proses wees nie.  Diegene wat dink dat die mens deur opvoeding, tegnologie of morele verbetering ‘n volmaakte wêreld op aarde kan skep leef in ‘n gekkeparadys! Ons hoop is op Hom wat op die troon sit en self alles tot ‘n heerlike einddoel sal bring!  LW - die Lam speel nog steeds ’n belangrike rol! ’n  Mens sou kon dink dat Jesus na die finale oorwinning slegs as Leeu vermeld word! Ja, inderdaad is Hy die kragtige oorwinnaar, maar dis die Lam wat hier ewig op die troon is! Tot in alle ewigheid is ons geregtigheid afhanklik van die Lam se offer en nie op ons eie verdienste nie. Ons posisie voor die troon van God staan vas op die meriete van die Lam se offer! Ons sal altyd roem op die kruisgebeure!

Opvallend is die terminologie wat aan die paradysgeskiedenis in Genesis herinner. Hier is weer ’n boom van die lewe, maar hy dra nou twaalf keer ’n jaar vrugte - dis heeltemal ongekend en buitengewoon, alles oortreffend! Die skepping (Eden) word herstel, maar dis duidelik dat die nuwe Eden soveel heerliker gaan wees as die oorspronklike!

Dis nou nie meer ’n tuin nie, maar ’n stad! ’n Stad in Bybelse denke is baie meer permanent as net ’n tuin! Die einde gaan selfs baie heerliker wees as die begin van die aarde voor die sondeval en die heerlikheid sal sonder einde wees.

Ons woonplek is ’n totaal herskepte werklikheid, waar volmaakte harmonie tussen God, mens en die hele skepping sal heers! Die erfenis wat God vir ons in die oog het, gaan al ons verwagtings oortref!

Maak seker dat jy ook 'n erfgenaam is! Maak seker dat jy ook deel van die bruid is. (oor die Bruid van die Lam praat ons by 'n volgende keer)

* Goldsworthy p315

Sondag, 12 Augustus 2012

VERLORE SEUNS (1)

- die jongste word feestelik vergewe.

Ons ken almal hierdie baie bekende en pragtige vertelling van Jesus in Lukas 15 as die gelykenis van die Verlore Seun. Dis natuurlik ‘n opskrif wat die vertalers voorsien het. ‘n Beter titel sou dalk kon wees : DIE VERLORE SEUNS. (Waarom, sal ons in volgende week se preek sien) Voorlopig kan ek net sê, die skerpkant en verrassingselement in die boodskap van  hierdie gelykenis kom eintlik eers na vore in die tweede gedeelte wat handel oor die oudste tuisblyer seun. Tog het hierdie eerste gedeelte (Lukas 15:11-24) opsigself ook ‘n baie sterk boodskap. 

Ons het hier ’n radikale verhaal. ’n Verhaal van uiterstes! Uiterste opstand, uiterste ellende, maar ook uiterste vergifnis en genade!  Maar daar is ‘n probleem, ons ken die verhaal so goed - dit  raak ons eintlik nie regtig meer nie. Ons hoor nie meer die soet  musiek van opwindende genade hierin nie. Ons voel nie meer die “onbeskryflik groot” nie.* Ons harte word nie meer so geraak dat ons in aanbidding voor ons Vader wil neerbuig nie.

So kom ons luister bietjie op ‘n ander manier na die “Verlore Seun”.

Die Amerikaanse joernalis-skrywer Phillip Yancy** vertel die gelykenisse van Jesus op ’n eietydse manier oor, gegrond op  hedendaagse gebeurtenisse. Johan Celliers vertel sy weergawe van die “Verlore Seun” so oor in Afrikaans:

’n Tienerdogter het op ’n dag van haar ouerhuis in die platteland af weggeloop na die stad en in verkeerde geselskap beland. Sy raak verslaaf aan dwelms en verval in prostitusie. Gou beland sy op straat en moet sy saans in gevaarlike stegies slaap. Een nag terwyl sy lê en luister na voetstappe, lyk die wêreld om haar skielik anders. Sy voel nie meer soos ’n vrou van die wêreld nie. Sy voel soos ’n klein dogtertjie, verlore in ’n koue en vreesaanjaende stad. Sy het onttrekkingsimptome. Haar sakke is leeg en sy is honger. Sy trek haar bene in en rol haar op in die fetusposisie waar sy bewend van die koue onder ’n paar koerante lê. Skielik vul ’n enkele prentjie haar kop : haar ouerhuis, waar die kersiebome vol bloeisels is, haar hond wat blaffend tussen die bome en die bloeisels op die grond agter ’n tennisbal aan hardloop.
“God, waarom het ek weggegaan,” sê sy vir haarself, en die pyn sny deur haar hart “My hond by die huis eet beter as wat ek nou eet.” Snikkend besef sy dat sy meer as enigiets anders in die wêreld wil huis toe gaan.
Op die een of ander manier slaag sy daarin om haar ouers te skakel, maar hulle is nie daar nie en al wat sy kan doen is om ’n boodskap op die antwoordmasjien te laat kom om te sê dat sy die volgende dag om twaalfuuur met die bus huis toe kom. “En Pa,” voeg sy by : “ek sal verstaan as julle my nie wil kom ontmoet nie. Dan bly ek maar op die bus tot my geld opraak.”
Die sewe uur wat sy op die bus moet deurbring, word vir haar ’n nagmerrierit. In haar gedagtes probeer sy ’n verskoning aan haar ouers formuleer, maar haar keel trek toe. Sy het in geen jare enige mens vir enigiets om verskoning gevra nie.
Uiteindelik na wat soos ’n ewigheid gevoel het, bereik sy haar bestemming. In totale onsekerheid sluip sy die busterminus binne. Nie een van die tientalle tonele wat sy in haar gedagtes sien afspeel het as moontlikhede vir wat sy daar sou aantref, het haar egter voorberei op dit wat sy voor haar oë sien nie. Want, toe sy om die hoek die saal binnekom, bars daar ’n blye pandemonium los. Daar staan ’n skare van haar broers en susters en ooms en tantes en neefs en niggies en ’n ouma- en oupagrootjie ook nog. Hulle het almal sulke skewe potsierlike partytjiehoedjies op en blaas op raserige partytjietrompette, en dwarsoor die hele terminusmuur is ’n banier gedrapeer wat uitroep: “Welkom tuis! Welkom tuis!”
Iemand tree uit die groep na vore. Dis haar pa! Sy staar na hom deur haar trane heen, en begin haar gememoriseerde toesprakie stotter : “Pa , ek is jammer, pa. Ek weet ek is nie werd...”
Hy onderbreek haar. “Stil, my kind. Ons het nie tyd vir verskonings nie. Jy gaan laat wees vir jou partytjie. Daar wag ’n reuse -feestelikheid op jou by die huis...”  

Daar was drie radikale momente in die verhaal van die jongste se terugkeer wat treffend die reddingsgeskiedenis van die sondaar beskryf. Miskien herken jy jouself.

Radikale rebellie en ellende. Die jongste seun het sy Vader se liefde op ‘n gruwelike wyse verwerp. Met minagting het hy losbandigheid bo Vaderversorging gekies. Maar uiteindelik moes hy agterkom dat ‘n lewe weg van die Vader bitter en eensaam is. Sonde bring net tydelike genot en gewildheid. Dit bring ‘n skynvreugde met skynvriendskappe. Maar op die ou einde trek die sonde jou af in ‘n smerige varkhokbestaan. As die laaste dop uitgewerk is, as die losbandige verhouding begin vaal raak, as die geld vir plesier op is - dan is die sondaarhart leeg en eensaam. Dan word die geestelike bankrotskap pynlik en voelbaar.

Radikale besef en besluit.  Iewers het die waarheid tot hierdie seun deurgedring en het hy eerlik met homself geraak. Dis ‘n baie belangrike draaipunt in die sondaar se bekering. Die eerlike  erkenning : “Dis hoe ek lyk voor God!” So het Dawid (nadat Natan die vinger na hom gewys het) ook besef dat hy skuldig staan voor God. (Psalm 51)  As God uit genade deur sy Gees in die afgedwaalde werk, begin dit by ‘n sondebesef, ‘n bewustheid van my boosheid en leegheid. Deur die genade kom ek dan tot ‘n besluit : “Tot hier toe en nie verder nie. Ek staan nou op en gaan terug, kom wat wil.” 

En jy... het jy al opgestaan?

Radikale Vaderlike vergifnis.   Dis waar die klem val in die eerste gedeelte! Ja, die opstand en ellende van die seun word redelik breedvoerig beskryf, maar die Vader se optrede steel die kalklig! Die terugkerende seun kry ‘n ontvangs wat alle verwagtinge oortref.  ‘n Rebelse seun loop homself vas in ‘n fees! Mens sou nie raai dis hy wat sy Pa beledig en bitter verdriet aangedoen het nie. (Dit lyk eerder of hierdie seun ‘n olimpiese medaljewenner was!)  Pa gooi alle waardigheid oorboord en hardloop na die seun. Hy het nooit sy seun vergeet nie...hy het nog al die tyd vir hom gewag.  Hy was wel vir ‘n tyd uit sy seun se gedagtes, maar sy seun was nooit uit sy gedagtes nie. Sy hart is gebreek oor hierdie wegloperseun. As die seun by hom aankom is daar  geen verwyt nie.   Nie eers,  “ja, ek vergewe jou, maar van nou af moet jy darem in jou spoor trap” of “is jy seker jy is jammer?” of “ek hoop jy het nou jou les geleer” nie.  Onvoorwaardelike liefde. Ja, die seun het berou, hy bely en erken sy sonde (dis onmisbare elemente in ons redding!)... maar vanuit die Vader se oogpunt is dit amper ‘n bysaak. “Ja, ja, ja ek hoor jou, maar kom ons vier fees!” (Kyk hoe word die element van feesvier beklemtoon in vers 23,24)

Terugkerende sondaars kry ‘n  omhelsing van God. Volkome vergifnis! Volkome aanvaarding! Volkome vreugde!

Waarom wag jy? Waarom is jy bang of skaam? Wat hou jou terug? Om nog net een uur in die varkhok van sonde te sit is ‘n vermorsing van vreugdetyd wat jy kon beleef het. Staan op, gaan na jou Vader, Hy wag reeds vir jou... Hy het reeds sy liefde aan die kruis bewys deur Jesus Christus.  Hy nooi jou uit : “Kom nou laat ons die saak met mekaar uitmaak...”  (Jesaja 1:18)
“Ja, maar ek het eens op n tyd sy liefde en beleef by my bekering, maar het weer afgedwaal. Ek is 'n ware ‘backslider’, ek het my genadekanse weggegooi”, maak iemand beswaar. Vriend, hierdie boodskap is juis vir jou. “Kom terug kinders wat afgedwaal het...” (Jeremia 3:14)

Staan op, kom na die Vader, vind vergifnis en vier fees in heiligheid en reinheid!

*Johan Celliers
** Die feit dat ek Yancey aanhaal impliseer nie dat ek noodwendig met al sy sienings in sy werk saamstem nie.

Donderdag, 09 Augustus 2012

KYK NA DIE KONTEKS

- baie belangrike beginsel vir Bybellees.

Die Bybel is ‘n boek. Weliswaar ‘n absolute unieke boek, God se Woord. Ons kan sy boodskap net begryp deur die leiding van die Heilige Gees.  En tog is dit steeds ‘n boek met gewone letters, woorde, sinne, paragrawe... Dis eintlik ‘n klein bibliotekie van boeke, wat aanmekaar gebind word deur een storielyn en een Outeur. Maar nietemin, dis ‘n boek wat dus gelees en verstaan moet word. En ja, dan moet dit gehoorsaam word, want dit dra absolute gesag, juis omdat dit God se openbaring is.

So dikwels interpreteer mense die Bybel op ‘n dwase manier en maak onsinnige gevolgtrekkings, omdat basiese leesreëls nie gevolg word nie. Ek wil net dat ons na een so ‘n onmisbaar belangrike reël kyk : 

LEES DIE BYBEL IN  KONTEKS.

Hoekom is dit so uiters belangrik?  In die Bybel sal jy die volgende selfstandige  sinnetjie kry : “daar is geen God nie.” (Psalm 14:1 ) Nou hoe nou? Wil die Bybel ons dan nou aanspoor tot ateïsme? Wie hierdie  uitspraak  geïsoleerd verstaan, kan maklik tot so ‘n dwase gevolgtrekking kom. Maar kyk ons eerlik na die konteks is die boodskap iets heeltemal anders. Dan sien ons dat hierdie woorde uit die mond van ‘n dwaas kom. Dan word die Bybelse boodskap duidelik. Ateïsme is sotlike dwaasheid! 

Die onmiddelike konteks van ‘n Bybelse uitspraak is dus van uiterste belang vir die regte verstaan van die betrokke gedeelte.

Maar ons moet ook verder kyk na die konteks van die bepaalde paragraaf of strekking van die Bybelboek waarin ‘n teksgedeelte voorkom. ‘n Teks wat maklik misbruik kan word om die toelating van die vrou in die lerende amp te regverdig is die uitspraak van Paulus in Galasiërs 3:28 “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie, in Christus Jesus is julle almal een.” Die konteks wys, dit gaan hier oor die kwessie van vryspraak deur die geloof alleen. (Vers 24) Die geheelboodskap van Galasiërs bevestig dat die geloof in Jesus genoegsaam is en dat ons nie meer die wet (besnydenis) hoef te onderhou nie. Paulus se uitspraak hier mag dus nie bygesleep word in ‘n debat oor die vrou in die amp nie. Dis laat nie reg geskied aan die konteks nie. In ander briewe laat Paulus homself wel duidelik uit oor hierdie vraagstuk.

Deur na die konteks van ‘n gedeelte te kyk kan ook baie skynteenstrydighede in die Bybel opgelos word. In 1 Johannes 4:8 lees ons : “God is liefde.” en in Hebreërs 12:29 blykbaar ‘n botsende uitspraak : “ons God is ‘n verterende vuur.” Wie na die onderlinge kontekste kyk behoort glad nie verwar te word nie. In 1 Johannes gaan dit nie oor ‘n allesomvattende beskrywing van God nie, maar oor die noodsaaklikheid dat Christene, God nie kan dien sonder liefde vir mekaar nie. Dis ‘n onmoontlikheid wil Johannes ons laat verstaan, want God self is dan liefde! Net so gee die uitspraak in Hebreërs ook nie ‘n volledige beskrywing van God nie. Wie die konteks nagaan sal sien die skrywer roep met erns sy lesers op om sorgvuldig na God te luister. Ons word geroep in die konteks van die Nuwe Verbond, maar dis ‘n ernstige saak. In die geval van die Ou Verbond by Sinaï het God  Hom bekend gemaak op ‘n angswekkende wyse as ‘n heilige verterende vuur. Hy is dit nog steeds, vir mense wat die Nuwe Verbond in Jesus verwerp. “So, pasop!”, wil die skrywer ons waarsku, "God laat nie met Hom speel nie!." 

Nie net is die omliggende konteks van bepaalde paragrawe of die hoofstrekking van ‘n Bybelboek belangrik nie, maar ook die geheelkonteks en storielyn van die Bybel as geheel. So kan iemand wat eerlik en opreg die Bybel van vooraf lees tot die gevolgtrekking kom dat ons bloedoffers moet bring en die besnydenis moet toepas. As mens egter die Bybelse storielyn in ag neem en raaklees dat die Godsopenbaring ‘n finale hoogtepunt bereik het in Jesus Christus (Hebreërs 1:1-3), dan is dit maklik om te verstaan dat alle bloedoffers en bloedige tekens afgeskaf is, aangesien Jesus se eenmalige offer voldoende versoening was vir elkeen wat Hom as Verlosser aanvaar het. Dieselfde geld vir iets soos die Sabbat. Ongetwyfeld is die Sabbatsgebod van sentrale belang in die Ou Verbond. As mens egter die geheelkonteks van die Bybel verstaan, besef ons dat die Sabbat slegs ‘n tydelike padteken was, wat na Jesus heengewys het. Nou dat Jesus gekom het en vir ons ware rus bring, het die teken sy funksie verloor en mag niemand ons meer hieroor oordeel of voorskryf nie. (Kolossense 2:16,17)

PASOP : Een van die kenmerke van dwaalleraars  is dat hulle graag stringe Bybeltekste uit konteks en verband aanhaal. Dan kan mens natuurlik die Bybel enigiets laat sê wat jy hom wil laat sê.

Om die geheelkonteks en storielyn van die Bybel beter te verstaan, lees gerus LUGFOTO VAN DIE BYBEL. (3 dele)

Erkenning aan : Dr. J. Van Bruggen, HET LEZEN VAN DE BIJBEL

Woensdag, 08 Augustus 2012

BAIE DANKIE/VIELEN DANK

- mein Glas ist nicht nür halb voll.

Baie dankie en baie welkom aan die besonder baie besoekers aan hierdie Blog die afgelope paar dae! Ongelooflik! Ek hoop julle geniet dit en vind  groot seën, vreugde en vertroosting. (Net soos die vreugde wat ek beleef deur hierdie Blog te skryf)

Omdat die evangelie die Blye Boodskap is van dit wat Jesus deur sy kruisdood en opstanding vir ons as sondaars kom doen het, is ‘n ware grondige blydskap deel van die basiese Christelike belewenis. Dis ‘n blydskap wat die wêreld nie ken en verstaan nie. Dis ‘n blydskap gebou op God se standvastge en heerlike beloftes wat waar word in Jesus. Juis omdat ons vreugde, ‘n stroom blydskap is wat ons uit die onuitputlike Bron, Jesus self ontvang, het God se kinders nie nodig om dit by bedenklike oorde te soek nie. Psalm 141:4  is so treffend en veelseggend :

 “Hou my gedagtes weg van verkeerde dinge, dat ek nie in sonde verval saam met manne wat onreg doen nie, en dat ek nie deelneem aan hulle feeste nie.” ("...ich mag nicht essen von ihren leckeren Speisen")

Die kind van God wat kan bely : "Die Here is my Herder" ondervind dat God self vir hom 'n fees berei. "U laat my by 'n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos 'n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid."
(OAV - "my beker loop oor!!!") Psalm 23:5

Die kind van God se blydskap is ‘n blydskap in alle omstandighede. Ons is bly al huil ons ook soms. Daarom kan Paulus verklaar : “In al ons sorge is ek vol moed en oorstelp van blydskap.” (2 Korintiërs 7:4) Dis ‘n unieke soort van blydskap. Dis bonatuurlik en altyd blywend, en dalk nog vreemder - dis ‘n blydskap wat floreer op beledigings wat ons te beurt val ter wille van Christus. Ja, jy het reg gelees. Jesus stel dit so duidelik in Lukas 6:22-23 

“Geseënd is julle wanneer die mense julle haat en julle verstoot en uitskel en julle naam vermy soos iets wat sleg is, alles ter wille van die Seun van die Mens. Wees bly op daardie dag en spring rond van vreugde, want vir julle is daar groot beloning in die hemel.”

So gesien is alle kinders van God se glase nie net half vol nie, maar oorlopens toe vol! Altyd!

Baie gelukkig en vol vreugde  hier op Tsumeb.
Johannes

Sondag, 05 Augustus 2012

KARNAVAL

- fees van die vlees.

Tsumeb moes verlede week die jaarlikse karnaval verduur. Tsumka. As Christen wat in hierdie pragtige dorp woon mag ek nie daaroor stilbly nie...

Wat die agtergrond  van die woord “karnaval” betref is daar nie duidelikheid en eenstemmigheid nie. Volgens sekere volksetimologieë kom dit van die Laat Latynse uitdrukking “carne vale” wat beteken afskeid van die vleis en sou dit dui op die laaste dae voor die vastyd van Lydenstyd, waartydens mens volgens Rooms Katolieke gebruik nog toegelaat is om vleis te eet. Die woord “carne” kan ook met vlees vertaal word, wat dan sou neerkom op ‘n “afskeid van die vlees” iets wat deur sommige deelnemers aangegryp sou kon word om vir oulaas hulle ou sondige self te wees tydens die fees. Teen hierdie verklarings sou mense besware kon inbring en oor die oorsprong sou mens kon debatteer, maar   wat wel duidelik sigbaar is vir alle waarnemers van die drinkende rasende menigte,  is dat die sondige vlees (ou natuur) van die mens hier besonder geesdriftig gedien word. 

Kan ‘n Christen deelneem aan hierdie aanbiddingsparade vir Bacchus? Laat die Woord vir ons die antwoord gee :

Galasiërs 5:19-21 “Die praktyke van die sondige natuur (werke van die vlees - OAV) is algemeen bekend : onsedelikheid, onreinheid, losbandigheid, afgodsdiens, towery, vyandskap, haat, naywer, woede, rusies, verdeeldheid, skeuring, afguns, dronkenskap, uitspattigheid en al dergelike dinge. Ek waarsku julle soos ek julle al vroeër gewaarsku het : Wie hom aan sulke dinge skuldig maak, sal nie die koninkryk van God as erfenis verkry nie.”  

“Ja”, sal party teenkap : “Moet ons nie maar ‘n positiewe bydra probeer lewer nie?” Die Bybelse raad in Efesiërs 5:10-12 wat God aan sy kinders gee laat geen twyfel nie : “Vra julle voortdurend af of iets vir die Here aanneemlik is en moenie meedoen aan die vrugtelose praktyke van die duisternis nie... dis ‘n skande om selfs te praat oor die dinge wat die ongehoorsame mense in die geheim doen.”   As ons nie eens daaroor mag praat nie, hoe durf ons saamlag vir die dronkmanskaskenades en hoe kan ons saamry met vlotte vol vulgêre slagspreuke?  (En nog ons kinders ook daarop laai?)    

Is kinders van God dan ‘n klomp suurgesigte en dikbekke wat teen blydskap gekant is? Nee, verre daarvandaan!

 Christene is beslis nie teen feesvier nie, inteendeel dis ons opdrag. 

Maar dis ‘n ander fees met ander waardes soos waartoe 1 Korintiërs 5:8 ons duidelik oproep :”Laat ons dan feesvier, nie met die ou suurdeeg of met die suurdeeg van onsedelikheid en ander sonde nie, maar met die ongesuurde brood van reinheid en waarheid.”

Ja, God se kinders het vanoggend weer feesgevier toe ons Hom in die erediens geloof en geprys het. Wat ‘n vreugde is dit elke Sondag en ‘n voorsmaak van die ewige Fees waarheen die bloedgewastes van die Lam oppad is!



NS As ons dan karnaval wil hou, laat ons dit eerder doen soos die beroemde Italiaanse morele hervormer, Girolamo Savonarola. Gedurende die karnaval van 1496 in Florence het hy dit omskep in ‘n Fees van Boetedoening. ‘n Groot vuur is aangesteek vir die verbranding van allerhande “ydelhede” soos dobbeltoerusting en slegte boeke. Maar pasop, sy hervormings en dapper optrede teen goddeloosheid, het hom uiteindelik sy lewe gekos!

Vrydag, 03 Augustus 2012

GERAAMTES WAT RAAS

- maak ‘n Christen se verkeerde verlede nog saak?  

Maak my verlede nog saak? Daardie gruwelike geraamtes in die kas? Spesifiek nou, as ek ’n kind van God geword het, moet ek nog nadink oor my verlede, moet ek al die sondes en mislukkings onthou, moet ek daarmee rekening hou? Elkeen van ons het ’n donker verlede! Ja, ja, elkeen... ons is mos in sonde gebore en ons het almal aktief sonde gedoen. Ons het oortree teenoor God en teenoor ons medemens! Ons het almal dinge gedink, gesê en gedoen waaroor ons (as ons kinders van God geword het) nog steeds skaam is! Deur ons sondige besluite het ons dikwels onherroeplike  skade aangerig aan onsself en aan ander. En ja, ander se sonde het ook weer letsels op ons gelaat.

Ek vra hierdie vraag spesifiek as kind van God : Maak my verlede nog saak as ek ’n  vrygespreekte kind van God geword het? Die antwoord is NEE, maar die antwoord is ook JA! Dis baie belangrik vir elkeen se geestelike gesondheid en vreugde om te verstaan waarom die antwoord NEE is, maar dis net so belangrik om ook te verstaan waarom die antwoord, JA is!

Kom ons kyk na die perspektief wat twee gedeeltes uit die Hebreërs brief vir ons gee:

~ Eerstens die NEE antwoord. Maak die kind van God se verlede saak? Die antwoord is NEE. Hoekom nie? Hier in Hebreërs  8 word die heerlike implikasies van die Nuwe Verbond verduidelik en vers 12 stel dit baie duidelik oor hoe God  oor ons sondige verlede voel.

 “Oor hulle ongeregtighede sal ek genadig wees en aan hulle sondes nooit meer dink nie.”

 Geliefde, verstaan dit mooi : As jy jou vertroue as sondaar op Jesus gestel het, as jy nie meer staatmaak op jou eie prestasies nie, maar op Jesus se offer aan die kruis, dan sê God vir jou dat Hy nooit meer aan jou sondes dink nie. Dis die gevolg van die vryspraak wat ons ontvang as ons Jesus aanvaar as Verlosser en Middelaar - ons sonde, ja ook al die aakligste sondes en gruwelikste mislukkings van die verlede word glad nie, hoegenaamd nie, meer teen ons gehou nie! GOD DINK NIE EERS MEER DAARAAN NIE! Ons oortredings bestaan nie meer in God se boeke nie! Dis uitgewis vir eens en altyd! Al die beskuldigings teen ons is eintlik alreeds by die kruis vernietig! (Kol 2:14) Daarom kan Paulus so duidelik verklaar in Rom 8:1 : “Daar is dus nou geen veroordeling vir dié wat in Christus Jesus is nie!” As jy in Jesus is, sien God  jou as ’n volmaakte skuldlose  mens! Ek hoef dus nie meer skuldig of minderwaardig te voel nie!

So : Maak die kind van God se verlede nog saak, moet ek nog daaroor tob en bekommerd wees? Wat betref ons nuwe status voor God, is die antwoord ’n baie duidelike NEE!

~ Maar nou die JA antwoord. In Hebreërs  12:1-3 is dit baie duidelik dat die Christelike lewe met ’n wedloop vergelyk word.   Dit gaan dus hier oor mense wat reeds vergewe en reeds vrygespreek word. Maar nou word hierdie Christene (en ons) sterk aangemoedig om al die "laste en sonde wat ons so maklik verstrik" en ons wedloop belemmer, af te gooi! Hoor nou mooi : Ja, God dink nie eers meer aan ons sonde nie, Hy hou dit glad nie meer teen ons nie, maar in ons elke dag se Christelike lewe is dit nodig dat ons sekere oorblyfsels van ons sondige verlede moet afgooi sodat ons die Christelike wedloop met sukses kan voltooi! Ons sondige verlede, agtergrond en neigings is ‘n belemmering vir ons geestelike wedloop.
In hierdie opsig is dit duidelik dat ons sondige verlede wel saakmaak en dat ons beslis daarmee moet rekening hou!

Die punt is : Daar is oorblyfsels van ons sondige verlede, daar is gevolge van ons sondige natuur en agtergrond, wat nog steeds ’n effek op ons het! 

Ons moet dit weet en ons moet iets daaraan doen! Ons sondige agtergrond, ons ou sondige lewenspatrone beïnvloed steeds  ons daaglikse lewens as Christene in ons persoonlike lewe, in ons huweliks en gesinslewe, in ons verhoudinge by die werk en in die gemeente!          

 Kom ons raak prakties met enkele voorbeelde :

Ons het almal ’n onvolmaakte sondebevlekte opvoeding gehad (ja, ek weet by verre die meeste mense wat hier lees het ’n baie goeie Christelike opvoeding gehad, maar ons weet ook ons almal se ouers was ook net mense en het ernstige foute gemaak met ons opvoeding al het hulle dit nie bedoel nie.)   Jy het dalk selfsugtig grootgeword en altyd jou sin gekry... nou word jy ’n Christen en die Here het al daardie selfsug en al daardie  vloermoere vergewe! Maar weet jy wat, daardie selfsugtige neigings dra jy nou in jou huwelik in... nou verstaan jy nie : “Ek is dan ’n Christen en my vrou is ’n Christen, maar hoekom sukkel ons so, hoekom is daar soveel konflik?”  Dis dan wanneer jy moet besef : My verlede maak saak! Ek moet ernstig daaraan aandag gee en hierdie selfsugtige neigings uitroei met die krag van die Heilige Gees!

Dalk het jy grootgeword met ’n alkoholis pa wat altyd gelieg en bedrieg het of ander ongelukkige huislike omstandighede. So het daar ’n diepgewortelde wantroue teenoor ander mense in jou lewe ontstaan... Jy het intussen ’n kind van God geword, maar in jou agterkop dra jy nog hierdie wantroue rond en jy vertrou niemand nie, jy is oorkrities op ander mense. Hierdie wantroue het ’n effek op jou huweliksmaat, jou kinders, jou werksmense... Jy moet besef, jou verlede maak saak! Deur die Heilige Gees en dalk met behulp van Christen vriende sal jy moet leer om van hierdie kritiese gesindheid van wantroue ontslae te raak.

Moontlik is daar een of ander verslawing of hardnekkige gewoonte vanuit jou verlede... pornografie, nikotien, vloek, allerhande vrese... noem maar op. Toe jy ’n Christen geword het, het God jou op een oomblik als vergewe. Jou verlede maak nie meer saak nie, want God aanvaar jou volkome as sy kind! En tog maak jou verlede saak, want dit werk nie altyd so dat hierdie verslawings en gewoontes  onmiddellik gebreek word nie. (Anders sou sulke opdragte soos hier in Hebr 12 mos nie nodig gewees het nie) Dis waar baie Christene die fout maak en in ontkenning leef : “Ag, ek is nou God se kind en als is wonderlik!”  Maar dis nie waar nie! Daar is nog laste en sondes wat ek moet aflê! Deur die kragtige werking van die Heilige Gees, deur gebed, deur die Woord, deur die hulp van ander Christene moet ek ontslae raak van hierdie verslawings en ou patrone uit die verlede. In hierdie opsig maak my verlede saak en moet ek dit hanteer!

Miskien is jy deur die hartseer van egskeiding, dalk het jy weer getrou. God het jou al jou sondes op hierdie terrein vergewe, maar in jou daaglikse wandel met Hom en ander mense sal jy moet rekening hou met die gevolge van hierdie verlede. Om byvoorbeeld in ‘n hersaamgestelde gesin te leef, met ontwrigte kinders wat seergekry het is nie so eenvoudig nie en verg baie geduld, gebed, aanpassing en volharding. Jy gaan dalk ook die hulp nodig hê van ervare en kundige medegelowiges om jou te begelei. Dis normaal. Moenie skaam wees daaroor nie. Vertrou bo alles die Heilige Gees om jou te help om aanpassings te maak en verdraagsaam te wees met jou huweliksmaat, gesin en familie.

Voor my bekering het ek dalk baie mense te na gekom en skade aangedoen. Wanneer ek Jesus aanvaar word al hierdie misdade vir my volkome vergewe. Maar nou moet ek realisties wees. Ek sal waar nodig en waar moontlik  ook hierdie verontregte mense om verskoning moet vra en dinge moet regstel, anders sal my getuienis ongeloofwaardig en kragteloos wees. Ek kan nie maar net aangaan asof hierdie slegte dinge nooit gebeur het nie.

 In my daaglikse stryd moet ek rekening hou met die effek wat my ou sondige lewe nog op my kan hê en dit dan deur die vernuwende krag van die Heilige Gees hanteer!

MAAK MY VERLEDE SAAK?

Kom ons vat net weer saam. Kind van God, wees verseker God het jou heeltemal vergewe, NEE, jou verlede maak nie saak nie! Dank God en wees bly!

Kind van God, ons is besig met ’n harde wedloop, daar is laste en sondes wat uit ons verlede voortkom, JA, ons verlede maak saak, ons moet dit besef en ons moet dit hanteer soos God  se Woord vir ons voorskryf. Laat ons eerlik wees en mekaar hierin help! Laat ons bo alles die oog hou op Jesus! 

Wat betref ons status  voor God en ons aanvaarding by Hom  speel ons verlede genadiglik hoegenaamd geen rol nie! Die kruis van Jesus het daardie verlede vir eens en vir altyd uitgewis. Wat betref my daaglikse keuses, besluite en stryd, moet ek deeglik rekening hou met die gevolge en oorblyfsels van my vorige sondige leefwyse. Gelukkig, deur die krag van die Heilige Gees kan ek oorwinnend daaroor leef. 

Om dit teologies korrek te stel : Wat ons vryspraak (justification)  betref, maak ons verlede glad nie saak nie! Wat ons daaglikse stryd van heiligmaking (sanctification) betref, maak ons verlede saak en moet ons eerlik daarmee rekening hou en daaraan werk! Daartoe stel God sy kinders instaat, deur die bekragtiging van die Heilige Gees!

Woensdag, 01 Augustus 2012

BOESMANS TOT BEKERING


- terugblik op Tsumkwe, 1973.

Die deurbraak van die evangelie onder die Boesmans (San) op Tsumkwe was een van die hoogtepunte van my Pa se jarelange sendingwerk in die toenmalige Suidwes. Hy was destyds in diens van die Dorothea Sending toe hy daar ‘n evangelisasieveltog saam met ds. Ferdie Weich van die NG Kerk gehou het. In sy voorwoord tot die  boekie waarin Pa die gebeure vertel, het Oom Hans von Staden, die destydse leier en stigter van die Dorothea Sending onder andere as volg geskryf : “ Wanneer ons lees hoe God  Ds. Weich gelei het om Johan de Koning, ’n werker van die Dorothea Sending, uit te nooi om ’n evangelisasie veldtog onder die Boesmans te hou is dit asof ons, ons skielik êrens in die bladsye van die boek Handelinge bevind.  Dit is ook asof God sy seël geplaas het op die gees van eensgesindheid wat daar geheers het...Wanneer die heerlike oorwinning  te Tsumkwe verder bekend word, sal dit as ’n magtige aansporing dien vir elke ware sending poging dwarsdeur die wêreld.  Dit is ’n absolute oortuigende bewys daarvan dat Christus se groot opdrag vandag nog net so van toepassing is as wat dit op daardie eerste dissipels was Matt 28:19 ‘Gaan dan heen maak dissipels .... en kyk Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld.’ ”

So ‘n tyd terug het my vrou, Jacolette hier in Tsumeb gemeente se ou notules en lêers rondgekrap. Tussen al die papiere was daar ook ‘n oorspronklike nuusbrief wat ds. Weich na die Tsumkwe veldtog van Augustus 1973  uitgestuur het. Ek plaas dit woordeliks. Dit neem die gedagtes ver terug...

KOM DEEL IN ONS VREUGDE
(Spesiale nuusbrief i.v.m. die veldtog onder die Boesmans op Tsumkwe)

‘n Tyd gelede het ek ‘n droom gehad. Ek het voor ons ou plaashuis op Drierivier in Namakwaland gestaan. Ek was bekommerd omdat dit al so lank nie gereën het nie. Hoër op teen die berge was die waterval waar die bergklofie tussen die berge deur afkom. Ek het opgekyk en tot my groot verbasing merk ek dat daar water by die waterval afkom. Toe ek hoër op kyk merk ek dat die reën vaalgrys tussen die berge neersif. Ek onthou die ou sanddammetjie wat ek in die bergklofie gemaak het. Dan staan ek langs die stroompie en skielik groei dit tot ‘n magtige stroom.

In hierdie dae het hierdie droom waar geword. Dinsdag 14 Augustus het mnr. Johan de Koning en ek met die veldtog begin. Smôrens het ons vir die werkers diens gehou. Voormiddag en namiddag het ons die krale besoek, die mense genooi om na die dienste te kom en boodskappies gebring. Groot was ons vreugde reeds die eerste aand toe ons ‘n pragtige opkoms gehad het. Die mense het met erns geluister. Elke aand was ook dít opnuut weer ‘n wonder van die Here in ons oë.  Verder was ons diep getref deur die erns waarmee die mense geluister het. Sal ons Donderdagaand ooit vergeet? Dit was so stil in die skuur dat jy ‘n speld kon hoor val.  Wanneer ‘n kindjie gehuil het, het die moeder opgestaan en buite gaan staan met die kindjie tot  hy weer stil is en dan weer ingekom. Doodstil het hulle opgestaan en geloop toe ons klaar was met die diens. Vanaf Donderdag oggend het twee ou manne wat albei die naam Bo het, gereeld gekom - oggend en aanddiens. Eers het net ‘n paar kinders in die oggend gekom, maar geleidelik het al meer van hulle na die oggenddiens ook gekom.

Sondagmôre het gekom. Die Here het díe môre ‘n besondere boodskap op Johan se hart gelê. Hy het as teks geneem, Jes 44:18, Sag 3:1-5, 2 Kor 4:3,4 en Hand 26:17,18. Dit gaan in hierdie gedeeltes oor die wyse waarop die duiwel die mens verblind en bind en met vuil klere bekleë terwyl die Here ons oë wil open, ons wil vrymaak en  met skoon klere wil bekleë. Johan het toe vir Bo (‘n jong man), geneem en hom voor laat staan. Hy het sy oë toegebind, sy hande vasgebind, sy arms en bene vasgebind, en hom vuil klere aangetrek. Toe het hy vir die mense gesê : "So sê die Woord van die Here, so verblind die Satan ons oë en so bind hy ons met die toue van sonde en lei ons na die verderf. Maar Christus wil ons oë oopmaak dat ons kan sien - sien hoe lyk ons en hoe het die Satan ons gebind."  Hy het toe die doek van Bo se oë afgehaal. Bo het afgekyk en net sy kop geskud. "Ja, so lyk ons maar as die Here nie ons oë open nie, weet ons nie hoe ons lyk nie. Maar Christus wil ons vrymaak." Een vir een het Johan die toue losgemaak en vir hom ‘n skoon wit kleed omgehang. Hierdie woord het diep ingegaan.

Sondagaand het die twee ou manne Bo en Bo, agter gebly en gesê hulle wil graag die pad van die Here Jesus loop. Stamelend het hulle gebid  - hulle eerste gebed - en die woorde telkens herhaal : "//’Eihha, wi mi." (Here, help my). Ja, hulle wil Jesus hê dat hulle ook kan vry word van die bande van Satan. Maandagaand het /Usce gekom, Dinsdagaand het sewentien seuns agter gebly. Woensdagaand het ‘n groot klomp seuns en dogters agter gebly. Dit was by hulle ‘n saak van erns : "Ons wil Jesus Christus hê, hier by ons hart. Ons wil nie meer die duiwel hê nie." Daar het ook ander mans en vrouens gekom. Byna al die vrouens van die twee ou Bo’s se kraal het gekom. O, hoe groot is die vreugde en blydskap wat algaande meer sigbaar geword het op die gesiggies van die kindertjies. Hulle het nou saans en smôrens gereeld gekom en altyd was die ogies en oortjies vasgevang deur die Woord. Elke aand het hulle gesing en sommer so diep in ‘n mens se hart ingekruip met die pragtige sang. Waar ons veral gebid het dat die mense ook die erns van die saak sal besef, was ons bly vir die toenemende sondebesef en sondebelydenis.

Tot Maandagaand het daar nog elke aand nuwes bygekom - nou reeds 100 van hulle. Enkeles het weer weggebly, maar by die meeste was dit ‘n saak van erns. Ons het nou bedags diegene besoek wat reeds gesê het dat hulle nou die pad van die Here wil loop. Ons het met die kindertjies alleen gesels om vir hulle te leer wat bekering is. En telkens weer staan mens verstom vir die werking van Gods Gees in die harte van mense.

En so deur die wonderwerkende krag van die  Almagtige is na byna twaalf jaar, ‘n gemeente van die Here oornag gebore. Vele het saam hieraan gebou en baie het hiervoor gebid, maar dis Gods genade wat ons hierdie vreugde laat smaak. En nou moet u nie ophou om te bid nie. Voeg net ‘n dank en loflied by u gebed, want die seën van die Here het ‘n magtige stroom geword.
                                                                                                   F.H.Weich


Baie jare later, in 1990 was ek na die voltooiing van my dienspligtydperk op Mangetti Duin vir ‘n tyd lank ook werksaam op Tsumkwe en omgewing. By ‘n kraal naby die bekende Holboom, het ‘n ou man my vertel : “Jou, pa, het my leer bid.” Wat ‘n wonderlike getuienis! Baie verandering en ellendes het deur die jare oor die Boesmans gespoel, daar was ook baie terugslae en teleurstellings, maar tot vandag toe gaan God se werk nog voort.  Die gemeente op Tsumkwe staan steeds. Kom ons bid vir hulle.


Johan de Koning (links) en ds. Weich op die agtergrond.


/Goma is in sy jong dae deur 'n buffel aangeval en het wonderbaarlik aan die dood ontkom. (Hierdie foto is in 1983 geneem)